Jeanne Goosen. Jaarliks
Sunday, December 26th, 2021
vanaf 25 November tot 25 Desember
arriveer my familie per pos
Hulle is wiegende gesigte op stingels
Hulle papiermonde raas: geseënde Kersfees, geseënde Kersfees . . .
Bibberende Piet is ’n krom kitaar (hy sing gans te veel.)
My suster (sy het haar hande vir eierklitsers verruil)
is ’n brandende kers wat dor en droomloos drup.
My broer (o, hy is anders as ander mense)
is ’n boom wat aanhou reën.
Maar die roos is my moeder
Die roos met die geslote mond is my moeder ja
Kersnag begin sy leef
reis sy ’n asemtog deur die heilige nag,
omvat sy my met al haar blare.
Sy kom staan voor my, ’n verslete kop
’n boetebos vol kinderverhale.
Sy is ’n roos my moeder
’n Kerskaartjie
wat taai gelewe is aan drome.
© Jeanne Goosen, Kerskaartjies, fragment uit Orrelpunte, Perskor, 1975.