Resensie: ‘n Bruin blaar tuimel (Henriëtte van Wyk)
Wednesday, November 11th, 2020
‘n Bruin blaar tuimel deur Henriëtte van Wyk. Minimal Press, 2020.
Resensie: Joanette van der Merwe
Henriëtte van Wyk se debuutbundel is ‘n kreatiewe verwerking van aftrede en ‘n poging om tot verhaal te kom in ‘n leefwêreld wat eensklaps klein geword het, maar terselfdertyd skielik té groot is in die wyse waarop die afgetredene haarself onsigbaar voel in die buitewêreld waar sy nie meer ‘n rol speel nie.
Die eerste drie afdelings in die bundel vorm saam die “aftree fragmentasies”, en die titels som die temas van die grootste deel van die bundel op: “fragmentasie van die ontrukte”; “fragmentasie van stille tuimeling”; “fragmentasie van verwering”.
Woorde wat telkemale in hierdie afdelings herhaal word is “ontrukte” (11, 13, 18); “nutteloos/nuttelose” (11, 17, 37); “funksieloses” (14); “onbruikbaar” (15); “verslane” (21); “leeg/leë” (26; 28; 34); “stilte” (27; 35; 46; 47); “klankloosheid” (30), asook woorde wat dui op ‘n afwesigheid soos “happe” (25); “gate” (25); en “holte” (30).
Hierdie herhaling skep ‘n bykans kloustrofobiese gevoel, soos aangedui word in die gedig “die ontrukte” (18):
hoe verskraal die dag se ritme.
alles in enkel klanke.
Die herhalende woorde wat deur die “aftree fragmentasies” weerklink, toon hoe die afgetredene se leefwêreld verskraal, gevul slegs met eggo’s van die wêreld daarbuite, soos in die gedig “dieselfde uur” (12):
weektyd klink anders hier by die huis:
‘n laat kar ronk
‘n sementmenger tuimel
iemand fluit
dit raak stil
net ‘n hond wat huil
…
dit suis –
net ‘n mens wat skrik.
In die gedig “tydlyn” (16) verskerp die kontras tussen binne en buite:
die oggend vibreer ‘n miernes –
dit kap, dit bou, dit boor, dit skree
dit drup ‘n snoer in-die-sweet-van-my-aanskyn
…
in die hoekie van my huis
stuif stof op ‘n leertas
tuimel ‘n doodswoord op die bruin wand –
Mene Mene Tekel Upharsin
verbysterend die toerniket
wat sel en sin versmoor
en al wat op hierdie ondermaanse oorbly
is God en ek
Terselfdertyd weerspieël die herhalende woorde die wyse waarop daar na sin en betekenis gegryp word, en hoe ‘n lewe nuwe patrone moet vind in die afwesigheid van die roetines wat eens vorm aan die dae en weke gegee het.
In die afdeling “fragmentasie van stille tuimeling” verskuif die fokus na die oudword-proses. Die beelde in hierdie verse is aangrypend in die wyse waarop hulle onderliggend aan die weerloosheid van veroudering ‘n tydlose aardsheid oproep:
die spieël wys ‘n ou grotvrou
oë leeg in die styl van niks
stil gelaat nes sediment gevou
(“grotvrou”, p.26)
Die gedig “fermentasie” (36) dui ‘n omwenteling in die beelde en temas van die digbundel aan:
spruit ‘n siklus oop
waar bruin blare gaan lê
want die stilte van winter
broei oerverbindings brekend
waar bruin blare gaan lê
gis die einde van volmaakte voltooiing
…
kiem die lower van borrelende verandering
want die stilte van winter
fermenteer feestelike vrolikheid
spruit ‘n losspringende siklus oop
Hierdie versoening met die siklusse van die lewe lei tot die gedig “’n sin op” (37), wat open met die erkenning:
die werke van jou hande
in die ruimste sin daarvan
het geen sin nie –
dwaal jy in die waan van nuttelose waarde
beroof dit jou van sinne
Die frase “die waan van nuttelose waarde” roep terug na ‘n vroeër gedig met dié frase as titel (11). In hierdie gedig wys die frase op die “ontrukte en verwaaide” wat haar “krag van behoort verloor” het en as ‘n “bruin blaar” “tuimel… na stilte” om te “verdwaal in die wind se warrel” (11).
In “’n sin op” (37) verkry die frase egter ‘n ander betekenis. Dit is nie meer ‘n roulied vir die “ontrukte en verwaaide” nie, maar eerder die begin van introspeksie ten einde betekenis in iets dieper en van meer ewigdurende waarde te vind. Dit is ook opvallend dat die frasering van “’n sin op” ook herinner aan 1 Korintiërs 13:1-3, wat weer terugwys na die gedig “sonder simbaal” (31).
Dit is hierdie voortdurende terug- en kruisverwysing tussen die verskillende gedigte wat die bundel sy bekoring gee. Die herhaling van woorde, frases, beelde en begrippe pas soos ‘n raaisel ineen en noop die leser om telkemale op soek te gaan na waar die woorde die eerste keer voorgekom het. Om hulle dan in ‘n ander konteks te sien, verdiep die verstaan van beide gedigte, sowel as die bundel as geheel. Die konstante beweging tussen gedigte gee ook vorm aan die bundel se struktuur: soos ‘n wyerkringende spiraal van die engte van die kamer en die huis, na die geliefde en die natuur, tot waar God en ‘n verdiepte geestelike besef gevind word.
In die afdeling “fragmentasie van verwering” is daar steeds verlies: aan tyd (“tyd tik dit”, 42); die verlede (“ou ouerhuis”, 43); jeug (“tien duskant honderd”, 44; “spieëltjie aan die wand”, 48); en kinders wat grootgeword en die huis verlaat het (“ontdekking”, 46). Daar is egter ook ‘n gevoel van openheid en uitreik na die groter wêreld en iets buite die self:
oë kyk die horison oop
sien die anderkant –
die vors van lewende waters
waar daar rus is
in die mat van die iris
staan ‘n goue son op
…
oë kyk die hemel oop
breek vrywillig die uur
(“na waters waar rus is”, p.45)
Die afdeling sluit af met “die poort van die bo-maanse”, waar natuurbeelde heenwys na die goddelike en die gewaarwording rig bó die aardse bestaan na die beskouing van oneindigheid en ewigheid. Die idee van die “bo-maanse” word ook gevind in die gedigte “geseënd” (57), en “binnestilte” (63), wat in kontras staan met die versmorende “ondermaanse” waar net “God en ek” oorbly in “tydlyn” (16).
Die temas van natuur, die goddelike, en dieper verbintenisse word voortgesit in die volgende afdeling, “om te is”, wat volgens my beide tematies en verstegnies die sterkste gedigte in die bundel bevat.
Die laaste gedig in “om te is” is getiteld “die aard van bestaan” (66). Net soos die eerste gedig in “fragmentasie van die ontrukte” (“in die waan van nuttelose waarde” (11)), word die beeld van ‘n blaar gebruik. Waar dit aanvanklik gedui het op verwerping, nutteloosheid en verganklikheid, word die beeld in “aard van bestaan” vernuwe om vreugde, belofte, en aanvaarding aan te toon:
om te lewe is
elke dag se blaredans
gedra in die bries van belofte
en ‘n blink weerkaatsing van die dowwe spieël
om onbevange verby die onbekende net te is
Die laaste afdeling is ‘n versameling van haikoes. (Van Wyk het vroeër ‘n versameling haikoes gepubliseer: Padhaikoes in Namibië, 2016, Wordweaver Publishing House.) Die haikoes is my gunsteling deel van die bundel en dit is ’n bekragtiging van Van Wyk se sterkste punte as digter: ‘n fyn oog vir die natuur en ‘n ewe fyn aanvoeling vir taal op die vlak van woorde en klank.
‘n Bruin blaar tuimel is ‘n stewige debuut wat die digter se bemeestering van klank en struktuur vertoon. Ek sien uit daarna om te sien op watter temas sy in haar toekomstige bundels sal voortbou.