Posts Tagged ‘Louise Viljoen resensie’

Indrukke: “Meer as woorde” (Rina Cascione)

Friday, December 3rd, 2021

 

 

 

Louise Viljoen skryf vanuit Jeffreysbaai oor haar indrukke van Rina Cascione se Meer as woorde.

 

Naledi publiseer Rina Cascione se digbundel getiteld Meer as woorde.

Dit is voorwaar lekker om deesdae al meer te verneem van senior persone wat grense verskuif en navolgingswaardige prestasies behaal. Ek was sommer baie opgewonde toe die koerier Rina Cascione se debuutdigbundel, Meer as woorde, by my huis aflewer, want Rina is ’n volle 88 jaar oud.

Hierdie kunssinnige vrou wat glo haar hele professionele loopbaan, en ook die jare daarna, aan die kunste gewy het, se versameling gedigte stel nie teleur nie. Inteendeel, dis ’n kosbare toevoeging tot Afrikaanse letterkunde, want dis geskryf met ’n byna tasbare grasie, beheersdheid en wysheid wat dikwels by jonger digters ontbreek. Die jeug se drif en woede en drang om alles te verander, het gaan lê. Wat oorgebly het, is rivierklippies wat mettertyd deur die lewe self glad gespoel en afgerond is, maar steeds onwrikbaar en vir seker solied klip gebly het. Rina se gedigte is bedrieglik sagkens gesluier, maar as jy die dun lagie bedekking versigtig eenkant toe vee, blik die bruid met helder, stil oë jou vol, reguit en sonder skroom aan en sien tot in jou diepste diep. Haar gedigte is van dié wat jy ’n paar maal ná mekaar lees. Nie omdat die woorde nie sin maak nie, nee, maar juis omdat jy soveel daarin herken. Wie rol dan nou nie ’n spoelklippie oor en oor in sy mond nie?

Meer as woorde beslaan 101 bladsye en 72 gedigte (wat delf in aspekte van die liefde, reise na Europa, weduweeskap en jeugherinneringe) en 11 vertalings uit Italiaans, Engels en Spaans. Die skrywerfoto pryk in wit en swart op die agterblad tesame met ’n kort biografie. Rina het musiek op Stellenbosch studeer en ook vir drie jaar in Strasbourg en Genève. Aan Unisa het sy ’n B.A.-graad, met onder meer kunsgeskiedenis, Frans en Duits behaal. Sy het klavier en musiekgeskiedenis aan die Musiekdepartement van die Technikon in Pretoria doseer en het ook as musiekeksaminator vir Unisa opgetree. Verder het sy op die keuringspaneel van Unisa se Internasionale Klavierkompetisie gedien.

Taal en musiek lê Rina se wese vol. Sy deponeer hierdie volheid in haar gedigte. Haar woorde, op ’n pikante maar doelbewuste wyse gekies, vorm ’n geheel soos keurig geplaaste musieknote wat ’n meesleurende melodie word vir dié wat weet om hulle ore te spits. Sy dig só in “Vriendskap” (58): My vingers gly oor die wit / van die vaas, / druk dit teen my wang / en hoor die aanvangsnote / van Beethoven se Opus 110/ uit ’n blinkswartvleuel styf.

Nie net kry die woordbeelde gestalte in die waarderedende leser se geestesoog nie, maar dit pols met ’n eiesoortige ritme wat uitdyende rimpels op die siel se oppervlak trek. Mens wil-wil jou kop skuins hou om elke gedig se meegaande deuntjie te hoor. Neem as voorbeeld die atmosfeer wat sy so treffend skep in “Rit na die stad” op bl.14: Die son se laaste strale kwyn. / In grys versomber die hemel / en bome skuif geraamterig verby. Ek het nie eens nodig om die res van die gedig te lees om te weet dat patos en verlange sterk figureer nie. A, en dan die sonderlinge treurige wysie wat asof magies in my ore begin draal …

Daar is ook die bykans oorverdowende klanke wat soos vuurpyle vanaf die bladsy gelanseer word in byvoorbeeld “Haelstorm” op bl. 18: Skielik bars / die hemel oop. / Witblink albasters, / enorm en rapats / kartets geweervuur / na die aarde. En dan die volgende woorde in strakke teenstelling: Opeens ’n makabere stilte. Mens ruik amper die storm en voel die kilte daarvan teen jou wang. En natuurlik het stilte sy eie klank. Hier is nog ’n voorbeeld in “Reënstorm” op bl.19: My diepslaap versplinter / deur die reën / wat op die sinkdak spletter Die woorde abba swaar aan die geluid wat jou oortrommels vul.

Rina se liefde en ontsag vir die natuur is duidelik waarneembaar in talle van haar gedigte. Sy span dit dan ook treffend in soos ’n selfversekerde dirigent wat ’n simfonieorkes skynbaar moeiteloos met sy stokkie begelei. Hier volg enkele voorbeelde:

 

“Droogte” (22): Die son skilder ’n wit / geboortemerk / op die eikeboom se stam.

“Lukraak” (24): Bo my treur ’n maan / meer troosteloos / as verdriet.

“Van Gogh” (37): Kraaie kras oor ’n koringland / en die nag spieël sterre / suurlemoengeel / in die water daaronder.

“’n Tyd in die son” (46): Soos ’n liewensheersbesie / onverwags op my hand, / loer jy in, kom haal my / vir middagete.

 

Sy speel suksesvol met kleure (sien ook “wit” en “suurlemoengeel” hier bo) asof sy haar hand aan ’n ingewikkelde borduurpatroon waag en elke steek presies in plek moet wees. Hier volg enkele voorbeelde:

 

“Kwatryn” (78): In Ysland bars ’n smeulende vulkaan / siedend uit in riviere goud en rooi,

“Luiperd” (17): Die fotograaf het hom / in volle vaart gestuit. / Spikkelgeel uitgehang.

“Groet” (50): Wit duiwe groet, / waaiervlerk / na die blou. / Die besorger ry weg.

“Vertrek” (80): Wanneer die Middeleeuse son / sy koper strale terugtrek / oor wit Alpe, / staan ek hande en vryf / voor goudrooi kaggelkole

 

Daar is ook Rina se liefde vir reis en geskiedenis wat sterk deurkom in haar werk. Sy ryg ver plekke se name soos blinkgepoetse pêrels aan ’n string wat jy jaloers in jou vuis wil toevou om later weer van te droom: Die Hermitage troon trots teen / die Neva in St Petersburg / en van die kus oor die verre see / wink Finland se dowwe lynIn Parys staan ons voor/ Monet en Renoit / en in salige Sorrento / sit ons ure by die see (“In stede” (51)). Maar altyddeur keer sy terug na Suid-Afrikaanse bodem. Iewers in Toskane / wuif Bolandse wingerde / en net voor ons / by Santa Maria Novella ingly, / tik ek Franse parfuum ligweg aan (Paasnaweek (39)) en Vanuit sonverbleikte Spanje / reis ’n klein pakkie / tussen hande / na veraf Suid-Afrika (Vriendskap (58)) en “Pappa, waar Ghagras / en noeibos / deur harde aarde beur, / die visarend se fyn kyk / hoog uit ’n boom / die rivier deurkam / en die vleiloerie klokhelder / roep teen Grootrivier se wal, / het ek jou as gebring (Terugkeer (69)).

Aanhalings in Engels van Ezra Pound, Mark Strand, John Keats, Robert Browning, Thomas Campbell, Robert Frost en Yehuda Amichai skei die onderafdelings van die bundel en komplementeer die keuse van gedigte asook die trant en stemming daarvan. Die afdeling aan die einde van die bundel bevat die vertalings van Cesare Pavese (1908-1950),  Robert Frost (1874-1963) en Jorge Luis Borges (1899-1986) se gedigte. Mens lees mens proe-proe daaraan om die bederf langer uit te rek. Bo ’n bleekgeworde blom / ontdek ek ’n mot, / wit en styf soos satyn, / deur ’n spinnekop, / dimpelvet, vasgevang. / Dood en verderf, nes sop / in ’n heksepot, om die dag / paraat mee aan te voer (“Ontwerp”, Robert Frost (102)).

Ek wil my nie uitspreek oor die tegniese aspekte van die gedigte nie – daar is baie meer bekwame resensente wat ’n beter “jop” daarvan kan maak – maar dat elke gedig vir my op ’n uitsonderlike manier mooi is en my daaroor laat peins het, is waar. En lê die sukses van ’n gedig dan nie juis daarin dat dit die leser ontroer nie? Soms op veelvuldige vlakke. My gunstelinggedig is “Triolet” op bl. 66:

 

Die naguiltjie roep

good-lord-delive-r-r-r-us.

Jy sê dis verby, ’n deur klap.

Die naguiltjie roep.

 

Jy reverse, wiele skree, enjin raas

En ek trek my trui nog stywer om my vas.

Die naguiltjie roep

Good-lord-delive-r-r-r-us.

 

Rina Cascione se debuutdigbundel getiteld Meer as woorde is voorwaar ’n lieflike versameling gedigte wat ek beslis weer sal lees.