Posts Tagged ‘Lady Anne Barnard gedig A Krog’

N.P. van Wyk Louw 50. Antjie Krog

Thursday, June 11th, 2020

 

 

 

ONTMOETING TUSSEN LADY ANNE BARNARD AND SAMUEL JOHNSON

 

“om te roei sonder hawe.” 

notas van Lady Anne Barnard vanuit Kaap Goeie Hoop

 

om die Swart Dik tuisgebroude Kragsop van Sparta te ontkom

moes ek dikwels aansit by die tafels van mans deur vrouens vir mans

om uitgestal te word   aangebied as maagdelike baarmoeder

vir welgestelde adellikes wat bie om my bloed te meng

met dié van hertog of markies

 

& hulle kom, o ja, hulle het gekom

die hooghede stormloop soos antilope

& hoewel my hart dit werd is, was my kop verward

(ouer mans gebruik mos die double entendre:

wat beteken ek is nie veronderstel om hul ontugtige

gedagtes te snap nie, maar mag ook geen beswaar hê nie)

 

gelukkig:

 

ek het gou geleer

 

& slaag met gemak daarin om

die beskroomde te bevry van inkennigheid

die weifelende te lok   die ydele tot verstomming te koketteer

die egoïs te ontwrig   die gevatte te plesier

die beledigende te ontpit en die meester te uitoorlê

 

dus was ek gereed toe die Werklik-Belangrike Man opdaag

aan Huis van die Skotse Ete-rati: die Engelse taal

se MUrsus Major   se Kolos   se Intellektuele Knater

 

geplaas oorkant hom na links

kon ek my uitkyk aan sy beroemde profiel –

’n berg van grillige scrofula-wanstaltigheid

sy vel dofgeel   sy bewegings paraplegies

sy houding selfingenome

sy sinne uitgespreek asof almal dit wil herhaal

 

vir ’n uur en ’n half was hy stil

soos hy met gepaste venyn die dierlike in homself voed

 

vanselfsprekend het ek toe reeds geweet wat die hitte van sy brein geskryf het hoe sy woordeskat kan fluweel die verruklike kan blootlê hoe donker hy kan verpels ook die angswekkende die diepgevreesde kan aftas hoe hy sy werk onverklaarbaar verras met beginsels hoe hy wedersydse brooswees wedersydse uithou verstaan en nooit versag word deur skoonheid of oorweldig deur status nie sy werk hou my gevange dus vind ek grasie in sy wanstaltigheid so vol uitgeslape strategieë om te verbyster en aandag te ontvoer

 

ek wag dus my kans af

wakkergemaak deur die Leeu self vra ek ongevraagd ’n vraag

wat soos ’n blou visvanger oor die tafel flits

hy draai sy volle aandag stadig na my toe

gluur na my met sy soetskeel oog deur die hare van sy pruik

peil my waarde terwyl hy die mes onhandig in sy hand om en om rol

 

maar die dikbek-dier in hom is gewek

ek moet vinnig vlei

& gebruik sy begaafdheid om sy nederige geboorte skoon te vee:

‘would not the Son have excused the Sin, Doctor?’ vra ek

die dosis skop in   & hy word oordadig toegeeflik

 

ek het nog nooit weer aan daardie aand gedink nie, tot nou

– hier in Afrika langs ’n watervalpoel die kleur van bier

dit het gistraand gereën

& die poel, ag die poel stort oor en storm halsoorkop af in die vallei van weligheid –

ek het inderdaad my eie irritasie vergeet

oor die belaglike moeite met die tafelrangskikkings

die kos, die na-etekonsert

& hoe die mans altyd effe ergerlik inkom

omdat hulle gesprekke onderbreek is

& hoe as vrou

jy jou sintuie kloof om vas te stel:

waarvan sal hy hou? wat sal hom bekoor?

wat sal jou uniekheid na hom oorbring?

wat sal sorg dat hy nie sy rug op jou draai nie?

wat sal hom laat oogkontak maak?

 

wat is dit wat maak dat mans so gemaklik planete op hulle vingerpunte spil?

 

ek het eintlik nie weer aan dié aand gedink voor nou nie

 

’n verlate, diepberoofde vrou hier tussen groot geelhoutbome

fynbos tarentale olyflysters en ’n malagietgroenjangroentjie

soos ’n juweelhangertjie in die blare

ek probeer die Ou Beer omvat   vashou aan sy volheid

sy totale vertroue dat hy iets onweerlegbaar beteken in die lewe

 

vir my as uitgeskuifde/vervangde is dit nie meer moontlik nie

 

alle hoop het my verlaat

 

ek staan op en stap die watervalpoel binne as ’n laaste kontinent

ingestel dat dit die einde is in hierdie groot rooskleurige vloed klipbak

bokant my knak een blou-verinnigde bergkrans in die ander

ek buig my knieë

& gee die water my verslae inhoud

stadig sak ek af

afgeslote deur ’n bruisende basaltgebedde stilte

my mond word water

my elmboë leem

uit my oë wrong donker oranjekleurige modder

ek vly my neer op die stroombed

my arms omhels ’n rots as my dode-bark

hou my! vat my! vul my vir altyd!

dat hierdie maalkolk van begeer van selfvermorsing kan oorgaan

dat die angel van oorgawe die finale inperking binne-priem …

 

… agheregod bars ek die oppervlakte uit in doodsangs en woede

selfveragting en woede   woede woede woede

 

my stem brul oor die water waar vinkneste soos snikke hang

 

© Antjie Krog, 2020 (versnotas, op uitnodiging van Versindaba geskryf, met N.P. van Wyk Louw se geboorte 114 jaar gelede in die agterkop)

 

  •