Posts Tagged ‘Nachoem M Wijnberg Liedjes/Liedjies resensie’

Resensie: Liedjes / Liedjies (Nachoem M. Wijnberg) vert. Daniel Hugo

Monday, January 31st, 2022

 

Omslag

 

 

Liedjes/Liedjies (2021) deur Nachoem M. Wijnberg, vert. deur Daniel Hugo, Imprimatur, 2021.

Resensent: Alwyn P. Roux

 

Liedjes/Liedjies (2021), uit die pen van die P.C. Hooft-pryswenner vir Poësie, Nachoem Wijnberg, soos vertaal deur die veelbekroonde digter en vertaler, Daniel Hugo, is ʼn besonder waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse literatuur. In dié vertaling, pragtig uitgegee deur Imprimatur-uitgewery, word die oorspronklike Nederlandse verse langs die Afrikaanse vertalings afgedruk. Dit gee die leser die kans om die gedigte vergelykend te lees. Die oogmerk waarmee ek dié bundel lees, is om te sien of Wijnberg se gedigte anders in Afrikaans as in Nederlands lees. Sing die woorde op dieselfde wyse in Afrikaans as in Nederlands? Het die Afrikaanse leser ʼn groter begrip van Wijnberg se verse noudat dit in Afrikaans te lees is? Ook: Hoe lees ons Wijnberg se poësie? Is daar ʼn spesifieke benadering om groter insig tot sy werk te bekom? Om hierdie vrae te beantwoord, gebruik ek die gedig “Liedje/Liedjie” (bl. 110-111) ter illustrasie:

 

LIEDJE

 

Een dag dat een kind

mag doen wat hij wil,

zolang hij geen geluid maakt.

 

Lichtflitsen in alle kamers

van het huis waaruit iedereen

behalve hij weggegaan is.

 

Hij rent de tuin in

waar regen in zijn gezicht slaat

en loopt langzaam terug.

 

Steeds weer dreunt de lucht,

hij loopt weer naar voren,

laat zich niet wegsturen.

 

Elke keer die hij hoort

vult hem tot aan de rand,

maakt hem leeg, niets aan te doen.

 

Ook op de dag dat hij zich maakt,

zonder het iemand te zeggen, zoals hij mag,

tot meest-geliefde.

Meest-geliefde, als je opnieuw

een paar schoenen kapotgedanst hebt,

stuur mij die dan.

 

LIEDJIE

 

ʼn Dag dat ʼn kind

mag doen wat hy wil,

solank hy geen geluid maak nie.

 

Ligflitse in al die kamers

van die huis waaruit almal

behalwe hy weggegaan het.

 

Hy hardloop die tuin in

waar reën in sy gesig slaan

en loop stadig agteruit.

 

Die lug hou aan met dreun,

hy loop weer vorentoe,

laat hom nie wegjaag nie.

 

Elke keer wat hy dit hoor,

vul hom tot aan die rand,

maak hom leeg, laat dit so wees.

 

Ook die dag waarop hy hom,

sonder om vir iemand te sê, soos hy mag,

tot die mees-geliefde maak.

 

Mees-geliefde, as jy weer

ʼn paar skoene stukkend gedans het,

stuur dit dan vir my.

 

Die leesstrategie wat ek volg, omdat ek nie oor vertaalteoretiese agtergrond beskik nie, is dié van ʼn nutsman en nie ʼn ingenieur nie. Ek vra: Wat val my op by die lees van die Afrikaanse vertaling na aanleiding van die lees van die oorspronklike Nederlands? Waarom dink jy het die vertaler juis gekies om sekere segswyses in plaas van andere te gebruik? Bly die vertaler getrou aan die bronteks? Watter aspekte verkry die meeste klem – die klankmatige of semantiese elemente? Vervolgens, ʼn paar aantekeninge by die lees van die oorspronklike en vertaalde gedig:

In strofe twee: “Ligflitse in al die kamers” waarteenoor die Nederlands: “Lichtflitsen in alle kamers”. Hierin word die assimilerende effek van “alle” weggewerk sodat ʼn meer formele segswyse in Afrikaans vooropstaan (dat die vers nie plat klink nie). Die volgende versreël: “van die huis waaruit almal/ […] weggegaan het” in Afrikaans teenoor “het huis waaruit iedereen” in Nederlands. Hierin tog die teendeel van die vorige: “iedereen” in Nederlands klink tot ʼn sekere mate meer verhewe as “almal” in Afrikaans. Ek vermoed die vertaler se keuse rondom die verplattende of meer verboë taalgebruik het betrekking op die metrum van elke spesifieke uiting. Vergelyk die skandering van strofe drie:

 

.  /       /           /      /

Lichtflitsen in alle kamers

.  /            /            /  | /       /

van het huis waaruit iedereen

.  .  .  /        / |  /          /

behalve hij weggegaan is.

 

*

 

.  /     /          /         /

Ligflitse in al die kamers

.  /             /             /  | /

van die huis waaruit almal

.  .  .  /         / |   /         /

behalwe hy weggegaan het.

 

Dit wil voorkom asof die vertaler juis die vloeiendheid van die Nederlandse vers in die Afrikaanse vertaling wil behou deurdat hy getrou bly aan die sillabetelling van elke versreël. Dit is goed, want Wijnberg se verse is besonder klankmatig en ritmies ingestel. Die derde en vierde strofes laat blyk byvoorbeeld die belang van die versritme teenoor die semantiese waarde. Versreël nege lui: “en loop hy stadig agteruit” in plaas van die Nederlandse “en loopt langzaam terug”. Hierin is dit opvallend dat die vertaler liewer aan die jambiese patroon van dié versreël as aan die streng betekenis van “loopt langzaam terug” getrou bly; in Afrikaans beteken “agteruit” om agterstevoor te loop in plaas van stadig te loop. Tog pas die spel van stadig agteruitloop by kinderspel wat deur die personasie van die kind geaktiveer word. In strofe vyf word die segging “niets aan te doen” as “laat dit so wees” vertaal. Hierdeur word die betekenis daarvan meer toeganklik gemaak vir Afrikaanse lesers en word die Afrikaanse teks self verduidelikend ten opsigte van die Nederlands.

Tot dusver was die woordekonomiese vertaling besonder treffend gewees, alhoewel ek nie heeltemal oortuig is van die sesde strofe nie:

 

.  /                 /           /            /

Ook op de dag dat hij zich maakt,

.  /               /                 /                /          /

zonder het iemand te zeggen, zoals hij mag,

.  .   .    /             /

tot meest-geliefde.

 

*

 

  /             /             /          /

Ook die dag waarop hy hom,

  /           /         /                 /      /           /

sonder om vir iemand te sê, soos hy mag,

  /           /            /         /

tot die mees-geliefde maak.

 

Die weglating van die werkwoord “maak” (in die Afrikaanse vertaling) aan die einde van dié versreël, gee die gevoel dat iets ontbreek, alhoewel die sillabetelling en klem korrek hanteer word. Dit beïnvloed die agtiende versreël, waarin die Afrikaanse weergawe soos volg lees: “tot die mees-geliefde maak”. Hierin kom die woorde “die” en “maak” oordadig voor. Moontlik sou die bepaalde lidwoord in dié instansie weggelaat kon word? Die herhaling van “Meest-geliefde” ter aanvang van die laaste strofe, word deur die gestrooptheid van die Nederlandse segging “tot meest-geliefde” in reël agtien bekragtig. Die laaste strofe herinner aan die “envoi” by ballades en sestinas:

 

Meest-geliefde, als je opnieuw

 

een paar schoenen kapotgedanst hebt,

 

stuur mij die dan.

 

*

Mees-geliefde, as jy weer

 

ʼn paar skoene stukkend gedans het,

 

stuur dit dan vir my.

 

Vervolgens ook ʼn paar notas oor interpretasie. Joan Hambidge (2021) argumenteer in haar resensie van die bundel dat die verse oopgesluit kan word met behulp van ’n Jungiaanse lesing en verwys na die begrip van “individuasie” as sleutel tot ʼn groter verstaan daarvan. Maar wat is “individuasie”? Els (2004:iv-v) verduidelik dat individuasie die proses is waarvolgens die Self die ontwikkelingsreis van die persoonlikheid organiseer (Els, 2004:iv-v). Individuasie behels die proses om bewus te word van denkfunksies en teenoorgesteldes in die persoonlikheid te erken: Bewustelik/Onbewustelik, Anima/Animus, Skaduwee/Persona. Selfverwesenliking, wat die doel van die individuasieproses is, is dan ook ʼn baie stadige en pynlike taak (Els, 2004:17-18).

As mens gaan kyk na bogenoemde gedig sou mens ʼn argetipiese reis kon identifiseer van die onskuldige kind wat die argetipe van die weeskind aanneem, wat dan moet leer hoe om die psigiese wond deel te maak van die psige (heelwording). Aanvanklik is ʼn basiese optimisme by die kindfiguur te bespeur, waarin hy die huis as ʼn veilige ruimte herken: “Hy hardloop die tuin in/ waar reën in sy gesig slaan/ en loop stadig agteruit”. Dit wil egter voorkom asof die kind hier besef dat hy alleen gelaat of verwerp is. Die volgende strofe is nog vanuit die kind se perspektief, waarin hy nie bang is vir die stormweer nie, dit wil sê die gevaar (metafories) in die gesig staar: “Die lug hou aan met dreun,/ hy loop weer vorentoe,/ laat hom nie wegjaag nie”. Daarna word egter gesuggereer dat dié gebeurtenis in die verlede plaasgevind het deur die woorde “elke keer”. Hierdie woorde kan gelees word as ʼn herinnering aan daardie psigiese verandering: “Elke keer wat hy dit hoor,/ vul hom tot aan die rand,/ maak hom leeg, laat dit so wees”. Deur die skep van liedjies, word psigiese heelwording gesuggereer en die moontlikheid om weer te dans (om daardie “onskuld” van kindwees terug te vind). Alhoewel laasgenoemde nie in die gedig verwesenlik word nie, word dit wel in die laaste strofe in die vooruitsig gestel: “Mees-geliefde, as jy weer/ ʼn paar skoene stukkend gedans het,/ stuur dit dan vir my”.

Die gedagte aan die stukkend gedanste skoene bring mens op assosiatiewe wyse by die titel van die bundel – Liedjes/Liedjies. Uit die 87 verse, heet 65 eenvoudig “Liedjie”. Meeste van die ander titels dui op ʼn ander soort liedjie – vergelyk onder andere: “Parysliedjie” (47),  “Jacques Brel-liedjie” (95, 97) en “As ek by jou was-liedjie” (143). Slegs vier gedigte in die bundel het nie die woord “liedjie” in die titel nie. Baie maal gee die spreker metapoëtikale insigte rondom liedjies, byvoorbeeld in “Jacques Brel-liedjie” (97): “Ek het die woorde gevind/ wat ek nog ʼn keer wou hoor” en in “Liedjie” (157): “Ek maak nie liedjies nie,/ ek kry hulle”. Hiervolgens sou die leser die funksie van die liedjies in die bundelopset kon verken, byvoorbeeld die psigiese dimensie daarvan, maar ook Wijnberg se interne poëtika.

Die leser staan met ʼn groot mate van verstomming voor die gedigte van Wijnberg, omdat jy nie altyd seker is wat toelaatbaar is by die interpretasie van die gedigte nie. Hambidge se insig rakende “individuasie” het ʼn groot mate van “berusting” gebring, omdat sy dit reggekry het om die bres te slaan in die aanvanklike onbegrip waarmee Wijnberg se Liedjes/Liedjies die leser konfronteer. Hierdie soort onbegrip was ook by die lees van Lucebert se (aanvanklike) gedigte te bespeur, wat deur die raamwerke van onder andere die “mistiek” en “gnostiek” ontsluit is. Een gevaar van so ʼn leesraamwerk is dat dit te instrumentalies gebruik word en mens die besonderhede van die gedigte mislees ten koste van daardie denkraamwerk. Dit sal myns insiens die moeite loon om na te speur hoe die Nederlandse literatuurkritici oor Wijnberg se digterlike oeuvre skryf.

Ten slotte: Wijnberg het vertalings in onder andere Engeland (Advance Payment, 2013), die Verenigde State (Divan of Ghalib, 2016; Of Great Importance, 2018), Italië (Divan di Ghalib, 2015; Partita D’Addio, 2021) en in Duitsland (Jüdische Gedichte, om te verskyn 2022; Das Leben von, om te verskyn 2022). Ook kan lesers uitsien na die publikasie van Wijnberg se twintigste digbundel, getiteld Namen noemen (2022) by Pluim-uitgewery in Maart vanjaar. Hugo se Afrikaanse vertaling van Wijnberg se Liedjes (2006) is van groot belang vir die Afrikaans literatuur op internasionale gebied. Wijnberg se poësie is nie meer of minder duister in Afrikaans as in Nederlands nie. Elke gedig bring sy eie uitdagings soos met die Nederlands. Hugo het hom goed van sy taak gekwyt deur die Nederlandse segswyses vir Afrikaanssprekendes op kontekstuele wyse te ontsluit sonder om die betekenismoontlikhede van die gedigte skade te berokken. Die vertaling van Wijnberg se verse is woordekonomies en behou die oorspronklike vloeiendheid van die taal. Afrikaans as literêre taal word hierdeur verryk en sal beslis onder die aandag van Afrikaanse literatuurkritici kom. Ek wil ook ʼn voorspelling waag dat Afrikaanse digters meermale nou met belangrike Nederlandse digters soos Nachoem Wijnberg en Alfred Schaffer in gesprek sal tree. En dit is alles te danke aan Daniel Hugo dat ons hulle werk in Afrikaans kan lees.

 

Bronne geraadpleeg

Els, C.J. 2004. Personal archetypes, aspects of personality and psychological well-being. Ongepubliseerde MA-verhandeling: NWU. Datum van gebruik: 22 Januarie 2022. Web:

https://dspace.nwu.ac.za/handle/10394/2376.

Hambidge, Joan. 2021. Resensie: Nachoem M. Wijnberg: Liedjes/Liedjies.  Woorde wat weeg, 4 Des. http://joanhambidge.blogspot.com/2021/12/resensie-nachoem-m-wijnberg.html.