T.T. Cloete (1924 – 2015) is op 31 Mei op Vredefort gebore. Hy matrikuleer in 1941 aan die Hoërskool Monument op Krugersdorp en studeer daarna aan die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Suid-Afrika en die Potchefstroomse Universiteit. Van 1949 tot 1953 studeer hy aan die Gemeentelike Universiteit Amsterdam. Hy doseer Afrikaans en Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit en word in 1965 as hoogleraar aan die Universiteit van Port Elizabeth aangestel. Sedert 1970 is hy hoogleraar in Afrikaans-Nederlands en Algemene Literatuurwetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit en bly na sy aftrede in 1983 aan as buitengewone professor. Cloete ontvang in 1976 die Gustav Preller-prys en in 2002 die N.P. van Wyk Louw-medalje vir sy literatuurwetenskaplike publikasies. Hy debuteer in 1981 as digter en het tot dusver twaalf digbundels, ’n drama en twee bundels kortverhale gepubliseer. Vir sy poësie het Cloete die Ingrid Jonker-, W.A. Hofmeyr-, Louis-Luyt-, CNA-, Rapport- en Hertzogprys ontvang. Cloete se herdigting van die Psalms in Afrikaans het wye erkenning ontvang. Uit die wit lig van my land gesny (Pooka uitgewers, 2010) is ʼn huldigingsbundel aan Anna, die vrou van TT Cloete, wat in 2007 oorlede is. In 2011 verskyn sy bundel Onversadig by Tafelberg uitgewers. Lees gerus ’n meer uitgebreide biografie oor die digter op Litnet: |
foto van vrou by die see 1966
geprofileer in ‘n diep leunstoel, bene gekruis,
afgetrokke en diep agteroor in ‘n strandhuis
sit sy in die vliesdun emulsie op dun karton
in ‘n wit bloes en broekpak by die venster in die lig
van die glansende see en geel wasige donsson
mymerend en byna deursigtig.
toe was sy nog veilig. hoe
veilig was sy toe
sy sit aandoenlik ingedagte en sereen
met die weerkaatsing in haar agteroorgesig
van die see sit sy in een hand ‘n skuins glas
vingers aan die pols van die ander een
hang bo die teetafelkleed. die vingerpunte tas
effe aan die bokhaarmateriaal. sy kyk dromerig
na haar vingers. die sigbare
stilte swyg. die oureool in haar hare
gloei sag. gevoelige vingerpunte van haar hand
hang tastend af aan haar geknakte pols hoog
bo die skerp stut van haar elmboog.
elders, ver, baie ver veraf elders doenig
is die kanker met ‘n ander iemand
wat sit in die vliesdun emulsie op dun karton
in ‘n broekpak by die venster in die lig
van die blink see en geel wasige donsson
dromerig mymerend en byna deursigtig
skimmig geskryf met lig
(Uit: Onversadig, Tafelberg, 2011)
Identiteit
Tongues are separated by words,
The natures of persons as well;
And their skins are made different
So you can distinguish the peoples.
(“Achnaton’s Hymn to Aton”, vert. J.L.Foster.)
Praat is menslik, maar vir mekaar
is ons soos die diere as ons praat
onderling onverstaanbaar.
Party kyk met amandels, party skreef
horisontaal, ander is skeel
of die oë lê soos die wolf s’n skeef.
Snaaks, ons almal, aan die mossie verwant,
is bipedies, maar elkeen met sy eie trant.
Duisende ander dinge onderskei
ons van mekaar. Tog weer, aan die ander kant,
op dieselfde manier berei
is almal se uitskot ’n houtbruin brei
met dieselfde afstootlike geur.
Deur die chemie van die nier
het almal se urine die kleur
van goed gebroude Black Labelbier.
En dan veral, hoe die variasies ook varieer,
ons gryns as ons huil en treur
dieselfde sout en speeksel … Die variasies
wat die reënboog ekstrapoleer
varieer op die tema van die nasies …
Dié winddun asempie: identiteit,
ons raak dié glibberige ding eenders kwyt.
Almal slaak dit met ’n laaste sug
en stort dan in die oer-Een terug.
Haal ons die ideaal
!ke e: /xarra //ke
volmaak alleen as ons ophou asemhaal?
Uit: Versindaba 2007 , Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007