Suzanne Bezuidenhout (Potgieter) is in 1983 in Bloemfontein gebore. Na haar skoolloopbaan aan die Oranje Meisieskool behaal sy in 2004 ’n B.A.-graad (Taal en Kultuur) aan die Universiteit van Stellenbosch. In 2005 behaal sy ’n B.A. (Hons.) in Afrikaans en Nederlands. Sy behaal haar M.A.-graad in Afrikaanse letterkunde oor die werk van H.J. Pieterse. Sy fokus veral in haar navorsing op die verwerking van trauma deur narratiewe terapie.
Sedert 2005 verskyn haar poësie gereeld in die Stellenbosse studentebundel Penseel. In 2008 word van haar gedigte in die Versindaba-bundel gepubliseer.
Sy is betrokke by die Departement Afrikaans en Nederlands op Stellenbosch waar sy Afrikaanse tutoriale en sedert 2008 die kursus Afrikaans in die Media aanbied.
Naas Afrikaanse letterkunde het sy ’n passie vir Indië, Bret Easton Ellis-boeke en sou sy graag een van die vroue in ’n skildery van Gustav Klimt wou wees.
Sondag in suburbia
Sondae dra suggende klagtes:
Hoekom het jy nie jou huiswerk gedoen nie?
Hoekom het jy die tjops verbrand?
Hoekom is daar te veel asyn in die beetslaai?
Hoekom het jy my nie meer lief nie?
Hoekom verstaan jy nie die vrae van ʼn vrou nie?
Hoekom smag jy na die mik van ʼn man?
Hý, ons buurman, bid saggies
(pseudo-sedigheid net ʼn oomblik versteur deur die reuk van gebrande
vleis en ʼn brandsiek blaffer buite):
“Vader laat versoeking ons versaak. Seën die hande wat die voedsel
voorberei het. Amen.”
Die laaste maal
behendig berei.
Beetslaai verlok
met arseen wat stilweg verniel.
Buite is dit doodstil.
Slapende honde in suburbia rus nou.
Voyeur
“All photographs are memento mori.”1
Susan Sontag: On Photography
Nuuskierige vingertjies wys dáár
“Pinky, dis Pinky
dis hy daai!”
Vingeralleen.
Sy bruin lyfie steek parmantig
skelm uit die water –
ʼn blinknat heuweltjie.
“Dis sy t-shirt daai, dis sy Nikes da oppie beach!”
Die vingertjies wys steeds
reeds krioel die gevoel,
ís hy dalk?
“Hy is! Hy is!”
Die stemme histeries,
skril,
onverklaarbaar opgewonde oor hul fatale vonds.
“Ga roep vi antie Mavis!”
“Hy is!”
Dood.
Die sand is koel onder voet.
Die sole dáár
deurgeskaaf.
En ek neem die foto
uit fokus.
1 Die wete dat ons almal moet sterf.
Om jou pa te sien
sterf
is ’n bitter wrewelrige bedryf.
Die formaliteite vervat in pinstripes en posies.
Trane word tydsbereken,
ooms en agterkleinniggies (én gekondisioneerde dominees)
murmureer en huil on cue.
Maar ná die klimaks van koeksisters en pikante pasteitjies
(Psalm 23 was immers die voorgereg)
gaan jy alleen terug na ’n park
om te wonder
wie nou jou swaai gaan stoot
tussen denne wat donker duin.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008