Posts Tagged ‘Marius Crous resensies’

Resensie: Uithoeke/outcorners (Hans Pienaar)

Monday, August 24th, 2015

Uithoeke/ outcorners: Fotogedigte/Photopoems. Hans Pienaar.

Altviolet, Melville, Johannesburg. (www.altviolet.co.za.) Slapband en grootformaatboek met foto’s. 150pp. ISBN: 978 0 620 6444 33.

Resensent: Marius Crous

Omslag

In haar gesaghebbende On photography (1977) gebruik Susan Sontag die metafoor van Plato se grot om aan te dui hoe ons visueel verarm vasgevang sit en die spesiale rol wat foto’s speel om ons denke te bevry:

This very insatiability of the photographing eye changes the terms of confinement in the cave, our world. In teaching us a new visual code, photographs alter and enlarge our notions of what is worth looking at and what we have a right to observe. (1)

En dan veral die volgende opmerking is relevant vir hierdie gepubliseerde kreatiewe projek van Hans Pienaar:

To photograph is to appropriate the thing photographed. It means putting oneself into a certain relation to the world that feels like knowledge — and, therefore, like power. A now notorious first fall into alienation, habituating people to abstract the world into printed words, is supposed to have engendered that surplus of Faustian energy and psychic damage needed to build modern, inorganic societies. (2)

In die essay “Foto, gedig, fotogedig” wat opgeneem word in uithoeke sluit Pienaar by Sontag aan en skryf hy oor die relasie tussen foto en gedig in sy werk. Pienaar noem byvoorbeeld dat daar ’n paradoksale opvatting bestaan dat “’n foto beide ’n hiperrealistiese rekord van ’n toneel is, en ’n totale vervalsing kan wees daarvan.” Dink maar net hoe maklik kan ons foto’s deesdae manipuleer met digitale tegnologie.

’n Ander kwaliteit van foto’s waarna hy verwys is die “dubbelsinnigheid” daarvan. Selfs al is ’n foto ’n rekord van ’n bepaalde moment wat vasgevang word op kamera, staan dit die kyker vry om allerhande denotasies en konnotasies aan die foto te koppel. Hans Pienaar se fotogedigte is een poging om ’n interpretasie van ’n spesifieke foto te gee, want soos Barthes in sy Image, music, text ( 1978) aandui, is elke kode waarmee die kyker ’n foto benader arbitrêr.  Sekere kodes en tekens het geïnstitusionaliseerde konnotasies, maar dit sluit nie die interpretasie van die foto nie.

Pienaar se fotogedigte is sy interpretasie van ’n bepaalde moment wat vasgevang is in uiteenlopende plekke soos Beijing, die Vrystaat, Taiwan, Nigerië, Oudshoorn en Suid-Korea. Kyk mens na die tekens in die foto en lees dan die gedig in beide Afrikaans en Engels, dan merk jy op watter aspek van die foto vir hom as fotograaf en digter belangrik was – maar ek as kyker-leser kan ook ander dinge in die foto inlees, sou ek nie die konteks noodwendig ken nie. Plasing van objekte soos spiese teen ’n skoolmuur of ’n pop teen die agtergrond van gul vroue op ’n skildery of die omkrultoon van ’n kind by ’n swembad met drywende Barbie-poppe rig die oog en laat mens vrae stel.

Dikwels is die toeligtende gedigte beskrywings van die sentrale uitbeelding op die foto, maar dikwels dien dit ook as ’n vertrekpunt vir ’n besinning of nadenke. Die Engelse vertalings is nie vir my oral ewe sterk nie en is eerder parafrases van die digterlike Afrikaanse reëls. Vergelyk byvoorbeeld “Ondier” (11) se beginreëls:

Sterftes … in ’n oorlog lank vergete hier,

op ’n heuwel sonder naam. G’n grafsteen,

net een raam gekruis op ’n ander.

Teenoor:

            Some men died here, in some war

            long forgotten on a hill with no name.

            No gravestone, just one frame crossed

            upon another.

Maar die Engelse vertaling verduidelik ook soms vir mens wat die oorspronklike Afrikaans bedoel.  Die digter manipuleer ook die vertaling om doeltreffender en ritmies sy boodskap oor te kan dra.

Oor van die foto’s het ek baie interessanter gedigte verwag. “Bedelkind” (103) is vreemd en praterig.

Nes ander weer vondste bevat wat my verras het. So val die digter se oog op die “volk / se driewiel” (25) of op die rooi ferweelmat in Beijing waar die voetspore gou uitgewis word (29). Of die oorgawe van Hong Kong aan Kommunistiese China word beskryf in terme van die “gode van staal en spuitverf / [wat] stampkarre met bakwerk [speel]” (107). ’n Foto van ’n kruis teen die agtergrond van Oatso Easy-bokse dien as prikkel vir ’n slim beskouing oor die godsdiens (111).

’n Kalender met 12 halfnaakte wit spierpaleise uit die Verenigde Nasiepos op die lughawe van Kavuma in die Kongo, gee aanleiding tot die volgende gedig:

Tyd kan opgeplak word op

tydelike strukture soos tente,

maar dis geen waarborg dinge

sal begin roer nie. Soepel spiere

sal die gewag funksionaliseer,

darem, met ’n pleister of twee

gereed vir ingeval iets los wil

skeur uit te lank gerekte ure. (59)

En dit is juis laasgenoemde interaksie tussen foto en gedig wat kommentaar lewer op Hans Pienaar se fyn oog. Nes ons het hy seker ook gevra: wat soek so ’n kalender in die Kongo? Maar as digter vat hy dit verder en dit word ’n besinning oor tyd.

’n Mens het nie foto’s van huilendes en ellendiges nodig om ’n treffende boodskap te kan oordra nie. Vergelyk hier byvoorbeeld die foto van die koek in die hotel kiosk in Kigali, Rwanda. (87) Wat ’n onstellende kontras in ’n land van “geraamtes” en “gebleikte beendere”.

Daar is heelwat goeie moedswilligheid en ondeudheid en ’n sin vir die satiriese in Pienaar se foto’s. So skryf hy oor die “tattoe” op die “lorrie se boud” (93) of die slapende Nigeriese man wat moeg gedroom is, of oor ’n leertjie in ’n moddermoskee in Jos, Nigerië (89) – wat mens nogal herinner aan Georgia O’Keefe se skilderye oor lere wat vanself opklim teen die hemeltrans.

Voorop die boek is ’n foto van ’n beeld se afgekapte vingers en dit word vergesel van die volgende gedig:

Vingers

Oppas vir die lang arm van die gereg.

Nie dat dit so lank of geregtelik is nie.

Maar hulle sal jou sommer opsluit,

en jy kom eers weer uit as jy ’n lang

hand in ’n diep sak steek. Terwyl

hulle wag. Terwyl hulle na hul eie

kneukels kyk, daaroor stryk, versigtig

druk en voel of niks stukkend is nie. (83)

Ten slotte, weer Susan Sontag. Hoe gepas is haar woorde nie in hierdie konteks nie:

A photograph is not just the result of an encounter between

an event and a photographer; picture-taking is an event in itself,

and one with ever more peremptory rights—to interfere with, to

invade, or to ignore whatever is going on. Our very sense of

situation is now articulated by the camera’s interventions. (8)

Want Hans Pienaar se fotogedigte maak beslis van die ontmoeting tussen gefotografeerde subjek en geskrewe teks ‘n uitsonderlike ervaring. Hierdie spel met kodes in foto’s kan selfs aanleiding daartoe gee dat ’n mens met nuwer oë kyk na jou flops; dié met die mense se koppe afgesny of uit fokus.

Verwysings:

Barthes, Roland. 1978. Image, music,text. New York: Farrar, Straus and Giroux.

Sontag, Susan. 1977. On photography. New York: Farrar, Straus & Giroux.

Resensie: Gordel (Adriaan Coetzee)

Monday, May 5th, 2014

Gordel deur Adriaan Coetzee  (Protea Boekhuis, Pretoria, 2014; Slapband, 79 pp; ISBN: 978 1 4853 01011)

Resensent: Marius Crous

 

Van die groep digters wat in Nuwe stemme 5 gedebuteer het, is Adriaan Coetzee die eerste om ‘n eie bundel te publiseer. Dié bundel (Gordel) bestaan uit sestien afdelings en word ingelei met ‘n teks uit Efesiërs 6:14 as motto: “Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas.” Oor die keuse van die motto en die titel laat die digter hom in sy Versindaba-onderhoud met Gisela Ulluyatt, soos volg uit: “Woord vir woord is ’n proses op sy eie. As wie of wat manifesteer die digter op enige gegewe oomblik? Die bedrieër, ’n vertroueling of verwarde? As belydende Christen is liefde my grootste waarheid. Ek glo so liefde versoen eerder as troef. En hoop lesers dra vrug in dier voege.”

Die openingsgedig, “`n Stapgids tot Blougat” (7) kan gelees word as ‘n gids vir die voornemende leser van wat hy of sy in hierdie bundel te wagte kan wees en die openingsreëls waarsku die leser om “die voetpaaie te vermy” en teen die hoogtes te hou “vir ‘n beter uitsig”. Gegewe die titel, die aansluiting en hierdie waarskuwing, verwag die leser dat ons hier met ‘n verkennende vergeestelike soektog na die waarheid te doen gaan kry – net om verras te word deur die titel van die volgende gedig: “kafgenaai”.  In een van die aantekeninge agter in die bundel noem die digter dat die verse wat elk van die sestien onderafdelings voorafgaan, in gesprek tree met Wilma Stockenström se debuutbundel, en as een lang gedig gelees kan word. Sentraal in hierdie gesprek is, nes by Stockenström, die besinning oor die “skemermense” se verhouding jeens die natuur – alhoewel die flardes vers nie naastenby op die vlak is van Stockenström in Vir die bysiende leser nie.

Kyk mens na die onderskeie onderafdelings se titels, kry jy ‘n indruk waaroor elk min of meer  tematies kommentaar gaan lewer: opdrifsels, grasuil, moeder, vensterbank, inmekaarheid, herenig in glas, ontwortel, apasmara, ondersonganger, nag van lang beloftes, Tuiniers (met hoofletter), woordslaai, loopstokvisioene, droë kuns, boerbandiete en hotnotsgotkakebene. Die deurlopende temas in Coetzee se digbundel is nostalgie en herinnering aan sy jeug, geweld in die land en ‘n sterk ingesteldheid op ekokritiese kwessies – en die digterskap. Daar is ook enkele gedigte waarin met die bladspieël geëeksperimenteer word en die tersye gesprek met Wilma Stockenström.

Die besinning oor digterskap is een van die temas in die bundel en daarom sou mens die volgende gedig as ‘n tipe ars poëtica-manifes kon lees:

 

digter word

 

 

digter word is duisende dae aaneen

die liefde van jou lewe op ‘n afstand bemin

en dieselfde aantal nagte daarby

haar ontoereikende skoonheid besing

en op ‘n goeie dag met ‘n bietjie geluk

sal sy jou lomp oë skalks vang

en jy haar lushof hartlik binnegaan

min wetend

sy’t ‘n kuisheidsgordel in die mik (bl. 23)

 

Die slotreël sluit aan by die titel van die bundel en nes soos die geliefde ter wille van die poësie ironies op ‘n afstand gehou word, is dit ook die geval in die res van die bundel. Maar in aansluiting hierby moet ook ‘n reël soos “jonkmanskaste vol mooiskrywery” (bl.65) in ag geneem word. Dikwels kry ek die indruk dat die digter so meegevoer word deur sy eie woordskeppinge en dan word die gedig nie behoorlik deurgekomponeer nie. So is ‘n afskeidslied vir die oupa in terme van grassoorte (bl, 15) slim gedoen, maar is niks meer as net ‘n slim speletjie nie. Of die Teems-gedig (bl.41) is niks meer as verkapte prosa nie. Ook ‘n gedig soos “dood van ‘n enkeling” (bl. 64) het my aan die slot laat wag vir die ander stewel om te val: het hy eerder… dan … Of wat moet die leser maak met “Die jagter” (bl. 58) of “poskaart van ‘n seeperdjie” (bl. 42)?

 

Gepraat van slim speletjies, ‘n gedig soos “Moenie jou verlede Google Earth nie” (bl.29), werk met koördinate om die onderskeie plekke en gebeure uit die digter se verlede in herinnering te roep. Vergelyk ook die volgende treffende reëls: “Daar is geen wreder klank / as voetstappe van lewens wat wegdraai / uit leë huise nie.”  Dit is ‘n besonder vernuftige variasie op ‘n ou tema.

 

Dit is veral wanneer Coetzee die “kinderspore oor stofpaaie” (bl. 44) volg en hom nie steur aan sy vrou wat sê hy moet “ophou in [sy] kluisenaarskap / peins oor [sy]kinderdae” (bl.30) dat hy met sy beste verse na vore kom. Voorbeelde sluit in “Meidjie” (bl.31), “Waar mense nestel” (bl.33) – met sy kontrasteer van die oupa en die kleinseun se lewensuitkyke en “Nagedagte” (bl.44).

 

Naas die oproep van die verlede is daar ook heelwat verse in hierdie bundel wat skerp en satiries kyk na die eietydse samelewing. “Vryheidsmanifes” (bl.53) met sy ironiese titel lewer kommentaar op die bestaan wat die pa moet voer sodat sy seun na twaalf jaar “’n oop toekoms en [n] voëlvry taal” sal kan hê.  Woorde uit ons alledaagse geweldadige samelewing vorm die grondslag van sy kommentaar, soos “rot en kaal”, “honde”, “afgesaagde telefoonpale”, “oopgeforseerde veiligheidshek”, “’n rollie” en “bosse sleutels”.  Of in die besondere wrang “Kennisgewing aan nuwe moeders” (bl. 20) waarin instruksies gegee word hoe om van “pasgeborenes deur bewegende voertuie se vensters” ontslae te raak.

 

Die voëlvry taal kom weer ter sprake in “om ‘n digter te dood” (bl.75) waar die digter in terme van ‘n Christusfiguur op sy helletog in eietydse beeldspraak beskryf word en afgesluit word met dié woorde: “ as hy iets te drinke vra / dan doop ons die spons in sy taal.” (bl.75).  Ook in die slotgedig, “Relieke afstof” (bl.76) word na “Afrikaans se heilige graal” verwys en waar die Christusparallel weer voorkom:

 

Ek kon sweer jy’t eens in ‘n droom vir my gefluister

dat gedigte soos blomme van die na-bye toekoms handbestuif is …

Binnekort sal ek ook jou tot KONING VAN DIE TAAL

verhef en jy sal roep: “My Leser, my Leser, waarom het U My verlaat?”

 

Ek laat dit aan die leser oor om te besluit hoe hulle oor hierdie debuutdigter en sy verse voel, gedagtig aan die volgende versreëls uit sy voorgangerdigter Wilma Stockenström se “Ek wantrou woorde”:

 

Woorde is rampe, rampe, rampe!

Wys my ‘n woord, ene, wat nie kul nie.

 

Met sy debuutbundel bevestig Coetzee dat hy ‘n nuwe stem is in die koor van die Afrikaanse digtendes, wat, gedagtig aan Obama, kan uitroep, “Ja ek kan” (bl.73):

 

Ja ek kan 

Jy mag nie ‘n digter se woorde begeer nie.

Jy mag nie sy leksikologie begeer nie,

ook nie ‘n metafoor of muse,

‘n prul of ‘n praat,

of enige ander poëtika wat aan hom behoort nie.

 

 Resensie geborg deur

 

 

  •