Posts Tagged ‘Bester Meyer resensie’

Resensie: “Inferno”, Dante Alighieri, vert. deur Cas Vos.

Wednesday, October 6th, 2021

 

 

 

Resensie: Inferno, Dante Alighieri, vert. deur Cas Vos. Naledi. 2021. 

ISBN: 9781928530565

Resensent: Bester Meyer

 

 VÓÓR MY HET DAAR NET DIE GROOT NIKS BESTAAN,

DAAR WAS SLEGS EWIGE DINGE, EN EK IS EWIG.

LAAT VAAR ALLE HOOP, JULLE WAT HIER BINNEGAAN    (canto 3, p.114)

 

en tussen klippe en koerante

gryp hy na sterre en diamante

en roggelend reis so Dantesy bloutrein hemel toe klaar gelaai

Koos Kombuis[i]

 

Sopas verskyn Cas Vos se rymende versvertaling en verklaring van Dante Alighieri se epos Inferno. Deur dié publikasie bou die digter voort op sy vertalings van wat as van die wêreld se meesterstukke beskou word: Die Goddelike Komedie (2017) en Il Paradiso (2018).

Inferno vorm die eerste deel van die drieluik epiese gedig La Divina Commedia wat in 1320 gepubliseer is. Inferno is in vier en dertig canti (sange) verdeel − wat dan deel vorm van die drie dele of lofsange (cantiche) wat La Divina Commedia uitmaak: Inferno (Hel) Purgatorio (Loutering) en Paradiso (Hemel) soos verduidelik in die inleidende verklarings (p 28 ev). Die epos is oorspronklik in Dante se volkstaal, Toskaans, gepubliseer. Die gedig-verhaal beskryf Dante en die Latynse digter Vergilius – wat Dante as sy gids en ʼn soort vaderfiguur beskou – se reis deur hel gedurende ʼn paasnaweek wat dan uiteraard met Jesus se ter hellevaart vergelyk (kan) word. Die vertaler verduidelik in deel 8 van die inleidende aantekeninge (Komposisie, voorstelling en doelstellings met die Inferno) dat alhoewel die digter hier en daar steun op Bybelse beskrywings van die hel, is die digter se “ontwerp” van die hel eerder geskoei op die sewe doodsondes: lus, vraatsug, gierigheid, bedruktheid, woede, jaloesie en trots én daar is vir elke sonde ʼn bepaalde soort straf, wat dan bestraf word in terme van (soos verduidelik) die begrip: contrapasso (p.302) in die eerste tot negende sirkel van Dante se hel.

Die bundel is verdeel in ʼn kort voorwoord deur die vertaler/verklaarder wat gevolg word deur sy aantekeninge wat uit 13 dele bestaan, en wat afgesluit word met volledige bronverwysings wat ʼn leser/student in staat sal stel om die inhoud van die aantekeninge verder te bestudeer/ondersoek (p.1-85). Daarna volg canto 1 tot 34 (p.88-494). Na die afloop van elke canto is daar verdere verduidelikende aantekeninge deur die vertaler/verklaarder, tesame met voetnotas wat verduidelikings oor sekere van die beelde, karakters en/of die simboliese strekking van vertaalde teks bevat. Die bundel sluit af met: 1) ʼn aanduiding van die uitspraak van sekere Italiaanse name in die vertaalde teks (p.495); 2) die vermelding van die Italiaanse grondteks waaruit vertaal is: Andrea Gazzoni se Mapping Dante. A Study of Places in the Commedia (p.500) en 3) ʼn volledige bronnelys (p.501). Die bundel is in sy geheel ʼn reuse stuk werk en getuig van ʼn sekere soort visie/droom. Die voorblad bevat ʼn verwerking van Katerina Machytková se kunswerk: Inferno Canto 34 en ʼn pluimpie aan die uitgewer vir ʼn stylvolle publikasie.

Die inleidende aantekeninge gee ʼn verblydende blik op wat die deursnee-leser moet weet of moontlik sal wil weet met betrekking tot die epos. Daar word onder andere ‘n kort opsomming van Dante Alighieri se biografiese gegewe verskaf. Die tydvak waarin die epos ontstaan het word verduidelik. Dante se ‘hel’ word in detail beskryf wat dit vir die leser moontlik maak om alle aspekte daarvan beter te visualiseer. Byvoorbeeld, anders as wat ʼn mens sou kon verwag is daar in die heel diepste/onderste deel van die hel ʼn bevrore meer waar Lucifer vasgevang is (p.32) met Judas Iskariot, Marcus Brutus en Gaius Cassius Longinus in die bekke van sy drie koppe (canto 34). Dante se skepping van die hel en sy reis daardeur is ʼn meesterlike verbeeldingsvlug en die aantekeninge dra aktief by tot ʼn beter verstaan. In deel 6 van die aantekeninge (Mites) word daar ʼn bondige agtergrond en verduideliking gegee van sekere karakters wat hulle verskyning in die epos maak en veral ʼn beskrywende verduideliking van die monster: Geryon wat volgens die verklaarder “ʼn fabeldier [is] wat bedrog simboliseer” (p.19) en dan ook hoe die monster deur Dante lewe gegee is deur beelde uit die Bybel en Griekse mitologie. Vir my was die volgende stelling van die verklaarder in deel 8 van die aantekeninge, wat in samehang met die gedeelte oor die aktualiteit van die teks gelees kan word (sien deel 3, p.10) veral waar:

Die Inferno is ’n boek oor die hel en boetedoening, maar in ’n nog groter mate gaan dit om die lewe, liefde en skoonheid. Dit is ’n wekroep om die lewe te waardeer en vir en uit die goeie te lewe. (p.53)

In deel 7 (Spiritualiteit en hermeneutiek) gee die verklaarder ʼn handige verduideliking van die verskillende betekenislae waaruit die epos bestaan. Die verduideliking, soos wat dit verstaan word met betrekking tot die res van verklarende aantekeninge, kom ooreen met wat Mark Musa − wat die epos in Engels vertaal het − skryf oor Inferno[ii], synde die feit dat óm La Divina Commedia (en dan dié epos) op ʼn diepere en meer figuurlike vlak te verstaan, moet ʼn mens eerstens daarin gló op ʼn letterlike vlak soos wat ʼn gelowige − wat die Bybel lees – dit sou glo. (Sien die volle aanhaling van Musa in die bronverwysings hieronder). Die verklaarder verduidelik dan voorts dat Dante sy ‘vertelling’ in canto 9 dan ook onderbreek om die leser te maan om die dieper betekenis van die epos te probeer raaksien (p.25):

 

Julle wat genadiglik beskik oor kerse,

moet ag gee op onderrig wat verborge is

onder die sluier van vreemde verse.            (canto 9, p.184)

 

In sy geheel is die inleidende aantekeninge ʼn waardevolle toevoeging tot die teks. Vir iemand wat nie vertroud is met die agtergrond óf die tematies en inhoudelike gegewe nie, kan die aantekeninge beskou word as ʼn toeganklike, sonder-moeite gids om gehoor te gee aan Dante se versoek so hierbo vermeld. Die verduidelikings is nie oordadig of verskriklik literêr kompleks nie. Dit gee die bundel in sy geheel ʼn sekere soort skoonheid wat dit toeganklik maak vir die gewone-man-op-straat-leser sowel as die meer sofistikeerde leser én kan as baie geslaagd beskou word. Een punt kritiek: In deel 8 (Komposisie, voorstelling en doelstellings met die Inferno) gee die verklaarder ʼn baie uitgebreide verduideliking van die konsep ‘hemel’ en ‘hel’ wat gestaaf word met talryke verwysings uit die Bybel wat moontlik die nie-Christen leser mag afskrik. Tog blyk dit duidelik uit die res van die aantekeninge dat die teks óók vir lesers wat in ‘hemel’ en ‘hel’ op ʼn eerder allegoriese vlak glo, verrykend mag wees.

ʼn Hoogtepunt van die aantekeninge is die verklaarder se verduideliking van Dante se oogmerk met Inferno wat sterk in die epos geaktiveer word deur die gebruik van die getal nege in samehang met die sirkelvormige motief: die nege sirkelvormige verdiepings en aard van die hel. Nege wat die voltooiing/volbringing van iets aandui (die einde maar óók begin van enige/die reis omvat) en dan die inherente skeppingswaarde wat daarin opgesluit lê. Óm in aanraking te kom met die ware Self moet daar eerstens ʼn reis na binne wees, wat dan verskeie raakpunte met historiese figure – en meer spesifiek Siddartha − kan hê, soos wat sal blyk uit die onderstaande aanhaling:

“Dante se gedig vertel die verhaal van ’n man se innerlike reis. Hy dig oor ’n spesifieke, konkrete mens: homself. Teen die einde van sy jeug, aan die begin van die tweede helfte van sy lewe, het hierdie man hom in ’n persoonlike krisis, in ’n toestand van magteloosheid en depressie bevind. Die gedig gaan ten diepste oor hoe die man, hunkerend na sin en suiwerheid van gees, in homself gekeer het. Hy skryf hoe hy deur ’n proses van loutering gegaan het en hoe hy later persoonlike geluk, vrede en insig bereik het.” (p. 51)

Die bogenoemde kan dan in samehang met die ‘sirkelvormige aard’ van ons lot as sterflinge hier op aarde gelees word. Sien byvoorbeeld, in hierdie opsig:

 

Hy het my geantwoord: “Jy weet mos die hel is

sirkelvormig; al het jy ver gereis, het jy steeds

aan die linkerkant in die diepte afgedaal, dit is gewis.

 

Jy het nog nooit om die hele sirkel geloop nie.

Dus, as daar nou iets nuuts verskyn, en jy dit sien,

laat geen verbasing op jou gesig verskyn, of wanhoop nie.”   (canto 14, p.243)

 

Die bou van die canti is grotendeels getrou aan die oorspronklike teks en daar word deurgaans van drielingrymskema gebruik gemaak wat die getal drie − wat ʼn belangrike tematiese motief word – aktiveer. Die vertaal- en redigeringswerk skep ʼn aardse, serene, dagbreek-mooi gevoel vanaf Dante en Vergilius se ontmoeting (in canto 1) tot en met Dante weer die sterre van hoop kan aanskou (in canto 34). Die volgende tersine in canto 1 was vir my uiters opvallend en skep ʼn agtergrond waarteen die teks uitgelê kan word:

 

Ek het gesien hoe die wimpers van die son verrys,

die rooivingerdagbreek het na weerskante van sy flanke

gekyk om aan die mensdom die regte koers te wys.             (p.88)

 

Die verduidelikings en voetnotas na elke canto getuig van ware toewyding en gee die deursnee-leser toegang tot die verborge geheime en totaliteit van die teks. Die voetnotas verwys na die versreëls waarin die verduidelikende begrip/konsep/simbool voorkom en daar is dus geen voetnotas wat ʼn steurende effek op die vloei van die teks het nie. Vir die meer gesofistikeerde leser mag die voetnotas dalk ʼn sekere ‘uitleg’ aan die teks probeer toedig wat hy/sy nie wil hê nie máár dit sal sulke lesers vry staan om die voetnotas te ignoreer. Die volgende aspekte word aangespreek:

 

  • ʼn Kort opsomming en verduideliking van die canto word gegee
  • Verdere biografiese gegewe met betrekking tot Dante word verskaf
  • Karaktersketse en karakters se historiese agtergrond word gegee
  • ʼn Uitleg van die teks, die beelde, motiewe en simboliek
  • ʼn Verduideliking van Italiaanse, Middeleeuse en Griekse terme
  • ʼn Stawing van sekere van die beelde met Bybelteksverwysings
  • Mitologiese uitleg en ʼn verduideliking van intertekstuele letterkundige werke
  • Verduideliking van die Middeleeuse politieke en sosiale omstandighede

 

Die teks is deurspek met universele waarhede wat ʼn soort spirituele strekking daarstel. Kyk byvoorbeeld na die volgende aanhaling waar aardse weelde en gierigheid as die geluksgodin Fortuin gepersonifiseer word volgens die verklarende aantekening aan die einde van dié canto (p.168):

 

Die wysheid van God, die hoogste van alle dinge,

het aan elke sfeer ’n mag gegee wat dit regeer,

en wat voldoende lig uitstraal na alle hemelkringe,

 

sodat elke deel aan elke ander deel lig mag gee.

So het Hy dan vir die rykdom van die aarde

’n algemene minister en beheerder laat optree

 

om van tyd tot tyd die ydele welvaart te herverdeel,

van volk tot volk en van een familie na ’n ander.

Menslike geslepenheid aanvaar dit sonder neul;

 

daarom heers een volk en ’n ander volk kwyn,

in ooreenstemming met haar verdoemende uitspraak,

wat soos ’n slang in die gras plotseling verdwyn.              (canto 7, p.164)

 

Die karakter Vergilius speel ʼn belangrike rol in die epos, en getuig van die grootsheid van die letterkundige werk. Volgens die verklaarder simboliseer Vergilius menslike rede (p.26) óf kan hy gesien word as ʼn orakel-figuur (p.94). Vergilius – as gids – speel ook ʼn rol wat gelyk gestel kan word aan die hoep-hoep in Magmoed Darwiesj se gelyknamige liriese epos en die mistiese gesprekke wat die digter Jelaluddin Rumi met Shams Tabrizi in sý digkuns voer. Soos in die geval van Rumi (met betrekking tot Shams) en Darwiesj (in die hoep-hoep) speel Vergilius die rol van spirituele meester – die een waarna Dante op (kan) kyk – wat die epos – as dit as ʼn aardse, of innerlike, reis beskou kan word – baie interessant maak. Elke mens word ooreenkomstig menslike rede, sy geestelikheid, die spirituele meester óf gees van God gelei tot by ʼn punt waar hy/sy – ten spyte van ons menslike aard en/of wêreldse gebrokenheid – uit kan kom by ʼn punt waar ons wéér hoop kan hê. Hier is ʼn voorbeeld van Vergilius se wyse ‘leiding’:

 

“Die filosofie maak dit vir een wat verstaan,

duidelik – nie net op een plek en een feit nie –

hoe die natuur, op soek na begrip, haar weg sal baan

 

deur die goddelike intellek en wyse beleid:

As jy op die wette van die fisika ag slaan,

sal jy goed weet dat kunstenaarskap hom altyd,

 

sover moontlik, aan die natuur verbind,

soos ’n leerling in sy meester se spore loop;

jou kuns is as’t ware God se kleinkind.                      (canto 11, p.210)

 

Vir die navolgers van die Chirstentradisie is die publikasie ʼn skatkis van wysheid en waarhede. Met die verklaarder se verduidelikings na elke canto – met talryke stawende Bybelse teksverwysings – kan enige persoon (gelowig en ongelowig – alhoewel dit veral tot Christenlesers sal spreek) die diepte en trefwydte van die epos (beter) verstaan met betrekking tot: hel, loutering en die paradys maar óók die allesomvattende genade (maar ook toekomstige toorn) van God.

Vanuit ʼn vertalingsoogpunt kan die teks as ʼn unieke selfstandige kunswerk in Afrikaans tipeer. Gemeet aan die maatstaf soos daargestel deur Walter Benjamin in sy opstel The Task of the Translator (sien aanhaling in bronverwysings)[iii] van wat as die plig van die vertaler beskou kan word, synde om die vlekkelose taal – wat in enige letterkundige werk opgesluit lê −  in die herskepping van die kunswerk vry te stel − slaag Cas Vos se werk die toets. Die vertaling is ʼn wonderlike toevoeging tot die Afrikaanse literêre kanon.

Soos wat vertaling ʼn reis kan wees soos wat die vertaler in deel 13 van die aantekeninge (Vertaling van Inferno in Afrikaans) verduidelik aan hand van Breyten Breytenbach se siening soos uiteengesit in die nota in Oorblyfsel/Voice over[iv] − netso word Dante se reis, ʼn reis om weer die sterre (in watter opsig ook al) te sien (sterre wat dan ook ʼn belangrike tematiese motief word – sien onder andere p.107 reël 116; p.165 reël 98; p.265, reël 66; p.266, reël 83; p.485, reël 139 en p.314).

Soos wat dit vir Christenlesers bes moontlik ʼn reis sal wees om ‘hemel’ en ‘hel’ beter te verstaan; óf dit vir die soeker/dromer ʼn reis kan wees om homself in ʼn samelewing van “duister dieptes van menslike maglus, besittingsbeheptheid en korrupsie” (p.10) te vind; glo ek dat dit vir die literatuurliefhebber ʼn reis sal wees − om in sy/haar moedertaal − die verborge openinge wat die Afrikaanse vertaling op hierdie klassieke meesterstuk agterlaat, te ervaar:

 

ons het opgeklim – hy was voor, en ek tweede,

tot waar ons die hemelse prag in die oog kon hou,

deur ’n klein ronde opening, ’n deurgang na vrede.

 

En daar het ons uitgekom, om die sterre weer te aanskou.    (canto 34, p.485)

 

 

[i] Kaptein Koebaai, Koos Kombuis Elke Boemelaar se Droom. Anton Goosen t/a Bushrock Music. 2014 – (lied oor doodgewone boemelaar van Stellenbosch)

[ii] https://www.poetryfoundation.org/poets/dante-alighieri  “Dante invites us to read his poem as he expects us to read the Bible, that is, to believe in the historical truth of the literal level. And this extends to the figural symbolism of the main characters in the allegory of the poem. We are not dealing with consistent or typical allegory … his is much more sophisticated.”

[iii] Walter Benjamin, The Task of the Translator soos vertaal en geredigeer deur Marcus Bullock en Michael W. Jennings, the President and Fellows of Harvard College. 1996 “It is the task of the translator to release in his own language that pure language which is exiled among alien tongues, to liberate the language imprisoned in a work in his re-creation of that work. For the sake of the pure language, he breaks through barriers of his own language.”

[iv] Breytenbach, B. 2009. Oorblyfsel / Voice Over (op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj) / (the nomadic conversation with Mahmoud Darwish). Human & Rousseau, Kaapstad.