Posts Tagged ‘Nini Bennett; Hannah Senesh’

Nini Bennett. Hannah Senesh

Monday, August 3rd, 2015

                                                             Hannah Senesh in uniform
                                                                                    .
                                                                                   

Hannah Senesh as digter en dagboekskrywer: ’n elegiese beskouing

1

Die digter, skrywer en soldaat, Hannah Senesh, het ’n simbool van hoop en selfloosheid vir die mensdom geword. Senesh is op 17 Julie 1921 gebore in Boedapest. Reeds sedert sy klein was, het haar skryftalent geblyk. Sy het dagboek gehou vanaf haar dertiende jaar tot kort voor haar dood. Op skool het sy kennis gemaak met anti-semitisme, waarna sy in 1939  Hongarye verlaat het om aan ’n landbouskool te studeer. Tydens die oorlogsjare vestig sy haar in Israel om in die kibbutz, Sdot Yam, te gaan werk. In 1943 sluit Senesh by die Britse Weermag aan, en ondergaan intensiewe opleiding vir dié dubbele sending: om die Engelse te help om vlugroetes oop te stel vir die Geallieerdes; en in die proses hulp te verleen aan die Haganah (die ondergrondse Joodse weermag) om Jode te help ontsnap van vervolging.

In Maart 1944 land Senesh en haar mede-soldate met valskerms in Joegoslawië, maar is dadelik deur die Hongaarse owerhede gearresteer en gevange geneem. Hannah Senesh is vir maande lank aangehou en gemartel om inligting oor hulle sending te verskaf, maar sy het geweier om te swig. Ten spyte van ondraaglike pyn en vernedering wat sy moes verduur, het sy uit kartonne en met die hulp van ’n spieël bemoedigende boodskappe aan haar mede-gevangenes in die gebou gestuur. Sy het ook morsekodeboodskappe gesein deur op primitiewe wyse ’n spieël te gebruik vir sontelegrafie. Selfs nadat haar ma gearresteer en aangehou is in dieselfde gebou as Senesh, het sy geweier om die geheime inligting te verskaf. (Haar weiering om saam te werk het op ’n ironiese wyse haar ma se lewe gered). Senesh is aangekla vir hoogverraad teen Hongarye, en op 7 November 1944 gesterf voor ’n vuurpeleton. Sy was 23 jaar oud. Tot die bitter einde was sy trots en moedig, en het haar ken hoog gehou en stip voor haar uitgestaar voor sy geskiet is. In 1946 is haar dagboek, Hannah Senesh: her Life and Dairy vir die eerste maal gepubliseer. Jeugverse, wat van Hannah se uitsonderlike talent getuig, is ook in die dagboek opgeneem. A walk to Caesarea, of Eli, Eli (beter bekend as My God, my God), ’n bekende gedig deur Senesh, is later deur David Zahav getoonset, en staan bekend as Israel se “tweede volkslied”. Van die leidmotiewe in die lied is uitgebou in komposisies vir die klankbaan van die film, Schindler’s List.

A walk to Caesarea in Senesh se handskrif

2

As digter en dagboekskrywer is Hannah Senesh relatief onbekend. Haar tydgenoot, Anne Frank, wat agt jaar jonger was, se bekende dagboek, The Dairy of a Young Girl, is reeds in sestig verskillende tale vertaal, en het as inspirasie gedien vir toneelopvoerings, films, musiek, maar ook as ’n boek wat getuig van die mens se aanpassings- en uithouvermoë. Frank gee ’n stem aan miljoene gesigte in die skadu’s van WO II – en al was sy ’n kind, was sy ‘n buitengewone skrywer, waarnemer en registreerder van gebeure. Ook die bekende psigiater, neuroloog en Holocaust-oorlewende, Victor Frankl se bekende Man’s search for Meaning beleef vandag steeds herdrukke. Alhoewel Senesh die erkenning gekry het wat haar toekom, is haar klein, maar seminale bydrae as digter en dagboekskrywer oorwegend deur Joodse gemeenskappe opgeëis en geëer as Sionistiese kultuurerfenis.

Die dokumenteringsrekord van briewe, gedigte en en dagboeke van skrywers, digters, soldate en krygsgevangenes was tydens en ná die wêreldoorloë ’n moeisame proses. Handgeskrewe manuskripte en briewe is gestuur aan geliefdes, en gedigte is in ander tale as die digter se moedertaal geskryf: so het Senesh ook, naas Hebreeus, gedigte in Hongaars  en Engels geskryf. Die Joodsgebore digter, Paul Celan, het van sy werk in Frans, Engels, Russies en selfs Duits geskryf om die sekuriteitsmaatreëls rondom die wegstuur van pos te omseil. Die Diaspora van veral die Joodse oorlogskrywers weerspieël ’n versplintering in taal, maar ook van identiteit: só was Paul Celan se oorspronklike naam Paul Antschel en Hannah Senesh heet Szenes Anikó of Chana of Ani Szenes.

Briewe en dagboeke dokumenteer ’n lewensgang; word ’n sosio-kulturele of historiese dokument. Dit is ook ’n ego-dokument en waardevol as psigo-dokument, soos in die geval van Frankl se navorsing oor eksistensialisme wat hy as gevangene in ’n konsentrasiekamp  gedoen het; of die briewe van die bekendste WO I digter, Wilfred Owen, aan sy moeder waarin sy sielkundige deteriorasie op die gevegsfront duidelik blyk. Vir die leser van dagboeke, briewe en gedigte van skrywers en slagoffers van oorloë is geskrifte soos hierdie ’n bestekopname van ’n soeke na ’n verlore tyd, ’n verlore self – en is dit veral die sosiale kommentaar wat steeds relevant bly.

April 1918 skryf Owen die volgende: I know I shall be killed. But it’s the only place I can make my protest from. Yes, these elegies are to this generation in no sense consolatory. They may be to the next. All a poet can do today is warn. In Owen se bekende gedig, Dulce et Decorum est negeer hy die idee dat dit edel is om heroïes te sterf vir jou vaderland.  Soos Senesh, het Owen sy gedigte in die skadu van die dood geskryf (hy het in voorste linies geveg en eindelik gesterf). Die beliggaming van die naderende dood vind ook uiting in die volgende gedig van Senesh, wat sy kort voor haar teregstelling geskryf het:

 

One – two – three… eight feet long

Two strides across, the rest is dark…

Life is a fleeting question mark

One – two – three… maybe another week.

Or the next month may still find me here,

But death, I feel is very near.

I could have been 23 next July.

I gambled on what mattered most. The dice were cast. I lost.

 

Julie 1918 skryf Owen: My subject is war, and the pity of war. The poetry is in the pity. Beide Owen en Senesh het hulle lot op ’n elegiese wyse aanvaar. Poësie word dus die voltrekking van oorlog; ’n elegiese vooruitskouing; ’n korpus.

Afgesien van die skrywer se plig om komende generasies te waarsku teen die verwoesting van oorlog, getuig gedigte, dagboeke en briewe ook van moed en inspirasie, soos dié van Anne Frank. Victor Frankl se bekende segging: What is to give light must endure burning skakel sinvol met die volgende gedig van Hannah Senesh:

 

Blessed is the match consumed in kindling flame.

Blessed is the flame that burns in the secret fastness of the heart.

Blessed is the heart with strength to stop its beating for honor’s sake.

Blessed is the match consumed in kindling flame.

 

Die nalatenskap van Hannah Senesh het gelei tot ’n film, Hannah’s War (1988), ’n dokumentêr oor haar as mens, ’n museum met haar persoonlike artefakte, verhoogstukke oor haar lewe, en webwerwe, waar veral vandag se Sionistiese jeug steeds hulde bring aan haar. Kort ná haar teregstelling is dié afskeidsnota, gerig aan haar moeder, in haar jas se sak gevind: Dearest beloved mother, I have no words. […]. You’ll understand by yourself why there is no need for words. Senesh se swanesang was een waarin woorde ontbreek; ’n elegie van swye; as dood se moedertaal. Maar kennelik ’n stem wat nog vir baie generasies gehoor sal word:

 

Hora to an Exiled Girl

A hora, roaring, tempestuous, blazes around me
With the mystery of rhythm, gladdening and forging,
It tugs at my body and heart
The foot marches, the back quivers, the song is ignited, a searing chorus
Dance and song, a wordless prayer,
Hail to the future, hail to creation

But then a figure flutters before my eyes
My arm has escaped my friends’ embrace
My heart spurns the tempestuous singing,
Far and near it consumes me whole

Blue eyes
Such a bewildered glance
A sad silence and a stubborn mouth
The stillness grows in me
I remain standing
Alone, in a crowd of a hundred, her and I

 

Bronnelys

Frankl, V. 1992. Man’s Search for Meaning. Boston, Massachusetts: Beacon Press Books.

Senesh, H. 1972. Hannah Senesh: Her Life and Dairy. New York: Schoken Books.

www.warpoetry.co.uk/2nd_ww.html (besoek 27 Julie 2015)

http://www.mjhnyc.org/hannah/credits.html (besoek 27 Julie 2015)

 

 

  •