Posts Tagged ‘Natuurgedigte’

Joan Hambidge. Natuurverse 4

Tuesday, August 2nd, 2022

 

 

Al die veld is vrolik; al die voëltjies sing;

al die kriekies kriek daarbuit’; elke sprinkaan spring.

Al die koggelmannetjies kom om fees te vier;

hier galop ‘n goggatjie, daarso dans ‘n mier.

 

Al die veld is vrolik – C. Louis Leipoldt

 

 

I

Kroonden

 

Die kroonden lê omgeval

beenwit grynswit in die son.

 

Johann de Lange

 

http://joanhambidge.blogspot.com/2014/03/vaarwel-my-effensbevlekte-held-vaarwel.html

Besoek 1 Augustus 2022

 

Die betekenis van ‘n gedig is nog ‘n gedig, meen Harold Bloom. Hierdie vers van Johann de Lange is kompak, maar het soveel verskuilde betekenisse. Die kroonden wat omgeval het, lyk soos ‘n skelet.

Grynswit impliseer ook personifikasie.

 

Kort en kragtig soos N.P. van Louw se gedig uit die “Klipwerk”-reeks:

 

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

 

6 woorde in elke reël teenoor De Lange se vers wat uit 4 woorde en 5 woorde bestaan (7 sillabes/ 7 sillabes).

 

T.T. Cloete het insigryk die kort vers en meer spesifiek die een uit “Klipwerk” geanaliseer in ‘n artikel  “Een gedig is meer as een” in Literator.

 

II

Sowel Louw as De Lange se koeplette kan as natuurverse beskou word.

 

Dalk amper ‘n stichos, ‘n Griekse gedig wat uit net een reël bestaan? Of dalk ‘n gedig-as-teorie-in-aksie?

 

Beide gedigte lewer kommentaar op die natuur en die ewige verganklikheid van alles; beide gedigte is met presisie geskryf. By De Lange is daar ‘n sterk fokus op die dood; by Louw aktiveer die akkers dat daar wel groei kan plaas vind.

 

In a Station of the Metro

 

The apparition of these faces in the crowd:

Petals on a wet, black bough.

 

Hierdie vers van Ezra Pound, ‘n sogenaamde Imagist digter (1885 – 1972), kan op vele maniere gelees word. Die gedig het ‘n bogrond en ondergrond: die mense as apparisies of verskynings wat dan lyk (of is) soos blare op ‘n nat, swart tak. Die blare sal uiteindelik afval (“die blare val, die water gly”, hoor ons Peter Blum in die agtergrond). Ook aktiveer die vers die mense hier as ‘n kollektief. Bewegend en uiteindelik deel van die kollektiewe onbewuste as ‘n mens dit Jungiaans benader?

 

III

 

Snyman in Mirakel en muse sien die vlakke van lees soos volg:

 

Gedigte werk met klank (die vormvlak) en hierom verstaan jy die vers op verskillende vlakke. Die primêre betekenis: die vormingsvlak. Verbande word tussen woorde gelê (die sogenaamde verhoudingsvlak) en dan die verbintenisse tussen woorde as geheel (die betekeniskontak en -verwysings). Ten slotte: die interpretasie as totale entiteit met al die implikasies (interpretasievlak) (1983: 222).

 

‘n Gedig eis ‘n bepaalde leesstrategie. Om hierdie kort verse te lees wat rondom binariteite uitwaaier, is vir die strukturalistiese leser die uitgangspunt.

 

In hierdie reeks oor natuurverse lees hierdie kritikus ook oor die verbande tussen gedigte in dieselfde bundel en binne die hele oeuvre.

 

En ‘n gedig se lesers reageer op die teorie van die tyd, bewustelik of onbewustelik.

 

Daardie “reis met die klein skip / geslote agter glas”. Om elke digter se besondere of unieke hantering van die “klein stellasies vers” te probeer begryp,  soos Opperman skryf in “Digter”(1.)

 

Umberto Eco in The Role of the the Reader noem sy studie tereg “Exploration in the semiotics of texts”.

 

Eco se siening van die modelleser aktiveer sy siening van tekstuele strategieë. Nes sy term “intertextual competence” (1979: 12 – 17).

 

En in die bekende artikel van Cloete sien die leser hoé hy Van Wyk Louw se gedig semanties ontsluit. (2.) Uiteraard is daar iets soos “intertextual overcoding” meen Eco op bladsy 21 en die leser vind sy of haar vryheid in die spel tussen die verskillende vlakke van lees. Sowel Eco as Snyman sien dit so.

 

“Kroonden” tree in gesprek met die digter se “Totdat niks oorbly nie” uit Vaarwel, my effens bevlekte held:

 

Totdat niks oorbly nie

 

Totdat niks oorbly nie. Absoluut

niks. Net die naam van die nag

herhaal in ‘n somber slaap,

 

die omvattende nag in die leegte

& ‘n verdwaalde koorsboom

se eensame saluut.

 

Tekste verander in die tyd net soos lesers in die tyd transformeer en aanpas by ‘n nuwe leestradisie. Hierdie oorgange is dikwels subtiel. Dekonstruksie-kritiek het ons immers bewus gemaak van différance en uitgestelde betekenisse.

 

Die on-finaliteit van interpretasie en die ewige vraag: waar lê die betekenis van die gedig? Is dit die leser wat dit ontsluit of is dit die kritikus/teoretikus wat danksy leeservaring iets van die teks se bedoeling snap?

 

Stanley Fish se bekende Is There a Text in This Class? The Authority of Interpretive Communities beklemtoon die rol van die gemeenskap van lees en dat ons behoort tot ‘n bepaalde leestradisie.

 

Fish behoort tot “reader response criticism”, oftewel resepsie-teorie. Cloete verwys ook na die “oop plekke” (Wolfgang Iser, die bekende resepsie-estetikus) wat die leser moet vul.

 

Daar is altyd ‘n leser, ‘n teks, ‘n skrywer. En ‘n historiese en ‘n literêre tradisie. Iewers tussen strukturalisme (teksgesentreerd), resepsie-estetika (leser-gesentreerd) en psigoanalise weifel my interpretasie.

 

Weifelend. Nooit finaal nie. My notas oor Eco is gemaak in die Safir Hotel in Kaïro voor 2000.

Die leesaksie vir hierdie leser is soos ‘n reis.

 

‘n Mens het ‘n idee van ‘n onbekende ruimte en tydens jou besoek, of besoeke, verander jou indrukke en ervaring van daardie stad. “Unlimited semiosis” soos Eco dit noem.

 

Teoretikus én digter. Die een dimensie voed die ander een.

Digters, soos De Lange uitwys, voel dikwels oorweldig deur die gedagte dat alles mag verdwyn (‘n taal?, ‘n tradisie?). Daardie akker by Louw, as ons oorkodeer, aktiveer onbewustelik die taalstryd, maar ‘n taal wat bly leef in gedigte.

Maar die akker, skryf Cloete in die genoemde artikel via De Vries:

 

Akkers simboliseer ‘longevity, immortality … regeneration and life-fire,’ maar ook: ‘coffins are made of oak;’ dit simboliseer verder ‘the time of death … Felling an oak is an ominous action

 

Hierom is die leesaksie vir hierdie leser smedig: soepel, plasties.

 

En ook teenstrydig.

 

 

 

Salvador Dalí: La persistència de la memòria

 

In ‘n droom horlosies gesmelt

om tyd gesuspendeer, nutteloos

voor te stel op ‘n lessenaar,

‘n swart boom langs ‘n dooie voël –

op al dié voorwerpe horlosies:

smedig en dus waardeloos.

Ontglippend bly betekenis

soos in ‘n droom: ‘n chronometer

agter glas waarna ek staar,

om ons tyd op aarde op te som:

my geboorte deur jou dood

in hierdie gedig soos die inham

op die skildery met water en ‘n berg.

Onverganklike herinneringe versmelt.

 

Joan Hambidge

Augustus 2022

 

Bronne:

 

Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New Haven, Yale University Press.

 Chetwynd, Tom. 1983. A Dictionary of Symbols. Londen: Paladin.

Cuddon, J.A. 1976. A Dictionary of Literary terms and Literary Theory. Londen: Penguin.

Cloete, T.T. Een gedig is meer as een.

https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/139/457  Besoek 1 Augustus 2022

Eco, Umberto. 1979. The Role of the the Reader. Londen: Hutchinson.

Fish, Stanley. 1980. Is There a Text in This Class? The Authority of Interpretive Communities. Cambridge, Mass. Harvard University Press.

Jung, C.G. 1964. Man and his Symbols. Londen: Aldus Books.

Snyman, H.J. 1983. Mirakel en Muse. Johannesburg: Perskor.

 

Endnote:

 

1 Digter

Ek is gevang
en met die stryd
êrens in die ewigheid
op ‘n Ceylon verban

waar al my drange
na ‘n verlore vaderland
my dag na dag geëiland
hou met horisonne en verlange,

en in die geel gloed van die kers
snags deur die smal poort
van die wonder elke woord
laat skik tot klein stellasies vers

wat groei tot boeg en mas
en takelwerk – en die uiteindelike
reis met die klein skip
geslote agter glas.

D.J. Opperman

 

  1. Cloete:

 

Een gedig is meer as een
In This Essay… Open Access

Abstrak
Abstract

Abstrak Top ↑

N.P. van Wyk Louw het ’n kort gedig van net twee verse geskryf. Sintakties is albei verse onvoltooid. Vers 1 is aan die begin van die gedig sintakties oop en vers 2 is aan die einde van die koeplet sintakties onvoltooi. Hierdie oop plekke aan die begin en einde van die koeplet laat die leser toe om die gedig in ’n haas eindelose aantal gedigte te vermenigvuldig.

Abstract Top ↑

Transforming a poem. N.P. van Wyk Louw wrote a short poem consisting of only two short verses. Syntactically both verses are incomplete, leaving open spaces at the beginning of verse 1 and at the end of verse 2. This allows the reader to fill in both open spaces in such a way that this single poem can be transformed into two, twenty and even more poems.

Een gedig is meer as een Top ↑

’n Mens lees sekere gedigte, selfs as dit ’n klein gedig is, oor en oor. Ons kan dieselfde sê van die roman of drama. Ons lees Shakespeare, Dante, Sophokles en ander grotes eeue na hulle geleef het nog steeds omdat hulle werke onvoltooi is, vol oop plekke, hoe afgerond dit ook al is. Ons gaan kyk talle kere na ’n opvoering van ’n drama omdat daar steeds iets raaiselagtigs in bly. Ons herskryf ander digters se gedigte omdat hulle in nuwe tye nuwe toepassings kry, of ons gee skynbaar teenstrydige maar nogtans geldige interpretasies van ’n gedig.

Die gedig het in sy oorsprong baie te make met die raaisel en met spel, soos Huizinga dit verduidelik het in sy Homo Ludens.

Leipoldt se ‘Sekretarisvoël’ van net ses reëls is een van sy bekendste gedigte. Waarom is dit ’n goeie gedig of hoegenaamd ’n gedig? Waarom word dit vermenigvuldig en is dit ryk?

Die geheim van Leipoldt se enigmatiese klein gedig is dat die voël die digter se dringend herhaalde vraag nie beantwoord nie, of nie kan beantwoord nie, en dat die antwoord wat ons graag sou wou gehoor het, uitbly en nie daar staan nie:

Sekretarisvoël met jou lange bene,

Met jou penne agter jou ore styf,

Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?

Sekretarisvoël met jou lange bene,

Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,

Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

Is dit bloot ’n voël waaroor dit hier gaan? Wáár is ‘hier’? Wat beteken ‘maak’? Gaan dit om ‘wat soek jy hier,’ met die antwoord ingebou: ‘jy hoort nie hier nie,’ ‘waarom is jy hier?’, of ‘wat doen jy hier?’

Leipoldt se sekretarisvoël is ’n eksotiese verskynsel. Die gedig bly so oop dat niks my verhinder om die sekretarisvoël as die digter te sien nie (die penne agter die ore suggereer iets daarvan). Die digter is vir die meeste mense ’n eksotiese verskynsel. Verse is eksoties. Niemand praat in verse nie. Die gedig is ’n abnormale ding. Hoort die digter dan hier in die ‘normale’ wêreld? Waarvandaan kom hy? Ons weet uit Leipoldt se gedigte dat mense vreemd opgekyk het na hom as digter, as ’n vreemdeling soos die sekretarisvoël. Dus: Wie stel die vraag? Die nugter nurks of die digter? Word die vraag deur iemand anders aan die digter gevra, of vra hy dit aan homself?

J.H. Leopold het vir ons ’n groot aantal onvoltooide gedigte nagelaat. Uitgewers van sy gedigte het dit tot vandag toe, amper ’n eeu na sy dood, nodig gevind om met die noukeurigste aandag en moeite die onvoltooide gedigte as gedigte te publiseer. Waarom? Omdat dit gedigte is wat net so goed soos die skynbaar voltooide gedigte is en nog meer as die voltooide gedigte raaiselagtig bly: Wat kon daar gestaan het? Dit kan nogal ’n kreatiewe speletjie word om die leegtes te probeer invul, gelei deur wat daar staan. In een van sy onvoltooide gedigte praat Leopold van die rykdom van die onvoltooide gedig. Inderdaad is sy onvoltooide gedigte oorvloedig ryk, en ’n mens vra jou af of Leopold nie bewustelik party gedigte onvoltooid gelaat het nie, juis om die rykdom daarvan. Of het Leopold werklik nie geweet wat om daar in te vul nie? Party van hierdie onvoltooide gedigte wys vir ons dat ’n gedig aan sy einde of in sy helfte kan ontstaan, of enige plek, en dan weet die digter nie verder nie. Kort op die hakke van Leopold het J.C. Bloem gekom wat beweer het die digter kry die raam en moet dan verder invul, en die ‘raam’ is miskien ’n enkele woord in die middel van ’n vers in die middel van die veronderstelde voltooide gedig!

Daar is baie maniere waarop selfs die skynbaar voltooide gedig verder voltooi kan word, deur vertaling byvoorbeeld, of deur die verpligte saamlees van gedigte. So word Opperman se ‘Kersliedjie’ vermenigvuldig en verryk as ons weet dat dit tot in sy ritme en deur byvoorbeeld die beeld van die ster en die betrokkenheid van die Christusfiguur ons verwys na Nijhoff se ‘De Kinderkruistocht’. Nijhoff se gedig speel op een of ander manier in op Opperman s’n. Van Wyk Louw se Raka-figuur het iets weg van Nijhoff se sater in ‘Satyr en Christofoor’. Plek-plek kom beelde uit Nijhoff se gedig in Raka voor: skuheid byvoorbeeld, Raka wat ‘half verleë’ en nederig vir Koki uitnooi om by die fees van klou en bek aan te sluit. Dieselfde gedrag kom by die sater voor as hy Christofoor uitnooi om te eet. Hy:

biedt nu, schuw en verlegen,

een handvol bessen aan –

In Raka hoor ons hierdie verse van Nijhoff as Christofoor die sater se hand gryp:

zoo sterk werd zijn hand gegrepen

dat het sap der stukgeknepen

vruchten in roode strepen

neerdrupt van pols naar poot

Raka pluk soos die sater bessies, en as Raka die bessies kou, drup (tap) dit presies soos in Nijhoff se gedig. Alleen die kleur van die sap verskil, asook die alliterasie (Nijhoff: pols-poot; Louw: bek-bors):

… waar die bessies laag

aan struike gesit het, wou hy skaars buk

om die trosse van die dorings af te ruk

en stadig te kou tot die blou sap

van die bek oor die bors in die blare tap

Wil Louw vir ons by implikasie sê dat Raka, anders as die sater, ‘onbekeerbaar’ is?

’n Digter kan ’n volledige gedig sewe maal (ek bedoel die getal simbolies) vermenigvuldig. Boerneef wys ons hoe, in een van sy klein maar ryk gedigte. Vir gewone taalgeskrifte is daar allerlei reëls: sintaktiese- en spelreëls, reëls vir leestekengebruik, vir hoof- en kleinletters. Die gedig hoef sigself nie konsekwent hieraan te steur nie. Die digter hoef geen hoofletters en leestekens te gebruik nie en kan met die vers- en sinsbou speel, dit as’t ware verbrou, dit vol oop plekke laat wat ingevul, eintlik ingelees, kan word. Daardeur vermenigvuldig hy die gedig. Boerneef het so ‘n klein gedig vol vermenigvuldigingsplekke geskryf:

1

i Waar skuil ek teen die son se steek

ii op hierdie Krovlak sonder bome

iii is dit net opgeefsel en brand

iv of panne blink van klip en sand

Martinus Nijhoff skryf in sy gedig ‘Awater’ die nou reeds baie bekende woorde (self vatbaar vir meer as een vertolking) wat met Leopold se ‘rykdom van die onvoltooide’ ooreenstem: ‘lees maar, er staat niet wat er staat’, want daar staan nie net wat daar staan nie, daar staan meer as wat daar staan. In sy opstel oor Herman van den Bergh sê Nijhoff dat ’n goeie gedig ’n ‘tweede inhoud’ het. Daar is gedigte met ’n derde, vierde en verdere inhoude wat die skynbaar voltooide gedig uitbrei.

Deur die afwesigheid van leestekens en sekere hoofletters kan Boerneef se gedig vermenigvuldig word. Nou kan ons as lesers hoofletters en leestekens inlees. Goeie gedigte sê immers nooit alles nie.

Ons kan begin deur Boerneef se gedig te lees as vraag in vs. i en as stelling in vs. ii–iv:

2

i Waar skuil ek teen die son se steek?

ii Op hierdie Krovlak sonder bome

iii is dit net opgeefsel en brand

iv of panne blink van klip en sand

Of ons kan dit lees as ’n eerste vraag in vs. i-ii en as tweede vraag in vs. iii–iv:

3

i Waar skuil ek teen die son se steek

ii op hierdie Krovlak sonder bome?

iii Is dit net opgeefsel en brand

iv of panne blink van klip en sand?

Of ons kan dit lees as vraag in vs. i–ii en ons kan vs. ii verdubbel (herlees as apokoinou) en dan is vs. iii–v ‘n stelling:

4

i Waar skuil ek teen die son se steek

ii op hierdie Krovlak sonder bome?

iii Op hierdie Krovlak sonder bome

iv is dit net opgeefsel en brand

v of panne blink van klip en sand

Daar is nog ander moontlikhede (weer met apokoinou):

5.

i Waar skuil ek teen die son se steek?

ii Waar skuil ek teen die son se steek

iii op hierdie Krovlak sonder bome?

iv Op hierdie Krovlak sonder bome

v is dit net opgeefsel en brand

vi of panne blink van klip en sand

6

i Waar skuil ek? Teen die son se steek

ii op hierdie Krovlak sonder bome

iii is dit net opgeefsel en brand

iv of panne blink van klip en sand

7

i Waar skuil ek teen die son se steek

ii op hierdie Krovlak? Sonder bome

iii is dit net opgeefsel en brand

iv of panne blink van klip en sand

Daar is nóg meer leesmoontlikhede as hierdie sewe (die oorspronklike ingesluit). As ’n mens die ‘ek’ vervang met ‘jy’ of ‘hy’ of ‘sy’ of ‘ons’ of ‘hulle’ dan het ons meer as tien leesmoontlikhede, en raaisels, en dit van so ’n ‘klein’ gedig van net vier verse!

Wat gebeur deur die vermenigvuldiging van die gedig? Huizinga het in Homo Ludens uitvoerig beskryf hoe die poësie spel is. Die vraagsteller speel in Boerneef se gedig met die taal, met die leser, met die metafore, met die tema. En hy maak dit moeilik vir die vertolker en voordragkunstenaar.

Boerneef se vraag bevat implisiet bowendien ’n antwoord en die gedig kan in ’n stelling omgedink word, iets soos: daar is ongelukkig nie so ’n skuilplek nie. Dit is ’n verdere spel, die omskakeling van vraag na antwoord of stelling, verdere vermenigvuldiging.

Daar is nog ’n ander, korter voorbeeld van hoe ‘n gedig vermenigvuldig kan word. Ek bedoel Van Wyk Louw se ‘Dat akkers op die sinkdak val.’

’n Gedig is ‘repetitive form,’ korrespondensie met variasie, soos in die musiek; dink aan Mozart se sonates, of nog opvallender, Ravel se Bolero. Daarom is die kleinste moontlike gedig ’n gedig van twee verse. Van Wyk Louw het in Nuwe Verse so ’n klein, maar vol en ryk gedig van net twee verse geskryf (die eerste gedig in die Klipwerk-reeks) met ‘n begin en einde wat sintakties aan albei kante oop is; iets ontbreek aan albei kante:

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

Albei verse het presies net ses woorde. Ons kan die ‘en’ waarmee vers 2 begin, vervang met ‘dat’ sonder dat ons die gedig aantas. Ons kan die ses woorde (dieselfde aantal sillabes) van elke vers vertikaal onder mekaar plaas. Dan is daar duidelike korrespondensie met variasie, én daar is groei in die gang van die gedig:

A 1. dat 2.akkers 3.op 4.die 5.sinkdak 6.val

B 2.(dat) 2.vye 3.op 4.die 5.ringmuur 6.breek

Die twee kernbegrippe in die gedig is ‘val’ en ‘breek’, wat in die verseindes, dus in fokuspunte van die verse staan. Hulle roep assosiasies met die dood op, maar ook met opwinding… twee heeltemal teenstrydige dinge!

Die akkers van vers A wat val, is natuurlike vrugte en gewoonlik nie kos wat die mens eet nie. Die vye van vers B wat breek, is vrugte wat deur die mens verbou word en eetbaar is, wat eeue lank gesog is en in die literatuur vol simboliek is. Die eetbare, gesogte vye is dus ‘nader’ aan die mens as die akkers.

Die sinkdak van vers A (as dit ’n huis is) is bo die verteller se kop en beskermend, maar ruimtelik verder van die verteller af, soos die akkers. Die ringmuur van vers B is (miskien) om die mens gebou en dakloos, minder beskermend, dus is die breek van die vye op die ringmuur in vers B ruimtelik ook nader aan die mens as die val van die akkers in vers A.

Daar is met ander woorde ’n ontwikkelingsgang van val-na-breek, wat van vers A af na vers B al nader na die verteller toe beweeg, en toeneem in intensiteit. Die laaste woord in elke vers is ‘val’ en ‘breek’. Die ‘breek’ van vers 2 is noodlottiger as die ‘val’ van vers 1 (breek, is val plus breek), en daardie breek is ook nader aan die verteller (op die ringmuur rondom hom; ’n ringmuur kan natuurlik ook ’n muur om ‘n begraafplaas wees, maar die vye impliseer hier dat dit miskien eerder ’n muur naby die sinkdakwoning is). Dit gaan in die gedig om ’n naderende gebeure, heel moontlik ’n katastrofe wat tot die dood kan lei.

As ons die simboliek daarby betrek, word die val van die akkers en die breek van die vye geïntensiveer. Akkers simboliseer ‘longevity, immortality … regeneration and life-fire,’ maar ook: ‘coffins are made of oak;’ dit simboliseer verder ‘the time of death … Felling an oak is an ominous action’ (Ad de Vries: Dictionary of Symbols and Imagery). Dat die akkers val, kan dus dodelik wees. Dieselfde geld wat die breek van die vye betref: ‘The fig tree has sexual symbolism … In Egypt and India it is linked with procreative power’ (M. O’Connell en Raje Airey: Symbols, Signs and Visual Codes). As die vye breek, is dit die einde van prokreatiwiteit. Metafore is altyd vermenigvuldigend en raaiselagtig, daarom dat De Vries so baie (dikwels teenstrydige) inskrywings aan een enkele metafoor gee.

Dit kan ’n sinkdakgebou en kerkhof-ringmuur wees, wat nie naby mekaar staan nie, wat hier ter sprake is.

Die verteller word nie in Louw se gedig geïdentifiseer nie. Daar is nie ’n ‘ek’ in hierdie gedig nie, dus is die gedig ook in hierdie opsig oop vir invulling en vermenigvuldiging. Dit kan ’n kind of volwassene wees wat hier praat, ’n jeugdige, ’n middeljarige of bejaarde, seun of meisie, man of vrou, dit kan ek wees of jy, ons of Jan Alleman. Waarskynlik het die gebeure op ons almal betrekking.

Ons kan die onvoltooide verse probeer voltooi deur net aan die oop begin of net aan die oop einde in te vul, of ons kan aan albei oop kante bylees (ek wil nie vermetel wees en Van Wyk Louw nadoen nie, ek wil alleen leesmoontlikhede stel):

1

wat is die dieper sin daarvan

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

2

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

roer iets wat onbeskryflik is in my

3

wanneer die wind die bome ruk

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

ontstel dit my

Miskien kan ons iets uit ’n ander gedig van Van Wyk Louw byskryf:

4

U skryf in helderte

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

en ek skryf na in stof

Maar dit is ook moontlik om die gedig in ‘n heeltemal ander toonaard te lees:

5

hoe onbeskryflik mooi

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

wanneer dit in die rukwind reën

As ons aan Sartre dink wat gesê het dat die dood die lewe verhewig, soos Nijhoff ook in ‘Het Veer’ geskryf het, kan ons heeltemal teenstrydig met party van die lesings van hierbo lees:

6

hoe helder uit my kindertyd

al is dit ver terug kan ek onthou

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

wanneer dit reën op Sutherland

wat naby aan die sterre lê

7

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

is mooi herinneringe uit my kindertyd

Of letterlik en figuurlik, iets in die gees van die Prediker, nageskryf deur T.S. Eliot en De Genestet:

8

daar kom ’n tyd

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

Dit is moontlik dat die gedig na sigself terugverwys:

9

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

is wonderlike digterlike spel

Van Wyk Louw se tweede bundel dra die titel Die Halwe Kring. In een van die gedigte, ‘Nog in my laaste woorde’, praat hy van die voltooiing van ‘n oopgelate kring:

10

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

voltooi die oopgelate kring

Onder andere in 10 is die metrum en lettergreeptelling van die aangelaste vers dieselfde as dié van die ‘egte’ verse. ‘n Ander probeerslag:

11

hoe graag wil ek weer hoor

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

As ons die oorspronklike gedig bytel (ons hoef immers nie in te vul nie en die gedig uit eerbied laat soos dit gepubliseer is), het ons nou al ‘n dosyn leesmoontlikhede, en dit is glad nie die einde nie, want ons kan die gedig verder vermeerder as ons dit betrek op nie net ‘n ‘ek’ nie maar ’n ‘jy’, ‘ons’, ‘julle’, ‘Jan Alleman’ (op ‘Elkerlijc’) soos by die Boerneefgedig.

Die leser kan bowendien meer as een vers óf voor óf agter bylees (vgl. 6 hierbo).

In ‘dat akkers op die sinkdak val’ is slegs die klou van die leeu sigbaar (‘Ex unguine leonem’, Tristia); die res moet ons bylees.

Dit is die werk van ‘n meester om van twaalf woorde in twee verse ‘n haas eindelose aantal leesmoontlikhede te maak.

’n Laaste spel:

12

van die twaalf woorde in die twee verse:

dat akkers op die sinkdak val

en wye op die ringmuur breek

kan ’n leser ’n hele bundel gedigte maak

 

https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/139/457  Besoek 1 Augustus 2022