![]() Karen Kuhn was betrokke by die Afda filmskool in Kaapstad waar sy o.a. klasse in die skryf van ’n draaiboek aangebied het. Sy het haar MA in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Die akademiese besinning het gehandel oor die alchemistiese transformasie wat in enkele gedigte van Sheila Cussons plaasvind, hierdie proses is gekoppel aan die hand van C. G. Jung se teorie. Meeste van die verse in haar debuutbundel, Ingeboek, is dan ook tydens die periode geskryf. Van haar gedigte word opgeneem in Versindaba 2010 en Pomp II. In 2020 word haar gedig ‘Frokkie’ in Vers en vrou opgeneem. [4] Sy vertrek in Maart 2012 na Poznań in Pole toe waar sy Afrikaans en Afrika Studies by die Adam Mickiewicz Universiteit gaan doseer en ook terselfdertyd inskryf vir haar Ph.D. |
My adres
My vinger volg die letters:
D E N M A R
op die kussingsloop,
pantoffeltreë sleep
gangaf en iewers
lui ‘n badtydklok.
Maar vanaand ontsnap
ek in my aandrok
na buite, ek knik
en kla oor rentekoerse,
wonder oor Plett-pryse
en wat haar eintlike gewig is.
Terug onder kliniese lakens,
tussendeur saalgeluide
en verdoofde denke
is ek mal
daaroor om letters
te skok en te doseer:
Myself te sertifiseer.
Op parool
In hierdie Crescent Clinic
word ek daagliks geleer
om te weet:
Staan soggens op,
wees betyds,
trek paslik aan,
slaap 8 ure,
eet drie maal.
Bestuur jou lewe
matig en gebalanseerd.
Met ontslag, leer
my tog die waansin
in die woorde: Ek wéét.
Fotograaf
Jy is ‘n album
wat my foto’s dra,
ek blaai terug
verby verlore aande
met swak beligting
en rooi oë tot ek
weer sien:
By geboorte
word ‘n kamera
vir my geskenk.
Jy het nog oop bladsye,
ek kan nou self besluit
hoeveel lig in môre
se donker moet ontwikkel.
(Gedigte uit: Ingeboek, Griffel, 2012)