Posts Tagged ‘Jacques Roubaud’

De Waal Venter. Jacques Roubaud in Afrikaans

Monday, January 2nd, 2017

slide-roubaud-copy

Jacques Roubaud

Die wêreld is klein, die wêreld is groot, punt.

’n Bespreking van aspekte van Jacques Roubaud se digkuns.

.

LA VIE: SONNET

   000000 0000 01

   011010 111 001

   101011 101 001

   110011 0011 01

  

Dit is die eerste kwatryn van die Franse digter, Jacques Roubaud, se sonnet “Die lewe”. Hoe lyk die Afrikaanse vertaling daarvan? Presies dieselfde! Die nulle en ene stel die digitale funksie voor waarop alle huidige rekenaars en programme gebaseer is. Nul stel die elektroniese “hek” voor wat “toe” is en die syfer een stel ’n “oop” hek voor. Elektriese strome vloei dus deur die stelsel afhanklik van die patroon van oop en toe, nul en een. En uit daardie patrone word geheel en al alles geskep wat ’n rekenaar kan doen.

Dit word so gedefinieer deur WhatIs.com:

“Digital describes electronic technology that generates, stores, and processes data in terms of two states: positive and non-positive. Positive is expressed or represented by the number 1 and non-positive by the number 0. Thus, data transmitted or stored with digital technology is expressed as a string of 0’s and 1’s. Each of these state digits is referred to as a bit (and a string of bits that a computer can address individually as a group is a byte).”

’n Kritikus,Katheryn McDonald, het van Roubaud se werk gesê dat dit tegelykertyd in twee rigtings beweeg. Dit is aan die een kant bewustelik gekompliseerd. Dit maak onder andere van wiskundige simbole gebruik. Hierdie soort poësie vra die leser om te fokus op die taal in die gedigte. Die digter nooi ook lesers uit om stukke van gedigte in ’n versameling rond te skuif en die samestelling van die boek te wysig soos hulle wil.

Jacques Roubaud, nou in sy tagtigerjare, is in 1932 gebore in Frankryk. Hy is ’n geëerde digter, essayis, romanskrywer en wiskundige. Hy het twee doktorsgrade, een in wiskunde en een in letterkunde. In 1966 is hy genooi om by die Oulipo-groep aan te sluit.

Wikipedia het die volgende oor die groep te sê:

“Oulipo (French pronunciation: [ulipo], short for French: Ouvroir de littérature potentielle; roughly translated: “workshop of potential literature”) is a loose gathering of (mainly) French-speaking writers and mathematicians who seek to create works using constrained writing techniques. It was founded in 1960 by Raymond Queneau and François Le Lionnais. Other notable members have included novelists Georges Perec and Italo Calvino, poets Oskar Pastior, Jean Lescure and poet/mathematician Jacques Roubaud.”

“Constrained” kan bv. beteken dat jy ’n gedig of selfs ’n roman skryf sonder dat die letter e ooit daarin voorkom. Dit klink taamlik eksentriek, nie waar nie!

Die verkenning van smart

In 1983 sterf Roubaud se jong vrou, Alix, op 31-jarige leeftyd. Die digter kon sy smart baie moeilik verwerk. Hy het kort na haar dood die gedig “niks” geskryf. Daarna het hy vir dertig maande niks geskryf nie. Uiteindelik het hy weer begin en ’n reeks prosa-gedigte geskryf wat geheel en al anders was as sy Oulipo-tipe gedigte. Hierdie gedigte was diep bepeinsinge van die doodservaring, die smart wat dit veroorsaak vir die minnaar wat agterbly en die liefde wat oorbly.

Hierdie gedigte is gepubliseer in “Quelque chose noir” in Engels vertaal deur Rosmarie Waldrop as “Some Thing Black”

Sy skryf dat geen ander skrywer hom al ooit so onwrikbaar toegespits het op die ondersoek na en die beskrywing van die vele vorme van smart, verbystering, leegheid en die eensaamheid wat met ’n sterfte gepaard gaan. Geen ander skrywer, meen sy, het al ooit ’n soort troos gebied terwyl eerlik en indringend gekyk word na die ingewikkelde maniere waarop die agtergeblewene geaffekteer word deur so ’n verlies. Die gedig “Identiteit” is ’n goeie voorbeeld.

IDENTITÉ

Quelle identité serait tienne, de ta mort ?

tu es, diraient certains, la tombe et son dedans,

               et la pierre tombale avec ton nom

Identiteit

Watter identiteit kan joune wees, dié van die dood?

Jy is, sal party sê, die graf, en sy binnekant,

en die grafsteen met jou naam

maar dit is niks anders as om te sê:

lewend, was jy hierdie liggaam geklee en ongeklee,

hierdie liggaam wat jou gedagtes (of jou siel) bevat het

en die liggaam wat ook die naam gedra het, joune

identiteit duur nie voort in die wêreld behalwe deur hierdie analogie

jy is, sou ander sê, soos jy herskep word

in die geheue, as hulle onthou, van hulle

wat, al is dit net vir ’n oomblik, jou geken het

so sou jy wees, maar verdeeld, veranderlik, teenstellend

afhanklik, in flitse,

en wanneer daardie ander dood is, sal jy nie meer wees nie.

en ongetwyfeld, weer eens ontleen die idee van

lewe na dood sy eienskappe van die wêreld aan jou lewe

maar, vir my is dit heeltemal anders:

elke keer as ek aan jou dink, hou jy op om te bestaan.

hqdefault

Jacques Robaud lees voor uit sy werk

Die speelse Roubaud

Daar is ook die speelse kant van die digter. Die Oulipo-digter “speel” met idees en wiskundige formules, maar die poësie waarin Roubaud se ander soort speelsheid uitkom is van ’n heel ander aard.

Hy vertel van die keer toe sy bundel kinderverse in Franse skole vesprei is. Op ’n dag kry hy ’n brief in ’n kind se handskrif. Dit is geskryf deur ’n sewejarige seun, Pierre, wat nie oortuig is dat Roubaud nog lewe nie, alhoewel sy pa hom verseker het dat dit wel die geval is. Pierre was onder die indruk dat daar geen lewende digters in die wêreld is nie.

Pierre skryf verder dat Roubaud na die skool toe moet kom sodat hulle kan sien dat hy regtig leef. “Jy sal sien daar is so ’n knoppie by die voordeur,” verduidelik Piere, “Druk dit net en dan sal hulle vir jou oopmaak.”

Roubaud skakel toe die skool en hulle reël ’n besoek vir hom. Daar aangekom, word hy aan die klassie voorgestel en hy lees vir hulle van die kindergedigte wat hy geskryf het. Sommer gou is die kinders tuis met hom en hulle noem hom “Jacques”. Toe kom Jacques by die gedig “La vache: description”. Hier is die gedig:

fat-cow-copy

Vet koei met drie bene

Beskrywing van ’n koei

Die

koei

is

’n

dier

wat

ongeveer

vier

bene

het

wat

afgaan

tot

op

die

grond

“Maar hoekom sê jy ‘ongeveer’ vier bene?” wil die kinders weet. Koeie het mos presies vier bene! Nee, antwoord Jacques. Hoe weet julle? Partykeer staan ’n koei op so ’n manier dat jy net drie bene kan sien. Het julle alle koeie se bene getel? Wie sê daar loop nie naby Savoy koeie rond met drie bene nie? Of vyf?

Hier is nog ’n voorbeeld van Roubaud se humor:

Die kiem

.

Die gedig is daar, maar jy het ’n mikroskoop nodig om dit te sien.

images-1-copy

Die wonder van ’n punt

En wanneer Roubaud in erns besin oor die wêreld en aard van die werkikheid, dink hy, tipies van ’n wiskundige, aan ’n “punt” en hoe oneindig klein dit is , maar ook oneindig groot – ’n punt waaruit alles ontstaan:

Que le monde était là

Jacques Roubaud

M’endormant je voyais que le monde était là,

le monde et tout ce qui s’ensuit

Dat die wêreld daar was

Toe ek aan die slaap raak, sien ek die wêreld is daar,

die wêreld en alles wat daaruit voortkom;

“nou” kleiner as ’n punt

agter geweldige en ernstige kleure.

Zoemende jare kom van ver af terug,

hoek van straat met straat,

spore weggespoel deur die reën,

geel stof versamel in my hand.

Toe ek aan die slaap raak, sien ek al hierdie dinge:

die warmte en ellips van die put,

die aarde, waar die blare gewigloos is,

die water presies, gelykmatig in balans.

Ek het gesien, toe ek aan die slaap raak,

dit wat ek nou al jare lank verwelkom

maar wat ek nie kon onthou nie:

heel jare, vol waarheid,

dit wil sê, as jy wil weet, vol van die dood.

Ek wou nie, terwyl ek aan die slaap raak,

sien wat ek al te veel gesien het nie.

Nota: Die gedigte is uit Frans vertaal deur De Waal Venter

  •