![]() Lucie Möller promoveer in 1987 aan die Universiteit van Natal met ’n proefskrif oor die inheemse tale se invloed op die naamgewing in Namibië. Vir die afgelope dertig jaar publiseer sy plaaslik en internasionaal boeke, artikels en referate oor naamgewing. Enkele titels is byvoorbeeld A World of Names, Changing Place Names in Southern Africa, en Plekname in die verhale van Herman Charles Bosman. Vanaf 1999 tot 2007 verskyn van haar gedigte op LitNet se PoësieNet en die Engelse PoetryNet. Van haar gedigte verskyn in versamelbundels en op die CD Klikspringer, saamgestel deur Ian Raper (2005). Haar debuutbundel, Watermerke, verskyn in 2009 by Protea Boekhuis. ’n Groot deel van die gedigte het haar Bosveldplaas in die Waterberge as agtergrond, alhoewel die studies wat sy oor plekname in Suid-Afrika en Namibië onderneem het, die inspirasie tot ’n aantal ander verse was. |
Naaldekoker
Vir Johan, die fotograaf
Daar sit jou naaldekoker pas geland
tussen geel blare op ’n klip
in ‘n kloof met rotspoele
ingeprent op die voorblad,
sy siddervlug oor die kuile
net ‘n nabeeld op jou lens.
Sy blou lyf en deurskynvlerke
gigabyte nou op elke skerm:
aanhoudend, diafaan
die kuberruimte in.
Herfs en winter was af
en die stof van ‘n vroeë lentedraf
vloei in afvoerpype en geute weg
oor die plaveisel tot in die pad,
en my stoepie: dié versamelplek
van ewig laat verwaaide herfsblare
wat te lank nog wou klou
soos die gesponne goed in die hoek:
die kortkatrol van ‘n rooiviool
‘n hotnotsgod se goue kokonne.
En nóg het Augustuswinde skaars begin,
maar stilweg is ek tog bly
oor die effense son
wat my huis se suiderhoek
begin kruis, en die eerste tekens
aan die prieel:
lootstotende knoppe.
Kango
waar die waterige oog
terug eb deur die fyn vag
van varings en fynbos
in spelonke van die harsings in
is die kalkwond deursypel
tot poele op ‘n grotvloer
waarin druppels lig en silwerig
soos vislywe roer
met oë rond gebult
en blink teen die ragwerk
van ‘n druppende berg van bo.
© Lucie Möller. November 2009
Groentesop-legendes
Binne die wit porselein kom
skommel pak-choi
groentesop:
groen, geel en rooi peper-repe,
rissiepit en ryswyn
druis uit die wit kom.
Buite die blou wilgerblaar-patrone
vlug ‘n duiwepaar benoud
uit onder die brug.
Rigtingwysers
waar die Suiderkruis kruis
is daar geen lig nie
net ’n duisternis tussen sterre
waarvan ligjare kruis
en vir ons die roete wys
na die verste punt van ‘n vasteland
waar ons ankers in seeslik sink
met dié rigsterre mik ons
na die diepste pool
van ’n donker hemel
se donker nis
die Suiderkruis hang
tussen twee pare sterre
waarvan ligjare kruis
Salah al din
Op die Saraseen se stadsmuur
staan Salah al din
met sy hande gekruis
oor die simitaar.
Hy kyk met skrefiesoë
en gesig skerp soos ’n meerkat
stip na die Weste.
Stof slaan op met die oostewind,
en perdespore van ongelowiges
en kruisvaders verwaai
van die laaste oase en duin.
In die tempeldeur tel hy
’n staankruis van die vloer af
op en plaas dit terug
by die ark en altaar
van waar elke siel
veilig gaan vertrek
na sy eie hawe.
Sending van die Enola Gay
’n Silwer
en skoon hemelruim
skyn deur newels en wolkevlies.
Aluminiumvlerke en verkennende staal
met letters en syfers: versluierde sendingmerk
stel tot presies heilige roeping die vlugvisier
vir die blitsige uitwissingswerk.
Pilare van wysheid en denke
swig in versmorende puin
gebolwerpte wolke stol
as die gewraakte
droom spat
tot rook
stof
en
as.
Inkkol
aan die pen
bo die inkpot hang
vol donker, blink verwagting
’n druppel swart ink:
Sal hy vloei
in fyn sillabiese lyne,
of kom lê
in brëer kalligrafie
verdroog en stol
op ’n wit kimono in Kyoto
of hurk met die inkswart rawe
in ’n herfsgeel tuin
en versmelt met die teerpad
in ’n nagswart Nagasaki.
Kaartkamer
Ek volg jou met die trap af kelder toe.
Terwyl ek huiwer in die deur, sluit jy slotte oop,
lig die deksel van die kaartkabinet.
Ons soek ou name op verslete kaarte,
blaai deur voorlopige verkenningstogte
van ’n voorlaaste bewind, in die kantlyn
gemerk met rooi ink: “Restricted/Beperk”.
Op dié geklassifiseerde weergawes,
voor die afknak van verpulwerde hoeke,
en al die versluierde grensoorgange, toegange,
tussen brokkies inligting, kry ons uiteindelik
’n sleutel, ’n spoor vernuftig gekamoefleer.
Waar jy oor die staallaaie van kabinette buk,
sien ek hoe span jou rugspiere stram;
snak iets in my keel.
Jy kom weer regop, sprei die landsplooie
op kaarte oop, vee dit plat met jou kalm hande:
oorlogstuig oor bruin duine.
Jy wys my hoe bereken mens plasing in vierkante:
grade, minute, sekondes;
afstand en rigting, belyning van hoogtes, isobare:
peiling van ’n entiteit.
Ek begin spoorsny met jou vinger
oor die vergeelde kaarte van ons land;
voel hoe die blouaarriviere in jou hande opvloei
oor jou gebrande voorarms tot in jou nek,
en die rooi en blou strepe van jou das, skuins
soos ’n vlag, in my oë weerkaats
en wapper in die storms.
Ons beplan reise en bepaal roetes
oor bergreekse en passe, toegerus
verken ons terreine. Jy maak my wys
dat ’n plek sonder naam geen betekenis dra nie;
sy plasing sonder kalibrering of aanwysers,
nie eers op Google.earth gevind kan word nie,
hoe mens sélf soek kan raak sonder naam.
Dis in dié kaartkamer dat ek sien
hoeveel reise, roetes en riviere vloei nie
noodwendig na bestemmings, of mond uit in die see nie,
maar verwaad in panne en vleie en leegtes in,
gegordel en omsoom deur lyfbande
riete, pluimsade en verboste ruigtes,
bandeliere vol plofbare begin- en eindpunte
waardeur soveel bloed nog sou vloei.
Alle bekende en opgetekende legendes sou ons faal,
en die ken van ons plekke en hulle name
sou nooit weer vir ons helder word hierna nie,
asof alles net afgelees is in vlugtige verkenning,
vervloeibare en verbleekte ink
op ’n kaart in ’n kaartkamer.
Dermsnaardans
Hy het naglug in sy longe,
sterre hou op flonker
as hy sy oë lig vir die dans
teen die honger
wat hom por en dryf:
bring die lewer, bring die hart,
bring die hele bok saam,
ek hou vir jou die soet makataan.
Sy voete stamp sand tot as en stof;
trap lig oor die blomgeel maranka
op soek na die tsamma en soet karkoer
wat sy ranke rag
oor die hele woestyn.
Hy dans vanaand sy velskoene voos
in die dans van die dermsnaardans
bo teen die hoogste duin.
Hy het rook in sy longe,
sy oë traan:
sy oë sap uit soos ryp makataan.
Hy skuifelpas oor die laaste kruin,
sy spiere en senings boog oop,
sy snare span
tot sy skouers ruk en sak
met die swaar makataan.
Met die dermsnaardans
sweet sy lyf nie meer
dit syg in die sand
want daar is ryp in sy longe,
sy oë ys wit,
sy hart bars oop
soos die ryp makataan.
© Lucie Möller