Posts Tagged ‘Nini Bennett Da Capo’

Digstring: Nini Bennett. Da Capo

Wednesday, April 13th, 2016

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig.

Da Capo

Van al die relieke, uitgestrooi met afskeid

is min dinge so leeg en eensaam soos ’n hoed;

dit reis tussenwêrelds na niks of na rus

en die kapstok sê: jy het gearriveer of gegaan.

Daar is min dinge so aanwesig soos ’n hoed.

Op al die haltes van aankoms en vertrek

was jou swaar kop die mooiste; groot

met skedelnate broos om die kroonare

wat roosrank deur jou brein. Jou hoed

was trots, maar hang nou verslae

aan die kapstok – sal dit ons haltes

van vergeet onthou as ek inboek

in die eensaamheid van dié vers?

’n Kapstok tel die ure se loopgang,

die kopskuiwe van hier en ver.

As ons ná die eendagsreis ontslaap, die self

kolskoot en finaal ophang aan die kerfstok

sal ek weer aanmeld by die laaste

halte – die inlas van verlies vind;

jou hoed hang daar, jy is hier,

vir ewig tuis. Ek het jou liefgehad

soos ’n hoed of ’n eenvoudige profesie.

 

Uit: Boekstaaf. Nini Bennett. Cordis Trust, 2015.

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ek het die gedig iewers in Mei 2013 geskryf. Dit was een van die eerste verse wat ek na ’n langerige stilte geskryf het, en dit sou later die openingsgedig van Boekstaaf vorm. Ek het intuïtief beplan dat dit die eerste gedig in die bundel sal wees, en dat die musiekterm: “herhaal vanaf die begin/kop” ’n sikliese bundeleenheid sou bewerk.

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die eerste pogings het redelik vinnig verloop. Op aanbeveling van my keurder het ek teruggesnoei aan die gedig en van die versreëls verkort. In totaal was daar ongeveer ses herskrywings van die betrokke vers.

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?

Die vers het relatief glad gevloei. Die slotreël, “Ek het jou liefgehad/soos ‘n hoed of ’n eenvoudige profesie” het ek eers heelwat later bygevoeg. Ek het geweet die gedig kort iets, soos ’n spesery. Ek het my onderbewussyn opdrag gegee (letterlik) om fyn te luister en te wag: dit sal na my toe kom. Ek doen dit as ek vashaak of wag op ’n gedig – die brein is na alles ’n moederbord wat ’n mens kan programmeer om instruksies uit te voer; ’n rekenaar wat deur derduisende stukkies data skandeer vir die regte ‘antwoorde’.

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander “onderdeningsprinsipe” toegepas?

Ek wou ’n sangerige vrye vers skryf, en by gebrek aan formele ordeningsmeganismes soos met vaste versvorme, het ek gesteun op ‘interne bindingsmeganismes’. Ek wou die waarde van klank benut met assonansie en alliterasie, asook die enjambementsfunksie, herhaling, en kontraswerking wat die beweging van die hoed voorstel. Terwyl ek aan ’n gedig werk, ontleed ek dit parallel met die skeppingsproses met die hoop dat dit darem ’n bietjie literêre pitkos sal bied. Ek het my eie “shorthand” ontwikkel as ek skryf. Ek werk met ’n potlood, want ’n potlood krabbel vinniger as ’n pen. Deur hakies, numering en pyle te gebruik, skep ek soms tot drie weergawes van ’n gedig in een rofwerkpoging, waarna ek die verskeie pogings toets en kombineer totdat die finale gedig uitkristalliseer.

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ek het die gedig vir my lewensmaat, Mellet Moll, en vir my ma gewys. Mellet is ’n goeie analitiese klankbord, terwyl my ma ’n fyn intuïtiewe leser van poësie is. Tussen dié twee vind ek gewoonlik ’n middeweg. Ek het die gedig ook op die sosiale media geplaas, maar laasgenoemde is nie ’n goeie barometer vir die waardebepaling van poësie nie.

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die vers het twee jaar sedert ek dit die eerste maal geskryf het, verskyn in Boekstaaf (2015:2).

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die vers is fiktief. Dit staan universeel as liefdesgedig, of as ’n gedig oor ’n hoed, of as ’n hoed wat ’n persona voorstel. Die vers is “emosioneel die waarheid”, om Jeanne Goosen aan te haal. Binne die groter bundelkonteks kan die vers inspeel op die werk van Milan Kundera, Caspar D. Friedrich en René Magritte as feitelike verwysingspunte.

  1. Is dit ’n narratiewe vers?

Nie heeltemal nie, maar dit beskik wel oor narratiewe eienskappe.

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit is ’n liedagtige vers waarin musikaliteit geaktiveer word deur die titel, ’n musiekterm wat beteken “herhaal vanaf die begin/kop”, soos reeds genoem. Die hoed vertrek en gaan uit in die wêreld, reis deur tyd en ruimte, maar keer telkens terug na die kapstok. Die hoed is ook ’n persona wat identiteit opeis en eindelik die sikliese gang van die lewensreis en dood voorstel. Binne die bundelgeheel is dit die poëtikale vertrekpunt of vehicle.

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Ek het die vers geskryf direk na aanleiding van die film Modigliani (2004). Veral een toneel het my bygebly: Modigliani en Picasso ruil hoede op ’n speelse wyse, maar dié spel blyk ’n dodelike magspel tussen die twee skilders te word. Die ryk simboliek rondom ’n hoed het my dadelik aan die dink gesit.

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Dis ’n plesier om te skryf vir ingeligte lesers van poësie. Ek probeer om nie my lesers doelbewus te vervreem nie, en verkies om “helder” te skryf. En om ook my tematiek uit te werk dat die verse eindelik tydloos of universeel kan staan, ongeag die verwagtingshorison of verwysingsraamwerk.

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

“Da Capo” was ’n waterskeidingsoomblik nadat ek gedink het ek poësie vaarwel geroep het – ’n waterskeidingsoomblik wat ironies genoeg sigbaar geword het ná die skilder, Liekie Fouché, se vertolking van die verse in ’n skildery, Another world is calling, op die omslagontwerp. Met die skryf van hierdie vers het ek geweet my skrywersdroogte is gebreek.

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Alhoewel die vers universeel is, kan dit ook as tipies Suid-Afrikaans gesien word. Daar is baie kapstokke met hoede in Suid-Afrikaanse huishoudings – iets wat bekend is en waarmee lesers kan identifiseer.

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “prysgegee” (abandon)?

Ek verlaat verse met die geloof dat daar hopelik nuwes (of beter verse) iewers wag. Ek sukkel om ’n vers te lees wat uiteindelik in sy gietvorm rus – ek troetel nie ou werk nie. Met “Da Capo” was ek redelik tevrede.

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek was dankbaar vir ’n gunstige reaksie. Lesers het die hoedkodes raakgelees, asook die intratekstuele spel met ander verse, en die intertekstuele en metatekstuele spel met Kundera, Friedrich, Magritte, en ander werk.

  1. Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

In 1977, aan die einde van my vyfde jaar nadat my ouma my leer lees en skryf het. Ek het vinnig drie rympies na mekaar neergekrabbel: een oor ’n huis, een oor ’n feëtjie in ’n vyeboom, en een oor ’n spoorlyn. Dit kwalifiseer nie werklik as gedigte nie – maar in my jong gemoed dit het so gevoel.

Erkennings:

Bennett, Nini. Boekstaaf. 2015. Pretoria: Cordis Trust-Publikasies.

Die konsep van “Digstring” is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.

  •