Ek het nog altyd gedink dat ek die Renaissance sou kies as ek in enige tydperk in die geskiedenis kon leef. Dit was die goeie ou dae toe jy in die oggend aan die Mona Lisa se glimlag kon werk (moet die mond ‘n bietjie boontoe of ondertoe krul?), helikopters in die middag kon ontwerp en in die aand skelm lyke kon gaan opgrawe om meer oor jou eie anatomie te leer. Dit was ‘n tyd van bruisende opgewondenheid oor die mens se potensiaal om homself uit sy omstandighede úít te dink.