Posts Tagged ‘Moushegh Ishkhan vertaling in Afrikaans’

Moushegh Ishkhan. Vertaling in Afrikaans

Thursday, November 5th, 2020

 

 

 

Moushegh Ishkhan. Vertaling uit Engels in Afrikaans. Vert. deur Waldemar Gouws

 

Die Armeense taal is die tuiste van die Armeen

 

Die Armeense taal is die tuiste

en toevlug waar die swerwer

dak en muur en voedsel van sy eie kan besit.

Gaan hy binne sal hy liefde en trots teëkom

met die hiëna en die storm buite uitgesluit.

Eeue lank het sy argitekte moeisaam gearbei

om sy plafonne hoogte te gee.

Hoe baie kleinboere, aan die werk

dag en nag, het sy koskaste vol gehou,

lampe aan die brand, die oonde warm.

Immer verjong, immer verouder, bly dit in stand

van eeu tot eeu op die weg

waar elke Armeen dit kan vind wanneer hy verdwaald is

in die wildernis van sy toekoms of sy verlede.

 

***

 

The Armenian Language Is the Home of the Armenian

 

The Armenian language is the home

and haven where the wanderer can own

roof and wall and nourishment.

He can enter to find love and pride

locking the hyena and the storm outside.

For centuries its architects have toiled

to give its ceilings height.

How many peasants working

day and night have kept

its cupboards full, lamps lit, ovens hot.

Always rejuvenated, always old, it lasts

century to century on the path

where every Armenian can find it when he’s lost

in the wilderness of his future or his past.

  

Vertaal uit Armeens deur Diana Der-Hovanessian, In: Kaminsky,Ilya and Harris, Susan (eds.) 2010. The Ecco Anthology of International Poetry. New York: Ecco (p.198).

 

Moushegh Ishkhan (1913-1990) was ‘n digter van die Armeense diaspora. Hy is in ‘n dorpie naby Ankara gebore, maar is wees gelaat toe sy ouers in 1915 tydens die volksmoord deur die Turke gedood is. Op twee was hy ‘n bannelingkind. Hy is na Damaskus geneem waar hy tot aan die einde van sy vroeë skooljare gebly het. Toe is hy na Ciprus en later na Beiroet. Deur die bestudering van die Armeense letterkunde, die opvoedkunde en sielkunde (vir ‘n jaar of twee ook in Brussel, sy kursus egter kortgeknip in 1940 deur die oorlog) het hy hom bekwaam om sy lewe te wy aan die onderrig van die Armeense taal en Armeense letterkunde.

 

Hy het gesê dat in die afwesigheid van ‘n eie gebied vir die Armene, dit die taal is wat funksioneer as ruimte waarin die nasie verbeel word.