Waar was Afrikaans-onnies?
[Die Burger. 14.9.05]
George Weideman
DIE pas afgelope Stellenbosse Versindaba, wat deur Louis Esterhuizen geïnisieer, met die steun van Protea Boekhuis aangebied en deur Jannie Mouton van PSG geborg is, was uit ’n organisatoriese oogpunt ’n reuse-sukses. ’n Poësiefees met soveel variasie is ’n gedurfde onderneming – en dit was ’n begin wat ’n mens laat uitsien na volgende jaar s’n.
Dis juis die verskeidenheid – van Toast Coetzer met Buckfever Underground tot by pryswennerdigters soos Charl-Pierre Naudé, Petra Müller en Ilse van Staden (om enkeles te noem) – wat wil sê: Gedigte is nie net vir enkele versvrate nie.
Daar was heelparty poësieliefhebbers uit die omgewing – selfs van Stilbaai. Oor diegene wat die Versindaba bygewoon het, is ’n mens dankbaar. Oor die gehalte van onderhoude, lesings en paneelbesprekings ook.
Tog karring ’n klompie vrae aan jou. Dis juis Saterdagmiddag se paneelbespreking oor die stand van die poësie wat hierdie gekarring by my veroorsaak het.
Waar was die Afrikaans-onderwysers – hulle wat veronderstel is om liefde vir gedigte by leerders aan te wakker? (Daar was presies drie onderwysers; twee van private skole.) Is hierdie gebrek aan belangstelling gelyk te stel aan die feit dat die meeste leerkragte (let wel: nie almal nie!) blykbaar steeds aan eindeksamenvrees ly en gedigte, betekenis-en-al, afrol? Sou die bywoon van die Versindaba saam met ’n paar van hul leerders nie hul vrese kon besweer nie? Aan almal kon wys verse is ook ’n groot jol? Jong mense was aan die minnerige kant. Ek glo egter die klompie wat daar was, het ervaar dat poësie nie iets onverstaanbaars en onbereikbaars êrens op ’n podium is nie, maar vir kop en hart en niere iets bied.
Waar was die sogenaamde beginnerdigters? Ek het al baie slypskole aangebied; telkemale moes ek ervaar dat daar ongelooflik baie mense is wat wil skryf, maar dat hulle klaarblyklik verseg om ander se werk te lees. Nou lyk dit asof dié menigte – soos die genoemde Afri-kaans-onderwysers en -leerders – nie bereid is om ’n dag lank na ander digters te gaan luister nie. Waarom nie?
Waar was die lede van die Afrikaanse Skrywersvereniging? Kort-kort kla iemand oor die swak ondersteuning wat die ASV kry – maar waarom is húlle dan afwesig by so ’n okkasie? Waar was die uitgewers? Afgesien van Protea het ek nog één uitgewer gesien. Die nuwe Protea-prys is nie net vir bundels wat by Protea verskyn nie; die Versindaba is bedoel om poësie oor ’n wye front te bevorder. Is hier ’n soort kleinlikheid in die weer? Waar was die mede-digters van diegene wat opgetree het? Ek weet van so ’n halfdosyn wat sowel Vrydagaand as Saterdag end-uit daar was. Bekende name het geskitter in hul afwesigheid. Het hierdie gebrek aan ondersteuning – ’n mens sien dit soms ook by ander geleenthede – met naywer te doen? Of met blote arrogansie?
Waar was die honderde leeskringlede wat genooi is? Ek het weliswaar ’n hele klompie bekende gesigte gesien – maar talle leeskringlede wat aan my bekend is, het blykbaar nie kans gesien vir die versfees nie.
En watter fees wás die Versindaba nie! Naas die voordragte deur nuwe en “meer gevestigde” digters – elk met ’n unieke styl – was daar wonderlike voordrag-aanbiedinge deur mense soos Johann Nel en Helena Conradie, en verrassende musikale vertolkings van uiteenlopende aard, met die uitvoerings deur Laurinda Hofmeyr, Marica Otto en André Howard (begelei deur die komponis Hendrik Hofmeyr) elk skitterend in ’n eie klas. Pitkos – in die vorm van die genoemde onderhoude, lesings en selfs ’n opwindende vasvra – was daar ook; en dis hier en in die geheel-ervaring van die magiese en die speelse in die poësie waar ’n mens talle taalonderwysers en leeskringlede, leerders en aspirantdigters wou gesien het.
Helaas.