Posts Tagged ‘huldigingsgedigte N.P. van Wyk Louw’

N.P. van Wyk Louw 50. Pirow Bekker

Friday, February 7th, 2020

 

Verbeelde antwoord van Galileo Galilei – afgelei uit briewe aan hom deur die oudste van sy twee buite-egtelike dogters Virginia en Livia van die klooster San Matteo in Arcentri

Ek sal die wil self en die denk
                                      weer rein maak en twee vlamme op U altaar
  – Die inkwisiteur in “Die hond van God” (NP van Wyk Louw)

 

My geliefde dogter Virginia
(vergun jou vader gebruik van dié naam
ter ere van my suster, te vroeg ontslaap,
en natuurlik van jou, haar naamgenoot,
voordat jy in San Matteo opgeneem is
om as Maria Celeste die sluier te aanvaar)

Vergewe my my in gebreke bly
om flink op elke brief te reageer.
Ek het aan veel verwagtinge nie voldoen nie
waarvan die grootste seker is: die teleskoop.

Vir jou word ene uit die voet uit saamgestel
met pynlike presisie, ek beloof, sodat jy
met jou eie oë kan sien
en jy kan weet:
jy sal weet
soos die hemele sal jy weet
geen moedswil is hier ter sprake nie.

Jy sal weet
hoe swaar die las van afstand weeg. Waarom
jou vader nie mat kan raak nie van lense slyp:
sodat ander reisigers, ook julle, jy en jong Livia
in julle selle,
’n glimp van die heelal kan kry.

Ek self het nodig
om deur die dons steeds helderder te sien
hoe vaar ons stabiele ster, ons son, se wilde lote,
hoe uitdagend Venus en Jupiter se mane
eeue se skimmel van hul skuur, hoe soveel satelliete
aandag opeis in hul wentelbane. Kykers sal kan insien
gange word nie uitgelê deur ’n astrant verbeelding nie
maar net karteer deur dienaars soos Copernicus –
’n naam waarvan die noem ’n rooi planeet
laat flikker.

Ek vind myself soms verlore, kind,
in al die dinge, soos bose geeste in die lug.
Maar dan weet ek weer: Dis hemelliggame
wat onstuitbaar kom           en vlug.

Ek mag nie voel ek’s deur hulle in die steek gelaat
noudat die toorn opgewek is in heilige kantore
en ek betrek by die vrug van goed en kwaad,
my met woorde moet verweer, simbole,
terwyl in die stram asuur my bondgenote, my getuies
terugkrimp voor die inkwisisies wat hier wag.

Nee, vergewe my!
Bloot die gedagte sondig. Dis laster
van een van die minstes, wat liefs net moes arbei
in sy mak wiskunde en wingerd
verwyder van die vierskaar oor ou Copernicus.

Sondiger as dié
woeker jou deurlugtige sire, speur hy onbehoorlik lomp
die hemel in, staar hy al skerper op die maaksel
van die werklik Deurlugtige wat alle eer verdien
maar in sy skepsel ook die drang geënt het
om van ’n eenvoorploeg en perd,
halsstarrig gemen soos hy, die muilband soos ’n swaard,
oor halfmane stof aan sy skoene heen op te kyk     te wil gaan
waar hoër, kouer paaie lê.

En dan: geboorte
van ’n nuwe vrees. Vir die botsings wanneer paaie kruis.
Sy dogters, in hul eie bane, is opgerig om bruid te wees
by die bestemde Wederkoms. Onverdrote, onverskrokke
stuit niks hul in hul omgee nie, triomfeer hul menslikheid
te midde van boodskappe uit die hospitale, selfs oor lazaretto’s,
dat die kruipende Groot Pes skynbaar vlerke kry.

Dis bloed van sy bloed
wat pols in dié heel-alligheid. Nie die swye van die magtiges
baar, met die vrees saam, donker twyfel nie – eerder die vrae
woordeloos in hom gelaat deur hulle, sy dogtersusters,
eens vrymoedig onder sy dak: Waarom die huisaltaar
van hul kinderdae verraai? Die antwoord uitgestel vir later
terwyl die Bruidegom nog talm en hy hulle kan meevoer
op sy onbegane bane. Waarom die wankel in sy hande
met die fynvat vir die wentelinge? Hemel, die trauma
van ’n kosmos aansteeklik nader bring!

Dankie, geliefde kind,
dat jy my nie knoop, nie afbreek nie. Dankie dat jy verstaan
so ingeboet in sterrestelsels kan ek nie buk nie: ek
’n wingerdstok, onopgelei, teen rank en reik verknot!
In ruil vir leef
in julle warmte sal ek met vreugde aanhou produseer
vir jou en klein Livia – vrugte van hoër gehalte
sodat ook ek met my behoeftes baat kan vind
by wat jy in die klooster se apteek berei:
die pasteie, die konserf – o, die marmelade uit die sitrus! –
die marsepein: versoeking vir my eersgeboortereg!
En dan, uit sobere besorgdheid: die aalwynremedies
met roosekstrak om die bitter te versag; die suur
van rabarber verdoesel, maar veselryk behou
vir die opelyf.

Wees, kind, nie verderaan bekommerd nie oor my:
Ek sal die klere wat jou liewe hand herstel
met eer kan dra, ook na die Vatikaan.
Sou my boek se lot die vuur wees, maak dit nog lig;
sou een teleskoop nog staan – mag hy vlamwerper
word wat, met die blouduiwels weggebrand, sal wys
dié ou tuinier se oë bly elders, gevestig op sy weet
terwyl hy hier genoop is om kop in te trek
omdat hy, glo, aan die wêreld se selfgekluisterdes
knolle vir sonsittersitroene sou verkoop.

 

© Pirow Bekker 2020

 

N.P. van Wyk Louw 50. Thomas Deacon

Friday, January 31st, 2020

 

karoodorp: somersdag
(met apologie aan N.P. van Wyk Louw)

 

die karooson het bloed geword
geen treine meer wat fluit
die wit-bont klaas-skawagter
is die lokasiekind

huil in die lokasie hoor die huil
by die dorpsdam vrek ’n witborskraai
en ou omies loop knokkelknieg
in pep store-broekies rond

dóér op die wipgatpad
dreun lorries met hul wegmaakskaap verby;
oom-appie-slagkraal sit voor sy huis
en slyp die mes

Tan’-Tollie-met-die-tranestem
sing manie jackson-liedjies op die stoep
en dag na dag hoor die bure
hoe sy die reënvoël roep.

 

© Thomas Deacon

N.P. van Wyk Louw 50. Daniel Hugo

Friday, January 24th, 2020

 

Vir VWL

ek dra die blou steen in my hand
hy vat my hart na anderland

 

in die agterplaas wat flikker
van die son het ek hierdie fles
vol gruis gemaak – louwarm glim-
mer dit nou in my skrywersnes

 

met die duifblou gruis in my hand
hunker my hart na Sutterland
– ’n silwer herberg in die sneeu –
jy weet presies hoe beef die hand

 

© Daniel Hugo

N.P. van Wyk Louw 50 jaar. Aankondiging

Wednesday, January 8th, 2020

Vanjaar (2020) is die vyftigste herdenkingsjaar van die sterfdatum van die gevierde Afrikaanse digter, prosaïs en dramaturg, N.P. van Wyk Louw, op 18 Junie, ’n week ná die eenhonderd-en-veertiende herdenking van sy geboortedatum op 11 Junie. Verskeie herdenkingsgeleenthede en -publikasies word vir vanjaar beplan. Versindaba, in samewerking met Bernard Odendaal en Ronél Johl, het einde verlede jaar ’n uitnodiging aan gepubliseerde digters gerig om met Louw se digterlike nalatenskap in gesprek te tree op enige manier wat hulle poëties goedvind – huldigend, voortskrywend, satiriserend, ironiserend of teensprekend. (Kyk hieroor ook elders op die Versindaba-webwerf by: https://versindaba.co.za/2019/10/24/np-v-wyk-louw-50-jaar-later-2020/.) In die weke wat intussen gevolg het, het interessante verdere moontlikhede begin opduik waaroor ons mettertyd aankondigings sal doen en het ons ook wonderlike gedigte begin ontvang wat ons van vandag af gereeld weekliks op Vrydae hier sal plaas. Ons hoop dat die gedigte in die eerste plek aan lesers genot sal verskaf en tweedens nog digters sal aanspoor om ook deel te word van die projek om een van die heel groot geeste in ons uitgebreide kultuurgemeenskap in herinnering te roep en te huldig.

 

  •