resensie16

 

Volksblad 15 12 2008

Digkuns kerngesond, wys bloemlesing
Joan Hambidge

Versindaba 2008

Saamgestel deur Marlise Joubert

Die saamtrek op Stellenbosch waar digters uit verskillende wêrelddele in die HB Thom-teater ontmoet, raak nou ’n instelling. Die belangrikste hiervan is die publikasie van die gedigte deur Protea-uitgewers en saamgestel deur Marlise Joubert.

Op Litnet (www.litnet.co.za/versindaba) kan die leser ’n verslag kry van ’n handvol digters en hul ervaring van die indaba wat gewoonlik oor omtrent twee dae strek. Vir party is die ligte te skerp, vir ander is die kritiek van die omstanders nie aangenaam nie.

Maar ná die applous, is dit die boek wat bly staan: ’n Nuttige bloemlesing waarin daar twee, of drie gedigte van ’n digter geplaas word.

Vir my is dit altyd wonderlik om ’n digter te hóór, gewoon net omdat dit die betekenis van die gedig kan verander. En dikwels wanneer ’n mens daarna die gedig in jou binnekamer lees, hoor jy die digter se tongval.

Party digters lees stotterend, stamelend. Ander kan die gehoor bekoor met ’n genuanseerde vertolking. In Afrikaans is Antjie Krog waarskynlik die digter wat die mooiste en aangrypendste vertolkings lewer, juis omdat haar verse ingaan op die orale tradisie. Ander gedigte moet jy sien en moet jy weer en weer bekyk. Veral verse wat op moeisame semantiese wendinge berus, eis ’n kopie van die gedig terwyl dit voorgedra word.

Diversiteit. Dit beklemtoon Nicol Stassen in die inleiding en Marlise Joubert bevestig dit. Daar is vele stemme en tendense binne die Afrikaanse digkuns en op die jongste versindaba het ’n klomp digters hulle gedigte met ’n kitaar begelei: Roof Bezuidenhout en Jasper van Zyl. Soms hef die kitaar die gedig op; in ander gevalle wanneer die digter net twee snare kan tokkel, steur dit die hele optrede. Maar nou ja, different strokes for different folks.

Daar is nouverskillende neigings te bespeur in die digkuns: Die formele vers, die praatvers, nostalgiese vers, die meditatiewe vers, die speelse vers, die intertekstuele vers, die klaaglied, die jubeling, die lykdig, en so meer.

Op hierdie geleentheid het digters opgetree wat lank stil was: ’n Mens dink hier aan Marlene van Niekerk en Johan Myburg, onder andere. Of ’n mens ervaar die nuweling Ronelda S. Kamfer se gedigte: Verse wat in troosteloosheid tref.

’n Handvol digters uit Stellenbosch het die eerste keer van hulle laat hoor en in hierdie verband is die gedig Ars poetica 2007 van Marius Swart ’n behendige gedig. Carina Stander met haar liriese aanslag lewer betowerende werk in wildernis:

Op twee en dertig gee ma liefde

soos ’n storieboek

vir pa

Daar is praatverse van Danie Marais, ’n aangrypende gedig oor ’n vaderfiguur (Oukersaand in die Medi-Clinic), wat net-net te uitgesponne raak.

Ek het self opgetree en Johann de Lange se gedigte voorgelees, omdat hy ongesteld was. Sy gedigte was vir my een van die hoogtepunte.

Die bundel verteenwoordig die hele santekraam van die pas gepubliseerde digters tans. Hier is iets vir een en almal.

Nou onlangs het ’n digterkritikus geskryf:

“Met dié (fluisterende) voorbehoud: Hoe lank nog kan nuwe poësie wat konvensioneel in aanslag bly met goeie poësie te rym wees? Die voorafgaande prestasies het die ou myne uitgeput, en straks bly net weesklippies oor om op te tel op die ou werwe.”

Hierdie versameling bewys egter hoe daar steeds binne klassieke vorme gewerskaf word en die bundel begin met Hennie Aucamp se bydraes uit Vlamsalmander waarin die vormbewuste gedig ontgin word.

Daar is heiliges en hoere, speelse en ernstige verse op die koop toe. Daar is verse van wittes en bruines; gays en straights. Bekroondes en onbekroondes. ’n Digkuns wat soveel uiteenlopende stemme kan huisves, is kerngesond. Groot verseboek verskyn binnekort in drie bande en dit is waarskynlik ’n aanduiding van hoé lewenskragtig die Afrikaanse digkuns is in vergelyking met sê nou maar die Engels-Suid-Afrikaanse poësie.

En hoe lekker is dit nie om weer vir Daniel Hugo in volle gang te sien nie! Loflied op die letterkunde is vintage-Hugo: Speels, vormvas en lekker:

Ek het die Afrikaanse letterkunde lief:

elke letter het ek lief, die kleinste setfout,

die slap anglisismes, die anachronisms,

elke taalfout en die blatantste plagiaat.

Ek het die dom skrywers lief, die lui redakteurs,

eie gesette uitgewers, die skraal kritici

en die analfabetiese boekhandelaars:

Die totale, banale bedryf het ek lief.

Maar bowenal het ek die verpulpers lief:

Van boeke maak hulle bruikbare bokse

waarin jy die hele letterkunde kan pak

vir snelversending na die naaste pulpfabriek. (p. 43)

Jare gelede was daar ’n digkunssaamtrek in die Kaap. In elke vertrek is ’n verskillende aanslag gehuisves. Onder meer was daar ’n vertrek vir die “boogie woogie”-poets.

Kom, laat ons “boogie woogie”!

Bookmark and Share
  •