Posts Tagged ‘Meyer van Rensburg onderhoud’

Onderhoud met Meyer van Rensburg (Heenkoms)

Saturday, July 3rd, 2021

 

 

Nini Bennett gesels met Meyer van Rensburg oor sy bundel, Heenkoms, Imprimatur-Uitgewers, 2021.

 

Nini Bennett: Meyer, baie geluk met jou tweede bundel, Heenkoms. Ek het die bundel terdeë geniet: jou vernuftige omgang met die digterlike woord is merkwaardig. Daar het egter ’n paar jaar verloop sedert jou debuut, Klankmanwoordboom (1983). Jy het intussen na Engeland verhuis, jou doktorsgraad in Teologie behaal en sewe teologiese boeke die lig laat sien; ’n bedrywige tyd, dus. Tog was daar ’n lang stilte tussen jou debuut en die verskyning van Heenkoms. Vertel ons asseblief meer?

 

Meyer van Rensburg: Wel, Nini, die snaakse ding is dat my lewe tot dusver in twee afdelings ingedeel kan word, albei 38 jaar lank: die eerste, van geboorte totdat die eerste digbundel, en die tweede van toe af tot en met hierdie tweede bundel. Ek hoop van harte dit sal nie weer 38 jaar neem voordat my volgende bundel die lig sal sien nie!

 Klankmanwoordboom verteenwoordig ‘n tydperk van soeke na God en in 1982 het dit my lewe totaal verander. Ek het toe wel  daarna ‘n tweede bundel by ‘n uitgewer voorgelê maar dit was afgekeur omdat dit te religieus was. Ek was besig met teologiese studies en het ook baie bedrywig geraak in die bediening, alhoewel ek steeds by die SAUK aangebly het as klankingenieur en later vryskut klankwerk gedoen het (bv. Generations), sowel as omroepwerk by Radio Kansel en Punt Geselsradio, totdat ek in 2004 ‘n pos in Bristol, Engeland, aangebied was as voltydse dosent en later as dekaan by ‘n universiteits-kollege in Londen. Die digkuns het toe bietjie agtergebly, ook omdat ek toe meestal Engels gepraat het, want selfs my vrou en kinders is Engelssprekend.

 

NB: Volgens die persverklaring skilder jy in jou vrye tyd, en jou skildery, Island Refuge vorm dan ook die omslagontwerp van die bundel. Waarom het jy juis op dié skildery besluit?

 

MvR: Ek is baie lief vir die kleure wat ek in die skildery gebruik het en die algehele samestelling van die skildery. Die naam, Island Refuge dui op my vertrek oorsee na Engeland toe en verteenwoordig meeste van die onderwerpe wat in die bundel behandel word, aangesien “refuge” juis toevlug, ‘n uitvlugsoord of heenkome” ‘beteken en omdat Engeland ‘n eiland is. Gedigte soos Sal ons dan ook ontheemdes word?  en Pelgrimsreis, onder andere,  wys in besonder op hierdie soeke na ‘n nuwe heenkome en ek dink die skildery beeld dit gepaslik uit, alhoewel dit jare gelede geskilder was.  Ek is baie bly dat Imprimatur ingestem het om dit as omslag te gebruik. Die groot rotsagtige donker voorwerp in die voorgrond op die linkerkant verteenwoordig gevare wat ontduik moet word op die uittog na die eiland, ver in die agtergrond. Dus is daar, volgens die skildery, ‘n langerige reis op hande, maar die mikpunt is darem in sig.

 

NB: Die treffende titel, “Heenkoms”, is ’n afwysing of inversie van die woord “Heengaan”. Vertel ons asseblief hoe jy besluit het op hierdie sonderlinge titel?

 

MvR: Nini, toe ek die oorspronklike manuskrip wat afgekeur was, voorgelê het in die tagtiger-jare, was die titel Ek sê dus, eksodus! en dit was meestal op Moses se wedervaringe gebaseer, maar het ook darem nog ‘n paar verse oor die televisie-bedryf ingesluit. Toe dit afgekeur was, het ek dit  vir ‘n ruk opsy geskuif: ook omdat daar nie juis baie blootstelling van my Klankmanwoordboom- verse in bloemlesings was nie, nieteenstaande die feit dat dit briljante resensies gehad het en sommiges juis gesê het dat ek vernuwing in die Afrikaanse poësie bring! Ek het nou en dan daarna gekyk, maar het op die skrywe van teologiese boeke gekonsentreer, totdat Daniel Hugo my ‘n jaar of so gelede gekontak het en aanmoedig om weer te begin verse skryf. Ek het toe van die gedigte in die bundel herwerk, nuwes bygeskryf en wou dit toe Motsa noem: ‘n Hebreeuse woord wat beteken: ”’n uitgaan, dit wil sê (die handeling); ‘n uitgang, of (die plek), uitspraak, ‘n poort, ‘n fontein, uitgebring, gebot, wat uitgekom het, ens.” Daniel het gedink die woord is te vreemd en ons het toe op Heenkoms besluit wat meeste van die konsepte insluit. Dit sluit dan ook heengaan as die sterwings-proses in, veral in die laaste afdeling, wat handel oor die dood wat ons almal een of ander tyd moet ondervind.

 

NB: Die bundel handel oor verskeie reise, of prosesse wat ’n uittog voorstel. Die prefix “uit-“ kom in al drie afdelings van die bundel voor, naamlik “uittrek”, “uitbeeld” en “uitspraak”. Tog is daar verskeie verse wat op voorlopige of tentatiewe eksodusse sinspeel, byvoorbeeld “vertrek”, “uittog” en “wegtrek”. Die heel laaste vers, “Die laaste vertrek”, vorm die finale in hierdie suksessie van eksodusse. Vertel ons asseblief meer – ook oor jou siening van die dood, soos dit gestalte vind in die gedig?

 

MvR:   Ja, die reise is natuurlik, eerstens, my vertrek na oorsee, wat in verskillende fases voorkom: Eksodus 4:10, byvoorbeeld is ‘n verwerking van Moses se  twyfel toe die Here hom aangesê het om na Egipte te gaan en dui ook op my eie twyfel oor die verhuising oorsee om voltyds in die bediening te staan: dit eindig met die idee dat, as die Here my nie vergesel en versterk nie, Hy liewers iemand anders moet stuur “om te sê”. Wegtrek” dui aan hoe moeilik die verskuiwing kan wees (ek was sestig jaar oud toe ons oorsee verhuis het!) en Ganspan  verwys na herinneringe aan my kinderjare en eindig met:

 

Ek droom ek kniel

en vir ’n ruk

betas ek weer jou suikersagte sand

en voel

jou hartklop teen my vingers tik

 

“Wolhuterskop” en “Wandelende Jood” sluit daarby aan  Die tweede afdeling, “Uitbeeld” is weer ‘n aantal gedigte wat my vorige betrokkenheid by die televisie-bedryf behels, en “Droë lopie” se mengelmoes Afrikaans en Engels het Merwede van der Merwe in gedagte wat so gepraat het, maar die laaste reël, oor die education van die volk is bedoel om ironies te wees.

Die laaste afdeling, “Uitspraak” is meer betrokke by die lewe tans in Engeland asook die finale uitspraak aan die einde van ons lewens.

Die heel laaste vers handel, soos jy tereg sê, oor die laaste keer wat mens van die aarde vertrek, maar ook die laaste vertrek of woonplek waarheen ‘n mens verhuis. Daarom praat ek juis daaroor dat ons minder moet word (soos Johannes die Doper gesê het), maar meer soos Hy, met ander woorde die laaste vertrek is die uittog na die hiernamaals en om dit korrek te laat geskied moet ek meer Christelik lewe. Die kleinlike Egipte waarna verwys word is al die kleinlike en selfsugtige dinge wat ‘n mens doen en ek moet leer om dit, sowel as  my eie wysheid, agter te laat.

 

NB: Meyer, jy het in 2004 geëmigreer na Engeland. Jou gedigte getuig van ’n intense ars poëtikale bemoeienis met Afrikaans. Daar is bykans nie ’n gedig in die bundel wat nie op die een of ander wyse ’n digterlike vernufspel voer nie en die fonologiese, semantiese, morfologiese of sintaktiese moontlikhede van die taal word maksimaal geëksploiteer. Het die aanpassing in ’n vreemde land as emigrant of ekspat jou sensitiwiteit vir jou moedertaal verskerp?

 

MvR: Ja, en nee: wanneer ek nou en dan teruggaan na Suid-Afrika is dit merkwaardig hoe mense praat en skryf want ek hoor nie baie Afrikaans in Engeland nie. Om die waarheid te sê, daar is maar weinig min Afrikaanse boeke  beskikbaar, veral nie juis poësie nie: ek lees maar meeste gedigte op Versindaba, en kry nou en dan ‘n bundel of twee in die hande van die Internet af. So, ek praat en skryf maar min Afrikaans hier en probeer op hoogte van sake te bly deur in kontak met party Afrikaans-sprekende mense in die familie te bly, maar moet baiemaal by Daniel aanklop vir hulp. Die ars poetica en vernufspel waarna jy verwys is iets wat ek baie geniet en dit gebeur amper outomaties, sodra ek ‘n idee vir ‘n vers kry.

 

NB: In die gedigte “In gesprek met Wyk”, “This green and pleasant land” en “Bristol-katedraal” tree jy onderskeidelik intertekstueel in gesprek met Van Wyk Louw, Peter Blum en Lina Spies. Watter digters lees jy graag? Wie inspireer jou?

 

MvR:  Ja, Oppermann,  van Wyk Louw en Ernst van Heerden inspireer my nog steeds, sowel as die ander wat jy genoem het. Ek het maar min digbundels en bloemlesings saam gebring, so dit help as ek die Kindle-weergawes in die hande kan kry, soos byvoorbeeld Danie Marais se  In die Buitenste Ruimte, wat my darem so effe op hoogte van sake kan hou met party van die jonger digters, maar die oes is maar skraal en om deur die pos te koop vat baie lank en die posgeld is duur.   Ek het darem op die Internet ‘n bloemlesing van Lina Spies raakgeloop, sowel as Antjie Krog, wat ek oor-en-oor lees omdat die taalgebruik so interessant is. Ek het ook Daniel Hugo se Takelwerk op Kindle aangeskaf en hy beïnvloed my baie, enersyds as digter en andersyds as kritikus. Ek sal binnekort sy nuutste bundel, Klinkklaar, onder oë kry, asook Maskers en Mure, omdat een van my gedigte in dié bloemlesing wat oor die Covid-virus gaan, ingesluit is.. Uit die aard van die saak hou ek baie van M.M. Walters en I.L de Villiers, as gevolg van die religieuse inhoud, maar lees ook graag Johann Lodewyk Marais, Joan Hambidge, Johann de Lange, T.T. Cloete, J.C. Steyn (as gevolg van sy ontginning van woorde); Marlene van Niekerk, Fanie Olivier, en wat kan meer aangrypend wees as Olga Kirsch se nommer ”V” uit “Vyf sonnette aan my vader”:

 

En jy vou

jou syige gebedsjaal weg en hou

jou arm om my en ek staan gedruk

vas teen jou knie en bewe van geluk…

 

Op skool het ek al ons Engelse gedigte uit my kop uit geken en ek is nog steeds lief vir Gerard Manley Hopkins, T.S. Eliot, Rupert Brooke.en Ezra Pound.

 

NB: Jy is ’n klankingenieur, skilder, digter en teoloog. Met ander woorde jy sinkroniseer klank, beeld, woord en Woord in jou verse; anders gestel, as veelsydige kunstenaar poog jy om sinergie tussen al laasgenoemde fasette in jou poësie te vind – en jy slaag uitmuntend daarin. Vertel ons meer van Meyer van Rensburg se skeppingsproses(se)?

 

MvR:  Die idee vir ‘n  vers kan van enige plek vandaan kom: gister het ek langs ‘n water-dam gesit en gesien hoe die langtoon-lelietrappers oor die waterlelies loop: dit het onmiddellik ‘n nuwe gedig laat ontstaan. ‘n Paar dae gelede het ek en my vrou ‘n hommelby van die dood gered deur hom ‘n bietjie suikerwater te gee, en weer so! Partymaal kom die idee van ‘n lied af wat ek hoor of iets wat iemand sê: in ‘n opname-ateljee het ‘n persoon gepraat van ‘n “pensioen-pensie” en dit het in my brein gaan vassteek en gebroei totdat ek die gedig “Bournemouth-strand” heeltemal bymekaar kon kry.

In my eerste bundel het ek verwys na die “klein ure van die nag” wat die beste tyd is om woorde te jag, en dis nog steeds waar. My vrou is al gewoond daaraan dat ek in die klein ure van die nag skielik opstaan en na die voorhuis beweeg om eers ‘n vers neer te skryf. Blykbaar is ek maar ‘n naguil, want baie keer as ek gaan lê om te slaap begin die woorde rondrol in my gedagtes en dan moet ek dit eers neerskryf, want die volgende oggend sal ek dit dalk nie presies onthou nie: pen en papier het ‘n langer geheue as ek! Die geraamte van die gedig word dan neergepen sodat ek die volgende dag daaraan kan werk.

Partykeer is dit ‘n skildery wat ek in die kunsgalery of op televisie sien, of een van die verskeidenheid bome, struike en blomme in Engeland. Die skryfproses kan nogal ‘n tydjie vat want die vers word oor-en-oor verwerk en geskryf. As die idee eers daar is, sal ek dit bly rondrol in my brein, neerskryf, weer dink, oorskryf en so aan: dis ‘n proses, alhoewel die woorde van sommige gedigte makliker bymekaar kom as ander.

Ek hou daarvan om die einde van die gedig te laat “ontplof”, soos byvoorbeeld ”Soho: Diane Schuur” wat Joan Hambidge beskryf het as “‘n slot wat aan die keel ruk!”  Gewoonlik moet die waarneming van iets wat my stimuleer om te skryf dan verwerk word tot ‘n slot wat universele inslag sal vind.

 

NB: In die gedeelte, “Uitbeeld” berig die digter oor die wêreld van die klankingenieur, die meng van beeld en klank, ensomeer. Dit is die werk van die onderskeie regisseurs om mense – sangers, musikante, akteurs – op hulle beste te laat lyk en klink vir ’n produksie. Die leser lei af dat hierdie persone betokke by die tegniese vervaardiging en afronding van programme figuurlik gesproke oor “goddelike mag” beskik. Vertel ons asseblief meer?

 

MvR:  Ek het daarna verwys in my eerste bundel toe ek geskryf het: “god luisterryk,/ wys ek my hangstokmikrofoon/ na willekeur,/ regeer klankwettig/ en besluit verhewe/ wie se klank weerklank sal word”, maar  hoewel die media iemand ten goede of kwade kan voorstel,  is dit tog tot ‘n sekere mate beperk. Ek sou, byvoorbeeld, nie iemand vals kan laat sing as hulle goeie sangers is nie (dit is moontlik, maar ‘n ingewikkelde proses) en meeste mense weet as gevolg van lewendige optredes of iemand ‘n goeie akteur of sanger is. Tog is dit moontlik om iemand deur middel van beligting en kamera-skote of klank op ‘n manier voor te stel wat nie voordelig vir hulle is nie. Ek het dit egter nog nie teëgekom dat regisseurs of tegnici dit met opset doen nie, want dit reflekteer ook nie goed op jou eie werk nie.

 

NB: Jou bundel se tematiese onderbou is inderdaad ryk: jy skryf oor jou jeugjare in Ganspan, verwys na historiese plekke in Engeland, plante, blomme en geloofskwessies, om enkeles te noem. Daar is ook verse oor historiese figure soos Winston Churchill. Dié gedig is enersyds ’n historiese narratief, andersyds ’n fyn portretstudie van die staatsman. Vertel ons asseblief meer oor hierdie interessante vers, en/of jou belangstelling in Churchill?

 

Winston Churchill

 

Die teenvoeter vir Hitler

sit ontspanne in ’n rottangstoel

met ’n kaduks-kadotjie

wat effe windskeef pas,

sigaar in die mond

en as fragiele harnas

net ’n wit oorjas;

’n kwas vol verf in die hand:

die enigste wapen

teen alle weerstand.

 

Ver verwyder van politiek

oorlog, vuurwapens

toesprake en joernalistiek

skilder hy impressionisties

bome, berge, waterdamme en die see

die rustigheid van smaraggroen

en kobaltblou taferele

is ’n kykgleuf wat hom vryheid gee.

 

Die bottel whisky bly toe op die rak,

want hy’s nou skeppend begeester

om op die wagtende blanko seildoekvlak

kleure te kontrasteer, te bemeester;

om sinvol saam nuwe lewe te kry

en homself so op skilderslinne te bevry,

’n ontsnappingstoevlug: kalmte in die storm

weg van die swart hond wat steeds op sy spoor blaf,

die alewige terneergedruktheid

reeds van die Gallipoli-katastrofe af.

 

Kreatiwiteit gee hom inspirasie

om donker spoorsnyers te kul

en vir die Britse nasie

die leeu te laat brul.

 

MvR:  Wel, Churchill is natuurlik ‘n baie belangrike  figuur in Engeland. Ek woon ‘n hanetreetjie van sy ou woning,  Chartwell, af en ‘n mens kan jou maklik voorstel hoe hy daar gesit en werk het met sy kadot-hoedjie op voor die uitsig wat oor die valleie strek. ‘n Entjie verder van ons af is ‘n beeld van hom in sy gemakstoel en natuurlik is daar die een waarvan ek ook melding maak op Parlementsplein.  ʼn Paar jaar gelede het my vrou vir my ‘n boek gegee: “The Churchill Factor: How one man made history”  deur Boris Johnson (wat Boris spesiaal vir my geteken het), en dit is nogal ‘n baie interessante  volume. Ek het ook ‘n hele paar dokumentêre TV-programme oor hom gesien, spesiaal een waar hy bespreek het hoe die “swart hond” van terneergedruktheid hom gedurig gevolg het. Uit my eie ondervinding besef ek dat die skilder-proses baie doen om ‘n mens uit daardie swartgalligheid te red (maar nie altyd nie!). Hy was die een wat, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, die Britse nasie inspireer het en geweier het om voor Hitler die knie te buig en, as sulks, is dit hy wat die Britse leeu laat brul het. Natuurlik was daar ook negatiewe aspekte in sy persoonlikheid, maar hy is, en bly,  as staatsman, ‘ʼn groot held en hy was die een wat Jan Smuts as sy raadgewer aangestel het gedurende die oorlog, daarom het sy lewe ook ‘n invloed op Suid-Afrikaners gehad..

 

NB: Baie dankie vir ’n prikkelende en insiggewende onderhoud, Meyer!