![]()
Melanie Grobler is in Warmbad (Bela Bela) gebore en het in Rustenburg, Transvaal groot geword. Sy is getroud met Piet Grobler; hulle het twee dogters en een seun. Sy het aan die Universiteit van Pretoria studeer: BA in Sielkunde en Filosofie, daarna ’n Magister Artium (cum Laude) in 1992: Kalligrafie op Geografie. ’n Konseptualisering van die skilderkuns van Nico Roos: Historiese en Kontemporêr. Sy voltooi daarna ’n doktoraal in Kunsgeskiedenis: Against fixity: a hybrid reading of Breyten Breytenbach’s art, poetry, writing, aesthetics and philisophy. Sy het verskeie kulturele projekte by die Instituut van Voortgesette Onderwys, Unisa asook die Kultuurburo van die Universiteit van Pretoria aangebied. As visuele kunstenaar het sy van 1982 tot 2002 onderrig by die Art Studio in Pretoria gehad.
Kunsuitstallings: 1982 ̶2002: 12 solo en groep uitstallings
Toekennings: 1980. Honneurs Kunsgeskiedenis cum laude 1982. Akademiese ere kleure vir Meestersgraad 1992. Beurs van die Franse Instituut (Johannesburg) vir die dokumentasie van Breyten Breytenbach se skilderye, tekeninge en instellasies in Parys, Amsterdam en Haarlem. Die skilderye en tekeninge by uitstelling in Kaapstad, Durban en Pretoria is ook gefotografeer. (Tussen 1992 en 2000 is kortverhale in ses versamelings, en digkuns in sewe versamelings gepubliseer.)
Digbundels: Tye en Swye in die lewe van Hester H. Tafelberg. 1991. (Ontvang die Rapportprys en was op die kortlys vir die CNA prys.) Die Waterbreker. Tafelberg 2003. Op die kortlys van die Johannesburg Prys. Deur Ruite van die Reis. Human & Rousseau 2013 Die Huis van Tyd. Larmenier. 2020 Veertig Gedigte (ongepubliseer) Bloedvlekblom. Christiaan Diedericks & Melanie Grobler (ongepubliseer) |
Lemoenbloeisels
Historical amnesia is a dangerous phenomenon, not only because it undermines moral and intellectual integrity, but also because it lays the groundwork for crimes that lie ahead.
Noam Chomsky −Hopes and Prospects
1.
ek dog mirakels bestaan nie meer nie, maar nee sê die vigslyers
met ʼn knip van die oog volg hul die man met ʼn kleurvolle vlieër
nooit sal hy weer lemoenbloeisels ruik nie. ʼn skoot deur die hart
ekstaties hoog word hy nou op skouers deur modderige stegies gedra
die vroue ween en die wit duif vee die hemel met sy vlerke
hoër en hoër die wit geskilde lemoen van sy vlerke, die vlerke
van vrede wat vlieg. in die middag as die slapelose digters
om die graf vergader sal die wit duif slaap
2.
die bloeisels is die dodemars van die sneeu
maar die politikus skil die lemoen en sê dis die son
3.
asof daar uit geweldadige rye getree word
val die grys gefluister op die grond
die vonnis staan op die magistraat se dorpsbef geskryf
en alles verander na ʼn grommende gerug
hierdie brose niks, hierdie vormlose angs wat ons
snags bedreig. god hurk oor die huis van my kinderdae
en ek bid ʼn falsetto gebed, bewe soos ʼn hond
in die duisternis van ʼn laat naggedig
4.
koringbrood van moord en mielies van geweld, rogvelde
van dood. dwarsoor die dorsland van transformasie
loop mans na fabrieke en mynskagte. tussen geweerskote
en sonsondergang buk werkers agterdogtig oor
gerugte van gevangenisskap van skoenlappers. die land is hoog
en die land is laag. nou is die vers die pad van rewolusie
wat lei na beddings gevul met plakkers huisies versteen teen die ewigheid
5.
waar christus se varkblom blom
hang die verwonde maan oor die plakkerstad
by die kruispad van verbeelding is my hande
twee duiwe wat spartel. brand weer saam met my
my lief, as jy afrika aanvaar kan jy hier sterwe
6.
dwalend van genesis tot die apokalips, langs lyne
en sirkels na die diepte van die labirint
die ou vrou, beskerm deur die waansinnige skadu
van ʼn sambreel, struikel in die straat. as die wit duif
sy oë knip sien sy die mars van die werkers
o gebalde vuiste wat glimmer in die geweldadige
middagson. o twee duiwe wat spartel buite my hande
© Melanie Grobler. Ongepubliseerde gedigte. Oktober 2010.
Die Rugkant van die Nag
Sy swaaiende arms, maer en lenig
altyd in vervoering, altyd verbaas
soos die dag toe hy uit die vlamme van sy klere
tree om al langs die lae strand te wandel.
Die transparante waansin van die argitek, getrou
aan diep innerlike waarhede as hy op die rug van die walvis ry.
As hy in sy verlange na ’n skip albatros word.
Ons onthou die intensiteit van sy lenige berekeninge, die spekulasie
oor terreine, skadu lyne en projeksies,
eindelose volumes waar chi deur ruimtes vloei.
Uit Middeleeue vure word alles vasgevat.
en in een heldere moment klim die argitek die trappe
na die tekenkamer. Fyn geteken op ’n tekenbord
oor geteken om te onthou, ‘n wit gekalkte seehuis
’n Zen geharkte tuin van gruis, en voor die huis ’n enkele rots,
’n sprietjie gras. Ons huis gebou op die helder rand van die ekstreme.
Die Hoë Ikoon
Lank staan ons voor die sandsteen gebou. Die diepte
van die dennebome. Die wyse waarop hul staan
starend na die vloedgesig van die hoë donker berg.
’n Storm dra ons na ‘n lang gang. Ons volg die vrou se ekstatiese roep,
’n gongende roep soos van sterwende troepe. ‘n Roep
soos koning Agamemnon vanaf sy hout verweerde skip.
Die tierende wind dra ons na die geheime klooster.
Geknield op die klipvloer,
swart die Spaanse spieël van haar bevrore blik.
Die gietende reën dra ons na die misterie, na stringe gebede in ’n sykapel.
Hoog bokant die koepel van die winterstorm, die groot geroep
in heldersiende Afrikaans. Sien sy toe in een oomblik die verre hoë ikoon?
Die Lhote Ekspedisie na die Aouanrhet Gebergtes. (1956)
Langsaam groei die vermoede. Dis vermindering
hierdie wegval van die lyne om jou mond,
dis hoe alles verdwyn in die grys mis van herinnering.
Oorblufte ure, wat soos druppels deur die vingers gly.
In weerwil van dié lewensglimpsie, bly iets omvattend
in die onbewuste blom. Weggegaan,
my van jou onttrek. Tussen vyf en sewe
lê ek op die enkelbed, net duskant die kanaal van slaap
maar binne enkele minute vra iets anders die aandag.
Die landskap voorheen verslons en afgetakel
swel uitmekaar, word onherkenbaar onbeheers.
Heeldag lê en luister hoe reën teen die ruite val.
Dis tog onnodig hierdie durende grys gedrup op die grasdak.
’n Vrou wat gewoon na reën kyk, kan teen die verveling
altyd ’n boek optel om saam met die reisiger
oor die veerligte netwerk van droë riviere te strompel.
By Ténéré en die Guezzam se hidrografiese sisteem
glip swemmers soos visse in ’n waterlose fresco op die rotswand.
Terwyl sy geselskap op hom wag, trek Lhote
die eerste hulpelose potloodlyn, die eerste swemmende lyn
wat reguit téén die gekeepte lyn van jou getroue mond roep.
Oraloor huil die wind. Die wind huil en die wind huil oraloor weer.
*
Op pad na Tassili troon die massiewe Aouanrhet ses duisend voet hoog
bokant Jabbaren pas. Ons het dae lank oor die sandduine
van die weggeveede see gestap, verby die sout van die chotts
en die oesterskulpe op die hammadas. Ons vergaan van dors, skryf Lhote.
As die kamele en die twee donkies wat argeologiese toerusting dra
struikel, rus ons by die Wadi. In die troebel water swem iets soos steurvis.
‘n Vis met swak sig, ‘n smal lyf en ‘n ysterkop soos die plat kant van ‘n harpoen.
Mond aan die onderkant. Monsteragtige voelers wat oor die slap mond hang.
Dus ‘n bodemvreter. Ons vang die vis met ’n gebuigde hoek,
gewone lyn en stukkies dadels. Laatmiddag bak ons vis in ‘n platboom pan.
Die vis leef alleen, en neem ‘n honderd jaar voordat hy paar
fluister die Tuareg gids bakhand as ons die grate op die wit vishoop gooi.
*
In die fresco, by Sefar sit hulle geloofloos teenoor mekaar
elk ‘n hand wat tydloos na die ander uitgestrek.
Stom na jare van inkyk, ontvou hulle binnemondse
gesange om hierdie nag. Hierdie sandduine,
hierdie donker vye teen die sandduin
waar die vrou suutjies tjank en pis op die turfriet rondom haar.
Geen man sal ooit haar lêplek binnedring nie.
Ek is by die einde van denke
nou in hierdie dae van ink as ek oor my Wadi skryf.
©Melanie Grobler. November 2009
Emalia se Gedig
Ek hoor iemand roep jou naam
maar herken nie die klank van my mond nie.
Visse betree die poel en vertrek met hoogtety
die deining van diep plekke betree die skulpe van ons gehoor
en alles wat val, val na die wykende kras van die kormorant
na sanderige katedrale van vrygelate liefde en ruisende waters.
Slapend op die strand is die wind ‘n krul op jou mond
‘n sagte hoop, ‘n sagte rots van ‘n man
die buitelyne van jou lyf, ‘n verblykte walvis
of ‘n sug in die krul van die ewige moment.
© Melanie Grobler – Maart 2009
Vietnamese gedig 1
oor die nag kom onthousels van die laggende militia
voëlkoutjies van bamboes reis en cyclo’s word
kyk hoe kruip my hande na die vlammende lem
wat soos ’n lampie uit ou oorlogsraampies na my wink
toe die gids my twee messe gee: een gebruik ek
maar die mes van verbeelding glip uit my hand
en sny Halongbaai en sy blou see bergies
soos seile op die koloniale atlas oop
alleen in die beweging van sy lyf ingesterf
langboot roeier op water laat hy die spane dieper sak.
In die middag en my droom
voor die oë van die gids en die toeriste
steek ek hom ’n streep oor die ingedraaide gesig
en in en om die skree wat om my lippe hang
pak die oseaan soutvlekke om sy hart
herken hom skaars roep oor die boggel van die water
Jan of Johannes of Janus maar sy naam beteken niks
deur die oop oë van die wond sien hy
’n Sjinese jonk haar seile die naggloed
wat dwarsdeur leegtes van geen gedagtes loop.
Uit: Versindaba 2005, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2005