Posts Tagged ‘Marni Bonthuys resensie’

Resensie: As jy lag (Versamelbundel)

Monday, December 14th, 2020

 

 

 

As jy lagBloemlesing van inskrywings vir die Ingrid Jonker: L’Art Poétique-digkompetisie. Minimal Press, 2020.

 

Resensie: Marni Bonthuys

 

Die stigting van ’n nuwe uitgewery binne ’n literêre veld – veral een so klein soos die Afrikaanse veld – is as ’n reël ’n goeie verwikkeling. Die klein uitgewery, Minimal Press, is onlangs gestig deur die jong Zalman S. Davis. Nie net het Davis ’n uitgewery op die been gebring waar hy in ’n kort tyd al ’n paar bekende skrywersname soos die Noord-Kaapse streeksdigter Thomas Deacon en die misdaadskrywer Carla van der Spuy gevestig het nie, maar hy het ook twee nuwe literêre pryse begin: die Ingrid Jonker: L’Art Poétique-digkompetisie en die Chris Barnard-kortverhaalkompetisie. Die digbundel As jy lag bevat die wengedigte (beoordeel deur Nini Bennett en Berdéhan Brand) van hierdie digkompetisie en ’n aantal van die beste verse soos geselekteer en saamgestel deur Davis.

’n Verskeidenheid van literêre pryse is goed vir ’n literêre veld om dieselfde rede as ’n verskeidenheid van uitgewers – dit bring diversiteit mee en help voorkom dat een literatuurprys (of op die gebied van publikasie – een uitgewer) die alfa en die omega van ’n literêre veld word. Wat debuutpryse of pryse vir beginners betref, dien dit voorts as ’n stimulus vir die toetrede van nuwe skrywers wat noodsaaklik is vir die voortbestaan van enige letterkunde. Ingrid Jonker: L’Art Poétique-digkompetisie is dan ook gerig op ongepubliseerde digters. Volgens Davis in As jy lag se voorwoord, is die doel van die kompetisie “om beginnerdigters die geleentheid te gee om hul werk in hierdie moeilike bedryf gepubliseer te kry”. Die behoefte aan hierdie soort publikasiegeleenthede is welbekend aan enige iemand wat al by kreatiewe skryfwerkkursusse betrokke was. Ook uit die 399 inskrywings wat die kompetisie volgens ’n Netwerk 24-artikel ontvang het, blyk hierdie behoefte duidelik. Daar is verstommend baie aspirant-skrywers in Afrikaans en báie van hierdie mense voel publikasiegeleenthede is uiters beperk. Met die suksesvolle Nuwe stemme-bundels, ’n soortgelyke publikasie waarmee NB-uitgewers aan beginnerdigters die kans gee om hul verse te publiseer, sien ons ook al sedert 1997 dat die soort blootstelling wat so ’n bundel bied, wel die loopbaan kan loods van die sterk nuwe digters in ’n letterkunde. Die Nuwe stemme-reeks het talle van die afgelope twee dekades se bekroonde Afrikaanse digters (dink: Ilse van Staden, Danie Marais, Loftus Marais, Ronelda Kamfer, Gilbert Gibson en Bibi Slippers) opgelewer. ’n Kompetisie soos Ingrid Jonker: L’Art Poétique is dus uit die staanspoor een om dop te hou, aangesien dit insae kan bied in die werk van ’n nuwe generasie Afrikaanse digters.

Die eerste verse wat die leser in die bundel aantref, is die wenner-digters s’n. Twee van Marieta McGrath (eersteplekwenner met “my oor is ’n klein kanoe”), een van Jonathan Mark Birch (tweedeplekwenner) en drie van Carma Shaw (derdeplekwenner). By McGrath en Shaw word aangedui watter van hulle gedigte telkens die wengedig is. Prysbeoordelings het ’n sterk subjektiewe komponent – selfs binne beoordelingspanele van kultuurpryse is daar soms nie konsensus nie. Dit is juis hierdie subjektiewe aspek wat maak dat kultuurpryse dikwels in omstredenheid gedompel word en akademiese navorsers geneig is om die navorsingsveld van literêre evaluering te vermy. Wat hierdie stel topgedigte betref, weet ek dan ook nie of ek die verse in dieselfde volgorde as die beoordelaars sou bekroon het nie en of die geïdentifiseerde ‘wengedig’ van McGrath en Shaw vir my elke keer die beste een van die twee of drie van die betrokke digter is nie. Ek stem wel saam dat hierdie gedigte van die bestes in die bundel is: McGrath het ’n slag as dit kom by metaforiek, Birch se poëtiese vervatting van interteks en stoepsitter-waarneming is geslaagd en Shaw se “’n Oomblik se wonder” is ten spyte van die effe clichématige titel ’n knap gedig oor verganklikheid en tyd met die see as kontrasterende simbool vir ewigheid.

Naas hierdie verse is daar nog ’n aantal sterk gedigte. Onder meer Christelle van Rooyen Wessels se “2020” wat die oppervlakkigheid van sosiale media en die verskynsel van fopnuus ontgin en “Santie” – ’n nostalgiese gedig oor jeugherinneringe. Die volgende digter in die bundel, Johann van der Walt, se “tussen êrens en nêrens” roer ook die onderwerp van die digter-spreker se kinderdae sowel as temas soos armoede en die kind-moeder-verhouding aan. Die gedig se treffende slotwoorde lui: “as ons lieg en sê dat ek verjaar / blaas ek die sparkler op my Spur-roomys uit / ek wens altyd op jou, ma”. Soos in die aangehaalde voorbeeld na vore kom, val teksversorging-steuringe ongelukkig telkens in die bundel op. Hoewel daar min tik- en/of spelfoute in die bundel is, ’n aanklag wat dikwels voor die deur van kleiner uitgewers gelê word, is daar soms onreëlmatighede wat punktuasie en hooflettergebruik betref – sommige eiename kry hoofletters en ander nie, sommige taalreëls word nagevolg, ander nie (sien die laaste reël aangehaal hierbo waar “ma” as aanspreekvorm funksioneer en dus volgens die norm ’n hoofletter sou moes kry nes “Spur” as eienaam). Uiteraard breek digters soms taalreëls. Daar moet egter ’n duidelike rede daarvoor wees – ’n les wat beginnerdigters dikwels mee sukkel, aangesien daar soms ’n geneigdheid is om suiwer op die estetiese te steun, terwyl die funksie van ’n poëtiese tegniek nie goed deurdink word nie. Die leser vra sigself dus af of afwykende hooflettergebruik in gevalle soos hierbo ’n funksie het of bloot ’n redaksionele glips is?

Wat funksie betref, het ek ook ’n aantal vrae oor redaksionele keuses aangaande die volgorde van plasings en die titel van die bundel. Goed, die wenners se werk verskyn eerste. Maar wat van die ander digters se verse? Dit is nie in alfabetiese volgorde gerangskik wat outeursnaam of gedigtitel betref nie. Is dit volgens temas saamgegroepeer? Gewoonlik het gedigplasing in bundels ’n logiese lyn wat in hierdie geval nie so duidelik is nie. Ek hou nogal van die rooi voorblad van die bundel. Die blomme herinner aan granate wat ’n beeld is wat ook skakel met een van my gunsteling gedigte in die bundel, die eersteplekwenner McGrath se tweede vers, “Die laatgeryptes”. Hierdie gedig se laaste strofe lui:

 

Ons het stadig ryp geword –

ek en jy –

stil in ons skille

hoog, waar die voëls nie pik nie

En toe het dit tyd geword

Die son het ons in lougoud gewas

In rooi granate het ons uitgebars

 

Die voorblad kan dalk gelees word as ’n metafoor vir die beginnerdigters wat nou hul kreatiwiteit soos hierdie granate laat “uitbars” in digvorm. Die bundeltitel is egter weer verwarrend. “As jy lag” verwys volgens die reedsvermelde Netwerk 24-artikel na ’n vers van Ingrid Jonker na wie die kompetisie vernoem is. Die voornemende koper wat nie hierdie verwysing ken nie, kan dit egter interpreteer as ’n bundel oor humor óf ’n versamelbundel van liefdesverse soos die “jy”-aangesprokene in die titel suggereer.

Met verwysing tot die onderwerp van die bundel, word in die voorwoord genoem dat die digters verras het met die uiteenlopende temas waaroor hulle skryf. Dit is inderdaad so dat die gedigte verskeie onderwerpe ontgin. Nog iets wat diegene betrokke by die ontwikkeling van skryftalent weet, is dat beginnerdigters hulle graag wend tot die liefde as onderwerp – ’n verskynsel wat waarskynlik verklaar kan word aan die hand van die feit dat die poësie se liriese aard sigself tot hierdie tema leen. Ek vind dit dus knap dat As jy lag nie (nog) ’n bundel vol rose, sonsondergange en sentimentele liefdesbetuigings is nie, maar onderwerpe soos die dood, veroudering, populêre kultuur, identiteit, misdaad en streeksketsings insluit.

Daar is nog geslaagde verse in As jy lag – onder meer Ronesca Cloete se “Die Rusplek” (oor ’n verdrinking), Daniel Marais se “Stuur haar vinnig” (met die alledaagsheid van geweld teen kinders op die Kaapse Vlakte as onderwerp) en Theresa Postma se streeksvers “Deur die lens van ’n fotograaf”. Carin Erasmus skryf ’n mooi huldigingsgedig oor die skrywer Chris Barnard. Elisia Strydom se “Die blomme van my lewe” is ook ’n mooi een, hoewel enkele steurings aangaande inkonsekwente hooflettergebruik weer opval.

As jy lag is nie op die peil van ’n Nuwe stemme-uitgawe nie. Dit het egter die potensiaal om in die komende jare daardie peil te bereik. Boonop het Nuwe stemme in 2017 laas verskyn en na my wete was daar nog geen aankondiging oor ’n nuwe uitgawe gemaak nie. Ek sal beginnerdigters aanmoedig om vir die Ingrid Jonker: L’Art Poétique-digkompetisie in te skyf – soos Davis in die voorwoord sê, is dit inderdaad nodig dat iemand op hierdie wyse in die taal, kreatiwiteit en Suid-Afrikaanse kultuurerfenis belê.