Posts Tagged ‘Joan Hambidge resensie Nomadiese sterre’

Resensie: Nomadiese sterre (Joan Hambidge)

Saturday, May 29th, 2021

 

 

 

 

Nomadiese sterre deur Joan Hambidge. Protea Boekhuis, 2021.

Resensie: Janien Linde

 

Joan Hambidge se 29ste bundel, Nomadiese sterre, is in 2021 deur Protea Boekhuis uitgegee. Daarmee bevestig Hambidge weer eens dat sy een van die mees produktiewe digters in Afrikaans is.

Die bundel is pragtig uitgegee met illustrasies van sterrebeelde op die buiteblad, tesame met die digter se naam in ʼn prominente swart kol, of gat. Die beelde op die buiteblad en die swart gat wat deur die loop van die hele bundel as struktuurmerker gebruik word, skep duidelike assosiasies met die hemelruim, die gewelf, swart gate en alles wat simbolies daarmee saamhang. Die woord “nomadiese” in die titel voeg die idee van reis, soek, en beweeg by. Die gedigte in hierdie bundel blyk oorkoepelend saamgebind te wees deur die kruispunt tussen die simboliese waarde van die gesterntes, die idee van nomadies lewe, en die verbygaan van tyd, alhoewel hierdie interseksies nie geforseerd voorkom nie. Die gedigte in die derde afdeling vervleg byvoorbeeld gemaklik reisverhale met herinneringe aan geliefdes; romanties, vriendskaplik en wat familie betref. Die liefdesverse in die tweede afdeling sentreer rondom verlange, eensaamheid en die ontvlugting wat eie skryfwerk bied. Eie aan Hambidge bou die gedigte aan ʼn digte intertekstuele netwerk van eie herinneringe, poëtikale uitsprake en gesprekke met ander digters en literatore.

Tyd is ʼn tema wat deurlopend sterk na vore tree. In hierdie opsig is die gedigte wat die Covid-pandemie as onderwerp het, spesifiek interessant. Die gedig “Covid-19” (p.41) verwys spesifiek na temporele verwarring, ʼn ervaring wat soveel mense tydens die tye van inperking beleef (het):

 

                Nou met te veel tyd op ons oë: O:O

                waar ruimte gekoppel word aan tyd dus: tydruimte.

                Waar is al die horlosies heen in dié herinnering

                se terugdraai: tot voor hierdie inperking

                toe alle wysers loop stilstaan het op: O:O (?)

 

Bostaande gedig is nie die enigste een in die bundel wat handel oor die pandemie en die gevolge van inperking wat in die bundel voorkom nie. Die aangrypende gedig “My dubbelbed” (p.31) beklemtoon die eensaamheid, verlange en onvermydelike introspeksie wat die digterlike persona ervaar as gevolg van die inperking:

 

                Nou is daar ellendes soos die koronavirus

                en veral o waar o waar is die liefde

                van voorverlede jaar?

 

In die gedig “Die oorwinning van die ietermagô” (p.40) word op vermaaklike wyse gedig oor hoe die “pangolin” met sy “geboende, geskubde lyf, rondomtalie / diehereweet, oor ʼn voleindige totale aardbol”.

 

                Hy dans die dans van die dood vooruit

                en sleep ʼn virus saam met sy agterpootdans

                (…)

                Vir sangomas helaas nie meer ʼn gelukbringer nie;

                almal staan nou op hul agterpoot oor ʼn ietermagô.

 

“Liefde in die tyd van korona” (p.42) verwoord hoe geliefdes “vanselfsprekend ʼn masker” moet dra terwyl hulle, sonder “aanraking of soen” en in “verskillende tydsones”, hul liefde vir mekaar moet uitleef:

 

                Jou plek én myne (terselfdertyd);

                net ʼn gedeelde skerm: min of meer.

 

Met hierdie gedigte word Hambidge moontlik die eerste digter wat in ʼn gepubliseerde bundel skryf oor die gevolge van die covid-krisis, ʼn tema waarvan ons waarskynlik heelwat in die toekoms sal sien. Sy skryf oor die eensaamheid, die verlange na geliefdes asook die praktiese gevolge van dié “nuwe oorlog”: “van maskers en alkoholvrye wyn tot ʼn aandklokreël” (p.57).

Een van die temas wat teen hierdie tyd welbekend is in Hambidge se oeuvre, naamlik die dood, word uit die aard van die saak ook tot ʼn mate in die lig van die virus benader, met die roerende lykdigte in die vierde afdeling wat telkens die vraag “wát sou jy van alles maak?” (p.57) laat deurskemer. Die volgende reëls uit die gedig wat aan Stephan Bouwer opgedra is, belig die teenwoordigheid van die dood tydens die pandemie:

 

                Vir die groot geleentheid, die dood

                repeteer ons daagliks in Covid-tyd,

                met ʼn heil die leser of bottoms up! (p.60)

 

Sy wonder verder hoe haar oorlede vader se “gebede nou sou klink / in hierdie tyd van virale oorlog onbeklink?” (p.46). Die onderwerpe, tyd en die dood, word verder verbind met die reismotief wat ook deurlopend in die oeuvre voorkom. Die “nomadiese sterre” van die titel dui op ʼn besinning rondom die onkeerbare verloop van die tyd. Soos in vorige bundels word die digter se lewenservaringe- en -herinneringe verbind aan reise wat sy onderneem het en plekke wat sy gesien het. Die reise is dan ook simbolies van innerlike reise na die self, reise waarin Jung en Freud deurlopend teenwoordig is. Die gedigreeks “Witbank-Blues” in die laaste afdeling is byvoorbeeld ʼn reis wat begin by sketse van herinneringe van die digter se kinderdae en eindig by emosies van heimwee tydens ʼn hedendaagse familietroue.

Die bedreiging van ouderdom en die dood is immer onder die oppervlak. Die beeld van die swart kol, of gat, waarvan reeds melding gemaak is, sluit goed hierby aan. ʼn Swart gat word beskryf as ʼn area van tydruimte waar die gravitasiekrag so sterk is dat niks dit kan ontsnap nie. Reeds in die tweede motto van die bundel word die Amerikaanse digter Theodore Roethke se idee van die “abyss” betrek:

 

                I live near the abyss. I hope to stay

                Until my eyes look at a brighter sun

                As the thick shade of the long night comes on.

 

Roethke se motto laat ʼn mens onwillekeurig wonder of hierdie Hambidge-bundel moontlik as laatwerk getipeer kan word. Die eerste reël van die openingsgedig “So teen hierdie latenstyd ʼn terugkeer” (p.11) versterk dié vermoede. Dit is egter nie so maklik om laatwerk te identifiseer in ʼn oeuvre waar daar reeds deurlopend met die dood en met eindigheid in gesprek getree word nie (vgl. byvoorbeeld die bundel Lykdigte uit 2000). Aan die een kant word laatwerk soms getipeer deur ʼn sereniteit en ʼn rustigheid; ʼn tipe kulminasie van die estetiese taak. Aan die ander kant sien ʼn mens soms ʼn onversetlikheid, ʼn rebelsheid en onverwerkte teenstellings in laatwerk (vgl. Van Vuuren, 2011). Hambidge se oeuvre problematiseer hierdie gedagtes aangesien die oeuvre in geheel beskryf kan word as onversetlik en gevul met teenstellings. In Nomadiese sterre is die struwelinge met kritici (vgl. “Die kruiwawiel se skreeugeluid” [p.20], “My kop ʼn kluis vol geheime” [p.21] en “My muse” [p30]) byvoorbeeld steeds teenwoordig en die soeke na die “ideale Leser” (“Optelsom” [p.24], “Biblioteek” [p.55]) is steeds onafgehandel. Sou Hambidge se oeuvre eintlik lank reeds getipeer kon word as laatwerk aangesien die bundels telkens vrae vra oor die dood, die verbygaan van tyd, estetiese betekenis, sukses en vooruitgang? Alhoewel heelwat van die gedigte in die bundel ʼn gevoel van terugkyk gee, asof die digter besin oor haar lewe, is daar steeds ʼn onrustige spanning en ʼn disharmonie aan die poësie. Daar is dus nie sprake van die sereniteit waarvan vroeër melding gemaak is nie. Daar word wel in die bundel melding gemaak van heelwat “konflik onverwerk”(p.11). Die gedig, “Onder nomadiese sterre” (p.11), blyk ʼn oorsig te gee oor die digterspreker se eie lewe: dit beskryf hoe die “onthoue / en afranselinge” (die kindfiguur as “ʼn muurblom immer uit pas / met die lewensdans se ritmes”, as “eenspaaiig, eenrymend”), hand aan hand gaan met die ontvlugting wat sy in die “hartenswoord(e)” van haar poësie kon vind. Die poësie en skryfwerk word aangebied binne die spanning tussen herberg, ontvlugting (vgl. “Prosopopeia” [p.68-69]) en “rehab” (p.63) enersyds, en andersyds graf (p.23) en lykshuis (p.22) waarin die geliefde, die Leser en Muse, altyd steeds soek is.

Alhoewel daar dus heelwat gedigte is wat elemente van laatwerk vertoon, soos die proses om terug te kyk en op te roep, is daar nog geen sprake van rustige afhandeling of afsluiting nie. Die laaste gedig eindig immers met die woorde “En dan soveel dekades later steeds sóveel dansmusieke…” (p.81). Boonop het daar in 2021 twéé Hambidge-bundels verskyn. Dié digter is nog glad nie klaargeskryf nie.

Die interessante paratekstuele elemente wat die bundel vergesel (soos die buiteblad, die swart gat wat die afdelings aandui, en veral die astrologiese kaart wat aan die einde gedruk is) het vir hierdie leser gelyk na interessante leidrade wat nuuskierig in die gedigte uitgesnuffel kan word. Maar op tipiese postmodernistiese (Hambidge-) styl is hierdie insluitings eerder losdrywende tematiese eilande wat terloops bygevoeg word en eerder betekenis laat uitwaaier as wat dit spesifieke aanduiders van betekenis is. Dit het my gelaat met ʼn gevoel van onvoltooidheid, asof ek nog ʼn paar gedigte mis, en asof sommige van die afdelings effens skraal is. Alhoewel die oorgrote meerderheid van die gedigte sterk op hulle bene staan, het die geheel van die bundel my effens teleurgesteld gelaat. Maar ek sal weer gaan lees, en weer en weer. Miskien lees ek tog iets mis.

Die lees van Nomadiese sterre is, soos in die geval van elkeen van Hambidge se bundels, ʼn intense proses. Soos sy self sê: “Om te skryf is om intenser te lewe. Jy lewe eintlik twee keer: eers werklik en dan in die skryfwerk” (vgl. Hambidge en Meyer, 2015). Om te skryf is vir haar ʼn manier om joernaal te hou. Nomadiese sterre is ʼn joernaal oor mooi herinneringe aan vriende, familie en betekenisvolle reise. Maar dis ook ʼn bundel oor tyd, oor die bedreiging van oudword en die dood. Dis ʼn bundel oor verlange en eensaamheid. En die waarde van skryf, en aanhou skryf.

 

Bome (p.37)

Oor bome, treurende bome, soos ʼn wilger,

ʼn sipres, ʼn bloekom op die walle van ʼn rivier,

staan opgeteken in die familieboom van my gedigte.

Die jaarringe van my gedigbome verklap

ʼn lewenshouding van voortvarend tot bloeiend.

Hoe het die lewe my nie blindweg gesnoei nie?

My weerbarstige, selfgerigte takke is afgekap

tot vuurhout vir kritiese en ongevraagde lesers.

Nou is dit net die bome, treurende bome, ʼn wilger,

ʼn sipres, ʼn bloekom op die walle van ʼn rivier

wat nog staan vóór die finale inspit in ʼn dennehoutkis.

 

Verwysings:

Hambidge, J & Meyer, N. 2015. Tien vrae: Joan Hambidge oor Matriks. https://www.litnet.co.za/tien-vrae-joan-hambidge-oor-matriks/

Van Vuuren, H. 2011. “’n Almanak van klippe”: Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge). LitNet Akademies, 8(3):462-487.