Nini Bennett-Moll is op 30 Maart 1972 in Pretoria gebore. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Eldoraigne. In haar standerd 9 en matriekjaar (1989-1990) wen sy die landswye De Kat-poësiekompetisies vir hoërskoolleerlinge in al die onderskeie kategorieë, waarna sy die grade BA en BA(Hons) in Literatuurwetenskap (met lof) aan die Universiteit van Pretoria behaal. As voorgraadse student wen sy verskeie UP/Van Schaik-studenteskryfkompetisies vir prosa en poësie. In 1999 deel sy die M-Net-Beurs met Rachelle Greeff. Sy skryf meer as 2000 groetekaartjies vir Hallmark (1997-1999), waarna sy ’n lewenslange renons in clichés ontwikkel.
Bennett sit haar studie voort aan die Universiteit van Kaapstad en verwerf ’n MA-graad in skeppende skryfkuns (met lof) onder leiding van Etienne van Heerden. Haar verhandeling, ’n bundel kortverhale, word in 2002 gepubliseer as Stoornis (Tafelberg) en word in 2003 bekroon met die UJ-debuutprys. In 2008 wen sy die internasionale Room to Read-prys (kategorie Afrikaans) vir ’n jeugverhaal, Die storie van Vusi se orkes, wat as gemeenskapsprojek die lig sien in al elf landstale.
Sy publiseer verskeie resensies van literêre werke asook artikels en blogs in Rapport, LitNet, Beeld, Sarie en Versindaba (2008-2022).
Kortverhale, gedigte en artikels verskyn voorts in die tydskrifte De Kat (1989-1990), Insig (2003) en Contrast (1989). ’n Kortverhaal, “Wag op die koningin” word in Nederlands vertaal en opgeneem in Deus ex Machina (2000). Bennett se kortprosa is onder meer gebundel in Die Afrikaanse Kortverhaalboek (2012), Die mooiste liefde is verby (1999), Bloudruk (1995), Drif (1996), Van spoke gepraat (2006), Douspoor (2000), Skrik op die lyf (2016) en Hartlam (2017). Haar poësie is opgeneem in Crossroads of the Century (1992), Onse Mense 2 (Mari Stander, 2016), Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (F. Olivier 2016), Vers & Vrou (Karen de Wet, 2020), Maskers & Mure (Daniel Hugo, Francois de Jongh, 2021) en I wish I’d said…Vol. 4 (2021). Twee kortverhale wat in die bundel Douspoor verskyn, word voorgeskryf vir Afrikaans Tweede Taal se Senior Sertifikaateksamen in 2006.
Sy publiseer drie digbundels: Kodeks (Cordis Trust, 2011), Boekstaaf (Cordis Trust, 2015) en Donkerwerk (Naledi, 2019).
In 2015 tree sy op saam met die digters Lina Spies, Danie Marais en Ronel Foster by die US-Sanlam-poësieslypskool. In dieselfde jaar ontvang sy as eerbewys die Orde van die Beiteltjie van Cordis Trust.
In 2020 maak sy saam met Joan Hambidge haar buiging as resensent op AVBOB se televisieprogram, Ek wou nog sê…Haar kortverhaal, Bus 7070 word kort hierna verfilm vir kykNET (2021). Sy is werksaam as digmentor, blogger en resensent en woon in Kaapstad.
Ars poetica1
Die suiwerste poësie is sonder taal.
Dis die begeerte om stof tot stilte
om te dig, om digterwordend
die stilte te stoffeer, dis die metamorfose
van die metafoor as hout fossiele word:
steenkool vra om te brand, of water
hoogty in branders vlam; dis die friksie
van asem in fynhout
aangehits deur wind –
Die digter, die magiër van ouds,
dek die altaar en alles
neig van vooraf na vuur.
(Uit: Boekstaaf, Nini Bennett, Cordis Trust, 2015)