Posts Tagged ‘Geleende seisoene Carla Botha’

Resensie: “Geleende Seisoene” (Carla Botha)

Thursday, July 28th, 2022

 

 

 

 

Geleende Seisoene deur Carla Botha, Minimal Press, 2022

 Resensent: Joanette van der Merwe

 

Die uitgewersinligting beskryf Carla Botha se debuutbundel Geleende Seisoene (2022) as ‘n “diep menslike gesprek met elke leser… ieder en elk wat worstel met die alledaagse, kortstondige lewe – geloof, liefde en verliese”. In diens van hierdie projek word die verwante temas van herinneringe, die verloop van tyd, en reis (fisies sowel as psigologies) ingespan.

Alhoewel die gebrek aan afdelings in die bundel inspeel op die vrye assosiasie waarmee herinneringe mens op loop kan neem, sou ‘n meer doelbewuste struktuur dalk ‘n sterkter subteks moontlik gemaak het waarin gedigte meer vrugbaar wedersyds met mekaar in gesprek kon tree.

Die bundel se eerste gedig, “Voorwoord”, lei die tema van kinderherinneringe in, en die bundel open dan ook met “Kinderdae-haikoes” (7). Dat hier sprake is van herinnering, gefilter deur die volwasse spreker se blik, kan gesien word in die kommentaar wat die spreker op die kindertydbeelde lewer: “jare steels verby”, “BMX-dae se soeke na balans”, en die stelling waarmee die laaste haikoe open, “Ek herroep kindsbeen”.

Hierdie sprekerskommentaar kom reg deur die bundel na vore en skep veral in die kindertydgedigte ‘n afstand tussen die spreker en haar onderwerp wat opvallend is. ‘n Voorbeeld hiervan is die verkleinwoorde wat gebruik word om te verwys na die kinders, insluitend die “ek”, waarom die gedigte gaan: “beentjies vol krappe en wit-skurf” (“kies jou sonde”, 12); “klein gesiggies oorvol slierthare” (“Kwarantyn”, 26); “bruin gebrande lyfies” (“Sus & Somervakansie”, 61).

Alhoewel die volwasse spreker se terugblik op kinderherinneringe ‘n bekende raamwerk in die poësie is, laat dit my met die gevoel dat die leser op ‘n afstand gehou word. ‘n Meer onmiddellike aanslag – wat die leser ín die oomblik indompel – sou dalk die afstand tussen teks en leser verklein, veral in ‘n gedig soos “Sus & Somervakansie” (61), wat andersins ‘n sterk gedig is. ‘n Ander voorbeeld is die verwysing na “oupa-wyshede” in “oupa” (p.14), wat ‘n volwasse terugblik aandui. Alhoewel die insigte in enige gedig noodwendig op die spreker se persoonlike waarneming berus, wonder ek wat die gedigte kon vermag het as die digterspreker hier minder opsigtelik was.

Tematies staan die verloop van tyd sterk voorop, en van die bundel se sterkste beelde word effektief aangewend om hierdie verloop te beskryf: skelm of sku, onopvallend in die oomblik maar verwoestend in effek, onstuitbaar. Voorbeelde hiervan is die “jare steels verby” (“Kinderdae-haikoes”, 7), “ruïnes van onthou-jy-nog” (“kinderspeletjies”, 11), “tyd [wat] deur ons vingers / soos verbode vrugte geglip” het (“In Memoriam”, 72), of die sysie wat as metafoor dien vir die oomblik wat nie vasgevang kan word sonder om dit te dood nie:

 

tingerig nes die jare

verby koes,

probeer ek jou vang

in skadunet-wip

saadjies en ‘n proppie

vol water vir jou dors,

maar jare fladder

verskrik verby,

vasgevang in ‘n strik

word ons oud

val die wip

die sysie morsdood.

(“broos”, p. 8)

 

Die kortstondigheid van tyd word telkemale bevestig – “Ek kan nie / anders as dink aan tyd verstreke” (“Fragmente uit ‘n Dagboek”, 35); “Dagbreek het die nag aangespreek: / jou tyd is verstreke” (Goeie Ou Dae”, 52) – en die indruk waarmee mens gelaat word is die eg-menslike hunkering na ‘n verlede tyd wat (soms sentimenteel, soms selfbewus) beskou word as “beter”:

 

tussen wit en grys strepe stof

            wat hang oor die langpad soek

ek na die verlede, die onthou-

jy-nog, brein-kiekies van ons

kaskenades…

[…]

ek verwens die sekelmaan

            biddend dat vervaagde herinneringe

            sal opduik soos ‘n naguil verlief

            op die donker – afwagtend dat

            ‘n oorvol maan hom sal bekoor,

            oor en oor tussen silwer sterrestof

van dit wat lank gelede was.

(“In Afwagting”, 69)

 

Soos “In Afwagting” (69) word die beeld van reise en paaie meermale figuratief in die bundel gebruik om die lewensreis sowel as die emosionele afstand tussen mense aan te dui. ‘n Voorbeeld is “Welgeluksalig (1)” (16), waar die soeke is na “‘n weg / maklikste uitweg, teerpad sonder / spitsverkeer, kortpad / terug na jou”, en die “afdraaipaaie” waaroor “[s]tof hang” in “Liefde Is Verspreide Buie” (15) wat in die konteks van ‘n geskil tussen geliefdes die twyfel oproep van keuses wat vroeër gemaak is.

‘n Ander beeld wat gereeld voorkom is dié van lig en donker, oggend en aand, dag en nag. Anders as die beeld van reise en paaie wat kruisbestuif en met herhaling tussen gedigte dieper lae betekenis opbou, voel die dag/nag-beeld egter gou oorgebruik, miskien omdat die betekenis daarvan meer voor die hand liggend is, byvoorbeeld die verwysing na “Oggend se nuwe beloftes in sonsopkoms” in “My Suid-Afrika” (47), of die “donker hemel / wat swaar weeg elke keer / as nog ‘n dag verwelk” in “In Afwagting” (69).

Soos in die kindertydgedigte is die digterspreker se aanwesigheid op ander plekke ook opsigtelik, veral waar ‘n gedig se boodskap in die slotreëls netjies opgesom en geïnterpreteer word, byvoorbeeld in “Goeie Ou Dae” (52): “Geskiedenis loop meermale hand aan hand met /

sonde wat elkeen van ons eendag sal moet erken”, of “DOGS NOT ALLOWED” (60): “Wie wil tog nou vir ewig herinner word aan / verstreke streke, nukke, grille en hondepis?”

In die sterker gedigte word die beelde gelaat om vir hulleself te spreek. ‘n Voorbeeld is “Welgeluksalig (2)” (17), wat geen verduideliking of slotsom bied nie, maar eerder gevul is met evokatiewe beelde en eindig met ‘n retoriese vraag. “My Suid-Afrika” (47) laat ook die beelde om vanself te spreek sonder slotsom of verduideliking. Ander voorbeelde is “sou” (18),

“Kaapstad Waterfront” (34), “Laaste Dae Lyk So” (40), en “Week van Depressie” (42), waarvan die oopheid en gebrek aan interpretasie in laasgenoemde roerend die inhoud ondersteun.

Ook “Nagevolge” (53) en “Verganklikheid” (56) is treffend in hulle eenvoud, en spreek tot die idee dat minder meer is: hierdie gedigte verskaf bloot die beelde en laat die interpretasie aan die leser oor, ‘n proses wat meer voel na ‘n wedersydse betekenismaking eerder as ‘n lessie. Ook in “In die Kaap” (58) laat die gebrek aan finale leestekens die boodskap ongefinaliseer en oop vir interpretasie:

 

Laventel pers en koue

oorlog op die vlaktes

trane verdriet en as

            Jy sê: God is groot

            Ek sê: Die kleur is grou

 

‘n Ander voorbeeld is “Iemand” (p.63), waarvan die oper boodskap juis in die konteks van die bundel se temas van herinnering, toekomshoop en -ontnugtering, verlies en teleurstelling sy krag kry:

 

Iemand

            het ‘n hand vol vere

            by die deur gelos –

            ek het die deur oopgemaak

            met die hoop dat ‘n engel

            sou binnestap maar dis

            pure dagdromery.

 

Terwyl ‘n gedig soos “Die Natuur se Manier” (66-67) met moeitelose alliterasie en assonansie getuig van ‘n digterlike oor vir klank, is daar ‘n paar gedigte wat struktureel opvallend is. “slapeloos” (19), “Op Nóg ‘n Volmaan Aand” (23), “’In die Sweet van Jou Aangesig…’” (36-37), “Nou Eers” (48), en “Lang Skaduwees” (54) maak almal gebruik van twee-reël strofes en gevolglike enjambement wat minder funksioneel as geaffekteerd voel. Dit is dalk net ‘n stylvoorkeur, maar persoonlik sou ek hierdie gedigte meer geniet het as daar ‘n groter samehang tussen struktuur en inhoud was.

In die algeheel is die krag van Geleende Seisoene die wyse waarop die verskillende temas by mekaar aansluit om die idee van herinnering en die verloop van tyd en verlies uit verskillende oogpunte aan te bied. Die sterker gedigte in die bundel getuig van ‘n fyn aanvoeling vir die menslike psige, en is iets wat ek hoop om in Botha se volgende bundels ook te sien, aangewend tot ‘n nuwe tematiese kluster.