Posts Tagged ‘Johann de Jager’

Johann de Jager. My “bekoring” tot poësie

Saturday, January 9th, 2010

Blogfokus

 

“Bekering` tot die poësie? Julle wil weet hoe en wanneer, in my geval. Die lotgevalle van die seuntjie vervolgens beskryf, is hoe dit gebeur het, en lyk meer na `ʼn geboorte in die genre as na `ʼn bekering, of terugkeer van `ʼn verlore seun-tipe.

Tydskrifte, `ʼn paar boeke en `ʼn hond het die seuntjie se hele wêreld gevul wanneer sy ouers vir kort rukkies te besig was met huis- en plaaswerk om vir hul alleenkind ook speelmaat te wees. Storiekarakters in die ou Huisgenoot, Brandwag en Die Naweek onder andere, het sy broers, susters en speelmaats geword. Hy kon al `ʼn klompie woorde ontsyfer voor hy skool toe is. Veral gedigte was kort genoeg om so `ʼn ontsyfer-oefening prakties te maak.

Vandag is die seuntjie in sy twee en sewentigste bestaansjaar, en een gedig, toentertyd gelees, spook steeds by hom: Wie, wat, wanneer? Dit was uit een van die ou tydskrifte geknip, en in sy eerste eie Bybel bewaar, maar het uit bewaring ontsnap asof uit `ʼn C-Max gevangenis. Nou kom die woorde terug: Ek het `ʼn woord hoor ruis / asof dit lig gepluim / op golwe van die hemelsee / asof van ver gerig / deur ons verwarde weet van ja en nee /  nou ylings oor die eterdeining sweef … O, hoe het die emosie nie die jong kind aangegryp nie!

Van die reëls ontbreek nou al, die gedig kom gefragmenteer terug wanneer iets van sy aura en wese by die lees van ander gedigte, tussen die vreemde versreëls opstaan: …Ek hoor, ek hoor jou ruising rein idee / ek wil jou vasklem om my uit te dra / verby die niksweet en die onmagswee

So klink die fragmente daarvan wat nou reeds vir 64 jaar ten minste, aanhou koggel aan die woorde van selfs onvergeetlikes soos van Wyk Louw, Opperman,  Eybers en ander. Maar deesdae veral, word die rigting waarin die poësie beweeg gemeet. Die ou vers het `ʼn toetssteen geword, en al het styl- en verstegnieke verander, word die emotiewe in die moderne  – dikwels te serebrale – werk, steeds gemeet  aan die jeugekstase waarna die seun in sy geriatriese fase, bly soek. “Ek het `ʼn woord hoor ruis …”

Of dit dus `ʼn `bekering` vanuit `ʼn ander genre na die poësie was, weet ek nie. Eerder was ek daarin gebore. Die terugkeer van die kinderdroom en ekstase, na tye van letargie weens, veral politifisering van die Afrikaanse poësie – al sou dit selfs onregstreeks in die digters se lewensfilosofie (of gebrek daaraan) soos `ʼn souffleur by die voetligte vir die gehoor onsigbaar wees – het ontbreek in die moderne vers, en daar is buite Afrikaans gesoek na die bevrediging van poëtiek, sonder politiek. Dylan Thomas: (Under Milkwoord,) Anna Ahkmatova se besoek aan Alexander Blok onder andere. Aaaaa – daar was weer iets van die ou gedig. Nou, na ontgogeling en selfs belydenis van sommige Afrikaanse digters en skrywers oor die onbedoelde gevolge van hul bydraes tot die chaos in onderwys en sommige ander dissiplines hier te lande, herleef Afrikaanse poësie weer, dus `ʼn renaissance eerder.

Nou kom die enger poësielyn, prosodies weer uit die breër gedig tevoorskyn. Laasgenoemde slegs `ʼn woordraam vir die eerste, soos `ʼn goeie skildery ook in `ʼn vergulde houtraam gemonteer word. Daar het te veel leë rame aan Afrikaans se galerye gehang waar spuitverfrenegate graffiti teen die muur gespuit het om die raam sin en rede te probeer gee.

Kan ek die `bekering` dus `bekoring` maak, beskryf aan die hand van  die Boek der boeke se aanbeveling om te verander en soos die kindertjies te word?

Ek het `ʼn woord – dié WOORD – nie hoor ruis in die tye van demonisering van die Afrikaanse taal weens p-korrekte faktore nie. Hopelik is dit nou verby en bely ons die waarhede onbevange, sodat die poësie in die gedig (soms toegedraai in “bubblewrap”) ons kan vasklem om ons uit te dra verby die niksweet – wat so luid verkondig word – en die onmagswee.

Groete. En as iemand wat hier lees my kan help om die ou vers te identifiseer saam met sy digter, koop ek vir die persoon `ʼn skeepsvraggie springbokbiltong op `ʼn Karoodorp.

 

Johann de Jager

 

  •