Lynthia Julius is gebore op Springbok, het grootgeword in Kimberley en woon tans in Bloemfontein. Sy beskik oor ’n honneursgraad in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat en is tans (2021) besig met haar MA in Kreatiewe Skryfkunde aan dieselfde universiteit. In 2018 is sy bekroon as die wenner in die Afrikaans-taalkategorie in die AVBOB-digkunskompetisie. Uit die Kroes is haar debuutbundel. |
Kleur kom tog alleen
Kleur kom alleen as jy die enigste van jou soort by ’n party is
en een moerskont sê umlungu en die gelag bars los alom.
Hy kom die dag wat Jaco jou los oor sy pa sê hy kry nie die plaas
as hy met die bruinmeid voort nie.
As jou walle die nag in oor Jaco breek,
wat het jy dan?
Jou huile, jou alleen soos gat
(en jou kleur, jy’t altyd nog jou kleur).
Kleuralleen kom met die dosent saam wat vir jou sê
jy moet jou werk na ’n sekere uitgewer stuur,
hulle soek bruin skrywers.
Met die Zulu poeliesman wat in Jozi sê
Madam go home, madam fokkof
toe jy nie sy taal kon praat nie.
Met die boer wat sê julle is hotnos, barbare en armgatte
oor julle nie ’n hek naby sy plaas voor Grootdrink
toegemaak het nie.
Moenie vir my vertel kleur kom nie alleen nie.
Kom-alleen die kom hy
en hy maak van ’n boom ’n vuurhoutjie.
Die Jirre se make kom tot ’n klug
in ’n hart, ’n sinkhuis.
So of jy moer met kleur of nie
kleur die etter kom alleen.
*
Kroes
I have bi-racial hair because I have bi-racial blood. I’m not talking
about that cute they met and fell in love blood. I’m talking about that
slave raped six times by the master birthing six mixed babies later
hung blood – Zora Howard
Mamma sê ek moet my kop nasien
(reguit maak; gladder, dunner, witter maak)
wie nog kroes is is aspris hoor ek
daar’s genoeg Dark and Lovely en Sunsilk
om die geskiedenis uit jou hare te vee
om jou te laat vergeet watter voorouers
by die wortels van jou hare deursingdans
net ’n bietjie BaByliss hier
’n bietjie blow-dry daar
net ’n bietjie laat sy ring tog net nie in jou hare vassit
as hy sy vingers deur hulle try liefkam nie
daar was ’n tyd toe ek in Kimberley in wou pas
toe ek Engels wou praat en manne met spike hare
en wit Golfie-karre nag soen
ek was te kroes om ’n Kimberley Coloured te wees
te glad om opreg Khoi te wees
te gemeng om wit te wees
ek het uit die as opgestaan met my kroes hare, Mamma
sukkel-sukkel die krulnukke in my hare uitgekam
en met die loskomsels op die kam besef:
fok glad wees
laat sy ring maar in my hare verstrik raak
ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie
kroes is kroes
kroes word nooit tot die wortel glad nie
© Lynthia Julius/ Uit: Uit die kroes 2020