Posts Tagged ‘Mole’

Andries Bezuidenhout. Die mis in Swakopmund

Thursday, November 19th, 2009

Ek onderbreek nou eers hierdie malletjie wat al die goed oor Johannesburg op my blog kom skryf. Hoe’t hy geraai wat my wagwoord is?

Dis vanoggend mistig in Swakopmund. Hoe weet ek dit? Wel, daar’s ʼn webkamera waardeur ʼn mens kan gaan kyk. Dit mik vir die Mole se baai en kaai. Die kamera neem elke minuut ʼn foto.

Hier’s ʼn ou, anekdotiese gedig uit Retoer:

MIRAGE
(Diensplig, Suidwes-Afrika/Namibië, 1989)

Op pas
ry jy kaal deur die woestyn,
drink ‘n hele bottel sjampanje op jou eie,
proe aan ‘n tweede en pass dan uit,
neem jy later foto’s van duine, Kolmanskop,
‘n tuinslang agter in jou Toyota Conquest.

In Swakopmund
sluk jy jou koffie af,
gooi jou hand met die sigaret in die lug,
ruk jou skouers terug
en vloek die hemele
soos net jy kan.

Brötchen mit Käse, bitte.
Jy praat oor Jacaranda Bolton,
die Britse kunstenares
met die blou en wit Volla –
sy’t net buite Swakop verongeluk.

Soms moet ons sluitstukke
onder korporaals se stewels uitgrawe.
Soms moet ons vlug voor eng vervolging.
Soms is ons slegter as slangkak.

Ons ry terug na Walvisbaai
waar die besettingsmag terugtrek
ná ‘n partytjie in April met Swapo.
Dooie gesigte troon bo Olifante en Ratels uit
terwyl die stoet die woestyn binnery.

Oor Jacaranda Bolton
sê die man by die kunswinkel vir jou:
It’s not they who die,
it’s us who live.

Soms
oorleef ons.
Soms
oorleef ons dit.

  •