Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

resensie19

Versindaba 2008. Saamgestel deur Marlise Joubert. Pretoria: Protea Boekhuis. 2008. 98 pp. ISBN: 978-1-86919-267-9. (Resensie het verskyn in Tydskrif vir letterkunde 46/1, Herfs 2009: 242-243. ISSN 0041-476X.)

 

2008 was reeds die vierde jaar waarin, telkens oor die eerste Septembernaweek, ’n “Versindaba” op Stellenbosch aangebied is.

            Dit het gegroei tot ’n jaarlikse bestekopmaking én viering van die hedendaagse Afrikaanse digkuns, byvoorbeeld deur die enigste prys eksklusief vir Afrikaanse poësie toe te ken. Breyten Breytenbach was vanjaar die wenner van dié Proteaprys, naamlik vir sy reeds herhaaldelik bekroonde bundel uit 2007, Die windvanger.   

            Die resep is nou al ’n beproefde een. Sowel gevestigde as “opkomende” digters word betrek. Die genooide gevestigdes is hoofsaaklik digters van wie in daardie of die voorafgaande jaar nuwe bundels verskyn het. Vanjaar is die kollig bowendien spesifiek op digters gewerp wat ook as beeldende kunstenaars aktief is: Andries Bezuidenhout, Trienke Laurie, Ilse van Staden, Rosa Smit, Carina Stander, en so meer.

           Onder die opkomendes tel digters wat in daardie of die vorige jaar solodebute die lig laat sien het (Ronelda S. Kamfer en Loftus Marais onder die 2008-groep), maar ook jong belowendes wat nog net in tydskrifte, bloemlesings of op webblaaie van hulle kon laat hoor.

          Daarby word ’n bundel saamgestel uit ’n keuse van gedigte van die digters wat aan die geleentheid deelgeneem het, om sodoende “’n momentopname van die Afrikaanse poësie” van die betrokke jaar te bied (luidens Nicol Stassen in die voorwoord tot Versindaba 2008). Gehalte bly die eerste maatstaf vir opname, maar daar word ook gestreef om ’n beeld te gee van die verskeidenheid digwerk wat binne daardie tydbestek gelewer is.

            Verse van sewentien gevestigde digters verskyn in Versindaba 2008.  Dis inderdaad ’n “plesier” (soos in die uitgewersbrief voorspel word) om die uiteenlopende verskeidenheid werk van oorwegend hoë gehalte deur hierdie geslypte woordkunstenaars te lees. Ek het bykomende vreugde daaruit geput om die stemme te verneem van mense van wie relatief lanklaas op poësiegebied gehoor is: Johann de Lange, Johan Myburg, Rosa Smit en Marlene van Niekerk, byvoorbeeld.

            Wat opval van 2008 se debutante of belowendes is dat 7 uit die 8 van hulle nog in hulle twintigerjare staan, en dat net soveel van hulle produkte van die Universiteit van Stellenbosch is. Laasgenoemde word verstaanbaar as die moontlike koste-implikasies daarvan om jonges van elders na Stellenbosch te lok vir die indaba, in ag geneem word. Tog hou so ’n toedrag van sake die gevaar in dat die Versindaba nie heeltemal die oogmerk van verteenwoordigendheid sal bereik nie.

            Miskien moet ander universitêre sentra in die land, in samewerking met die organiseerders van die indaba, ’n plan maak om hulle eie belowende ‘produkte’ finansieel te steun sodat hulle aan dié besonderse geleentheid op die literêre kalender kan deelneem?

           Versindaba 2008 verskaf nogtans ’n positiewe beeld van die Afrikaanse poësie. Die vrugte word gepluk van onder meer die moedige insette van Protea Boekhuis sedert 9 gelede toe publikasiegeleenthede vir Afrikaanse digters byna opgedroog het. Stassen, baas van Protea Boekhuis, gee in die voorwoord van die onderhawige bundel ’n idee van hoe gesond die toestand huidig is.   Gedurende 2007 het 16 nuwe Afrikaanse digbundels verskyn: sewe by Protea Boekhuis, vier by NB-uitgewers, twee by Genugtig! en een elk by Lapa, Bent en Praag.

          Trouens, in ’n onlangs gepubliseerde artikel op LitNet Akademies kon Leti Kleyn selfs konstateer dat die poësie op die oomblik as die bevoorregte genre van die Afrikaanse letterkunde beskou kan word.

 

•Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Resensie: “’n Ander wêreld” (Eunice Basson)
  • Anne-Marie Bartie. alpha centauri
  • Stephan du Toit. Witgatboom
  • Anne-Marie Bartie

Nuutste bydraes

  • Daniel Hugo. Winternag
  • Vincent Oliphant. Soos
  • Stephan du Toit. Florence Nightingale
  • 100 Duitse Bestes: Elisabeth Borchers (1926-2013)
  • Ilse van Staden. tuiskoms

Nuutste kommentaar

  1. Aldre Lategan on Joan Hambidge. Philip de Vos – die boek op die regte oomblik11 November 2025

    Dankie, Joan, jou resensie is net so 'n lekkerte om te lees soos Philip se boek.

  2. Marlies Taljard on Nuwe publikasie: “Troilus and Criseyde” in Afrikaans vert. deur Johan Boje10 November 2025

    Besonder insiggewende inleiding wat onmisbaar is wanneer mens so 'n vertaling lees. Baie geluk met 'n wêreldklas vertaling John Boje.

  3. Peet van Schalkwyk on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek10 November 2025

    Baie dankie Vds

  4. VDS Brink on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek8 November 2025

    Peet, dit is aangrypend mooi!

  5. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)3 November 2025

    Dankie, Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d