Posts Tagged ‘Nootvat Kwashaal Stapel’

Onderhoud met Bernard Odendaal oor sy bundel “Nootvat. Kwashaal. Stapel.”

Thursday, June 23rd, 2022

 

 

 

Tydens die ATKV-Skryfskool van 6 – 10 Junie 2022 het Marlies Taljard met Bernard Odendaal gesels oor sy bundel “Nootvat. Kwashaal. Stapel.” wat in 2021 by Tafelberg verskyn het.

 

Marlies Taljard (MT)

Die bundel “Nootvat. Kwashaal. Stapel.” het ʼn baie interessante voorblad. Gérard Genette, die Franse literêre teoretikus en Strukturalis, beskou die voorblad as deel van die parateks of dit wat die teks omring, onder andere om dit sigbaar of aantreklik te maak, maar veral om dit tot stand te bring as konkrete artefak – dus ʼn sterk gemerkte plek in die teks. Die illustrasie wat jy vir die voorblad gekies het, het ʼn interessante geskiedenis. Vertel asseblief iets daarvan.

 

Bernard Odendaal (BO)

Die skildery wat Michiel Botha benut het om die omslagontwerp te skep, is ʼn werk deur Janine Allen. Dit heet “Inkarnasie van die putti” en is in 2008 saam met die collage- of stapelgedig “Vere bly van voëls”, wat in my bundel opgeneem is, uitgestal. Dié kunswerkpaar het ʼn onderdeel gevorm van ’n woord- en visuelekunsuitstalling getiteld “Uit die palm van die land”. Meer inligting oor dié uitstalling is opgeneem in die inskrywing oor “Vere bly van voëls” in die ARGIEF-afdeling van Nootvat. Kwashaal. Stapel.

Allen se “Inkarnasie van die putti” behels eintlik ʼn meerdelige installasie, naamlik van ʼn skildery gehang bokant ʼn vyftal pigmentbakkies wat op die vloer staan. Dit lyk dan of die verf waarmee die puttifigure “ingekleur” was, neersypel en terugdrup die pigmentbakkies in.

 

 

In ʼn artikel oor die “Uit die palm van die land”-uitstalling wat in die jaartydskrif Pomp 9 (2009, bladsye 342–357) verskyn het, verduidelik Allen dat die putti figure is wat soms in skilderye uit die Renaissance- en Baroktydperke voorkom, en wat die alomteenwoordigheid van God die Skepper versimboliseer. Die spesifieke werk van haar is gewortel in haar belangstelling in pigment. Min hedendaagse skilders het nog kennis daarvan as grondstof van die verf waarmee hulle skeppend omgaan. Vervreemding en verabstrahering het, volgens haar, plaasgevind in die “magiese” verhouding wat die skilder voorheen met die skilderkunsmateriaal gehad het.

Die stapelgedig wat ek geskryf het om saam met haar skildery uitgestal te word, het Afrikaans, sy Nederlandse wortels en sy durende wisselwerking daarmee, en die kwyning van Afrikaans se status in die huidige Suid-Afrikaanse bedeling tot onderwerp gehad.

Die “stapel”-element in die bundeltitel is, naas die “kwashaal”- gegewe, deur Michiel Botha in die omslagontwerp opgevang deur geraamde brokke van Allen se skildery daarop aan te bring. “Verbrokkeling” (verganklikheid) word geïmpliseer, ja; maar terselfdertyd op- en voortbouing, beywering téén die verweer in. Taal (Afrikaans) en poësie se weerloosheid (eintlik: verweerbaarheid), maar ook die intussen geopenbaarde veerkragtigheid daarvan, soos juis geopenbaar in die digkuns, beslaan ʼn belangrike deel van die tematiese veld in die bundel. “De taal loopt naar de poëzie, zoals water naar de rivier” – so haal ek die Franse linguis Georges Mounin, via ʼn Nederlandse vertaling deur die Vlaamse digter en literator Geert Buelens, aan in die eerste bundelmotto.

 

MT

Kan jy – dalk met verdere verwysing na die motto’s van die bundel – kortliks verduidelik hoe die titel ʼn kortbegrip is van die teks as geheel: Watter tipe gedigte kan mens in die bundel verwag? Sê die titel ook iets van die digambag en die aard van gedigte?

BO

Daar is ʼn hele klompie gedigte in die bundel wat ontlenings aan, verskrywings van en toespelings of voortskrywings op die werk van digterlike voorgangers verteenwoordig; ook gedig- en liedteksvertalings en eie liedteksskeppings is ingesluit. Vandaar die “nootvat”-duiding waarmee die bundeltitel afskop.

“Kwashaal” benoem weer ʼn aantal ander opvallende motiewe in die bundel. Ek het die wisselwerking met ʼn aantal beeldende kunstenaars by die skep van sekere gedigte (juis die collageverse, oor die konteks waarvan in die ARGIEF agterin die bundel enkele besonderhede verskaf word), daardeur probeer aandui. Ook die feit dat ʼn hele paar gedigte portrette van bepaalde persoonlikhede, tonele en ruimtes behels.

Na die “stapel”-motief het ek al verwys. Ek wou daarmee nie net die interteksspel en die talige skeppingsproses in digwerk beklemtoon nie, maar juis ook die “versreëlbousel”-aard van gedigte uitlig. Die collageverse in die bundel is opvallende voorbeelde in hierdie verband. Twee aanhalings wat as verdere bundelmotto’s gebruik is – een uit ʼn tydskrifonderhoud met die Amerikaanse digter George Oppen; die tweede uit ʼn Engelse vertaling van die Italiaanse filosoof Giorgio Agamben se poëtikaboek The End of the Poem – beklemtoon egter die effekte wat in die breë met die bladspieëlvoorkoms van gedrukte gedigte bewerkstellig word. “Die betekenis van ’n gedig is geleë in die kadense en die vorm van die versreëls en in die polsing van denke wat in daardie versreëls voorgestel word,” sê Oppen in daardie onderhoud (my omsetting in Afrikaans).

Met die driewoord-bundeltitel wou ek die onderskeibaarheid, maar ook die onskeibaarheid van die genoemde temavelde en digaard-soorte in die bundelopbou beklemtoon. Vandaar dat ook besluit is om nie die bundeldele, hoewel by wyse van oopgelate bladsye afgegrens, van afdelingtitels of -nommers te voorsien nie.

Hopelik is sodoende ook iets oor die gebeurlikheidaard van veel van die – mý – poësieskeppingsproses gesuggereer. Ek kon darem in hierdie verband by N.P. van Wyk Louw aanleun, naamlik by wyse van ʼn aanhaling uit sy boek Rondom eie werk as vierde bundelmotto:

            “Is u weer aan ʼn bundel besig?”

            “Aag, dit kom en gaan maar.”

 

MT

“Klasseminaaraanbieding: Van waar gedig?” en “Let’s get real” is twee gedigte wat handel oor die onderrigpraktyk in kreatiewe skryfkursusse. Kan mens iemand leer om ʼn digter te word? Is dit nie ʼn aangebore talent nie? Wat leer jy jou studente: hoe skryf mens ʼn gedig?

BO

Digtalent, soos ander talente, besit niemand weens menslike toedoen nie. Een mens kan wel ʼn ander attent maak op ʼn min of meer geopenbaarde talent, en hom/haar dalk bystaan in, selfs begeester tot, die ontwikkeling daarvan.

As skryfkunsdosent en poësiewerkwinkelleier aan eers die Universiteit van die Vrystaat en toe die Noordwes-Universiteit, kon ek ingeskrewenes bewus maak en laat oefen in die hantering van die taal- en versboumiddele waarmee gedigte tot stand gebring word. Watter voorwaarde vertroudheid met die digkunstradisie, en van die vernuwings daarbinne, is ter voorbereiding op moontlike eie en wesentlike bydraes deur opkomende digters, kon ek ook (help) beklemtoon.

Net tot sover strek die “opleiding-en-produksie-lyn”, as ek industrieterme mag gebruik, egter. Hopelik was daar enkelinge onder die ingeskrewenes wat na my geluister en na al die bekendgestelde tradisiegedaantes gekyk het, en toe besluit het om die koerse van hulle eie vinding- en verbeeldingrykheid in te slaan. Soos daardie Engelsemeisieskool-produk en haar spoorvatter-klasmaats in “Let’s get real”. Om sodoende dalk opnuut, dit wil sê nuut-makend, te kan sê – die poësie selfs te laat begin sê – wat oor menswees en hierwees te sê val.

In “Klasseminaaraanbieding: Van waar, gedig?” verduidelik die spreekster iets van die digterlike skeppingsproses aan die hand van die beeld van ʼn omhoogkringelende vliegtuig, as “funksie van tegniek en verrigting”, totdat daar, verrassenderwys, ʼn springer met die “kwashaal” van sy valskerm uit te voorskyn kom. Dié swiep met “gespierde sin” en swier grondwaarts om tussen die gadeslaners op die strand neer te stryk waar hulle, weens die skouspelagtige benutting daarvan, verwonderd bewus gemaak staan van die oerelemente om hulle heen: lig, lug, aarde en water. Op ʼn vraag deur ʼn klasmaat oor waar die digter by dié gedigskeppingsprentjie inpas, kom die spreekster met die volgende besef vorendag: “dié sit op ’n handdoek langs die see, // oophangmond soos ons”.

 

MT

Reeds in die derde reël van die openingsgedig, “Klankbord” wat opgedra is aan die digter I.L. de Villiers, verwys jy na die bekende Belgiese sanger en liedjieskrywer Jacques Brel:

Jou beleefde e-posbrief kom aan

waar ek in Vlaandere, koue maande lank, vertaal-torring

dat Jacques Brel ʼn slag in Afrikaans kan sing.

Die tweede gedig in die bundel is ʼn biografiese gedig oor dié sanger en bevat liedteksgrepe van Jacques Brel wat deur jou en Naòmi Morgan uit Frans vertaal is. Die gedig “Die wanhopiges” is nog ʼn vertaling van ʼn Jacques Brellied. Vertel asseblief iets meer oor hierdie projek.

BO

Ek en Naómi het rondom die millenniumwending nabye kollegas geword toe Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans as vakdissiplines aan die Universiteit van die Vrystaat tot ʼn enkele departement saamgesmelt het. Daaruit het meer as een interdissiplinêre projek voortgespruit, waaronder die Brel-vertalings waartoe Naòmi my uitgenooi het.

Sy, as kenner van die Franse taal en letterkunde, het die liedtekste in letterlike Afrikaans omgesit, maar vergesel van allerlei verklarende notas rondom persoons- en plekname, kulturele verwysings, intertekstoespelings, ensovoorts. Ek moes dit dan “omdig” tot Afrikaanse liedtekste wat die betekenisstrekking en vorm van die oorspronklike, sover moontlik, gestand doen – in ʼn verfyningsproses waartydens telkense kritiese reaksie deur Naòmi dankbaar deur my ontvang is. Vroeg-vroeg in die projek het ons Herman van den Berg, wie se vroeë CD’s met eie liedskeppings van hom deur beide my en Naòmi bewonder is, genader oor sy moontlike latere vertolking van die omsettings. Hy het ingestem en, gereeld tydens die vertaalprojek se verloop, ook terugvoering verskaf, in die besonder oor die “singbaarheid”, al dan nie, van die omsettings of onderdele daarvan.

Op hierdie wyse is veertig van Brel se bekendste chansons deur ons vertaal, en waaruit twee kabaretvertonings ontstaan het wat by meer as veertig geleenthede in Suid-Afrika en België opgevoer is. Inligting oor die twee laserskywe met opnames van net meer as die helfte van die vertaalde chansons wat Herman van den Berg vervaardig het, verskyn in die ARGIEF-afdeling van Nootvat. Kwashaal. Stapel.

In opvolging van die Brel-projek het ek en Naòmi ook vyftien van Èdith Piaf se bekendste chansons in Afrikaans omgesit. ʼn Derde kabaretstuk, “Brel & Piaf: Paryse tweesang”, het hieruit voortgevloei, met Herman van den Berg en Jolette Odendaal in die onderskeie sangerrolle. Ek en Naòmi oorweeg tans ʼn bundelsamestelling van al ons chansonvertalings vir moontlike publikasie.

 

MT

Bernard, jy is bekend as vertaler – onder andere van die Jacques Brel-liedtekste. Daar is egter in die betrokke bundel ook ʼn pragtige reeks gedigte, “Langsaam, geliefdes. ʼn Suite”, met die onderskrif “Vertaalwerkwinkel Literaire Salon in ’t Wevershuisje, Tilburg, 2015”. Wat was die doel van dié werkswinkel? Mens sien deesdae orals op die Internet mense wat hulleself as vertalers uitgee en wat links en regs gedigte vertaal. Wie mag vertaal? Aan watter kriteria meet ʼn mens ʼn goeie vertaling van ʼn poësieteks?

BO

Die Afrikaanse digter Carina van der Walt, woonagtig in Tilburg, Nederland, het ʼn paar jaar lank vertaalwerkwinkels, met Afrikaans en Nederlands as wederkerige bron- en doeltale, by haar “Literaire Salon in ’t Wevershuisje” aldaar gereël.  Sy het my genooi om in 2015 so ʼn geleentheid by te woon, saam met nog ʼn Afrikaanse digter en vier Nederlandse digters. Die opdrag was dat ons minstens een elk van mekaar se gedigte moes omsit in ons onderskeie digtale.

Vandaar die omsettings van een gedig elk van Bert Bevers, Annelie Davids en Martin Beversluis in die genoemde reeks. Ek wou die familiale bande tussen Afrikaans en Nederlands uitlig deur die twee gesprekvoerende karakters in Martin Beversluis se “Wat onwerkbaar in die kleine is”, naamlik ʼn sterwende moeder en haar seun, in onderskeidelik Nederlands en Afrikaans te laat “praat”.

Naas die gedigvertalings, is ons aangemoedig tot die skep van ’n eie nuwe gedig, met dans as tema. ’n Voorval tydens ’n kongresbesoek aan Oostenryk die jaar daarna het, uiteindelik, die gebeurestof vir die slotgedig in die reeks, naamlik “Danspaar, Wene”, geword.

Jy vra wie gedigvertalings mag doen? Enigeen, meen ek, wat sin daarin het. Maar dan liefs iemand met digvaardigheid, deeglike kennis van, of kundigheidshulp omtrent, die brontaal en bronkultuur (dit waaruit vertaal word), asook diepgaande kennis van die doeltaal en doelkultuur (dit waarin vertaal word).

Ek vind aanklank by die uitgangspunt dat ʼn goeie vertaling moet slaag in die doel waarvoor dit aangepak word. Wil jy ʼn teks sy uitwerking in die doeltaallesers se leefwêreld laat hê – sê nou maar iets soos ʼn godsdiensteks, of dit wat al as “ontspanningslektuur” getipeer is  – dan vertaal jy na die doelkultuur toe. Daardie lesers moet hulle sonder hindernisse kan inleef in wat uitgebeeld of oorvertel word. Vandaar, seker, dat ook byvoorbeeld bekende Engelse/Amerikaanse vertalings van sekere van Jacques Brel se chansons nogal sterk verskil van die oorspronklike wat betekenisstrekking en toon betref.

Indien jy in die oog het om getrou te bly aan die aard, betekenis en toon van die bronteks, “domestikeer” jy dit nie vir die doellesers nie. Vandaar dat sulke vertalings dikwels van talle verklarende aantekeninge voorsien moet word, soos die 2020- Afrikaanse Bybelvertaling duidelik getuig.

Met die Brel- (en Piaf-) vertalings het ek en Naòmi iets tussen hierdie uiterste benaderings in die oog gehad. ʼn Liedteks moet onbemiddeld, en liefs onmiddellik, begryplik wees, meen ons. Dit word beluister, nie gestiplees soos ʼn gedrukte gedig nie. En tog wou ons getrou aan die betekenisstrekking, toon en sfeer, asook die opvallende digterlike kenmerke van die oorspronklike bly. Brel moes in Afrikaans sing, ja, maar steeds op sy eiesoortig digterlike wyse en sonder om Suid-Afrikaans hoef te word. In hoe ʼn mate ons hierin geslaag het, sal lesers van die beoogde chansonvertalingsbundel maar moet oordeel

In elk geval is veel van wat ek hier sê oor die oogmerke met my en Naòmi se projek, waarskynlik van toepassing op wat as geslaagde of selfs goeie poësievertaalpogings beskryf kan word. Die Afrikaanse omsetting van Carl Sandburg se bekende stadsvers “Chicago” wat na die slotkant toe van Nootvat. Kwashaal. Stapel. ingesluit is, en wat ek aangepak het saam met Nandi Venter, ʼn voormalige student van my wat tans as uitgewer by Penguin Randam House en Lapa werksaam is, verteenwoordig so ʼn strewe.

 

MT

Daar is enkele gedigte in die bundel wat my bly fassineer. Sommige mense sou beweer dit is gedigte wat op die kantlyn van die poësie lê, of wat in die liminale sone tussen poësie en ander vorme van kuns lê – dus gedigte wat (eenvoudig gestel) nie soos gedigte lyk of klink nie. Ek praat veral van dié gedigte wat volgens die “Erkennings” agter in die bundel al deel was van kunsinstallasies of ander uitstallings. Gedigte soos die “SMS-haikoes”, “besweringswerm”, “Rondeau vir die Botaniese tuin”, “Vere bly van voëls” en “Onse in my pond”. Hierdie gedigte het almal interessante ontstaansgeskiedenisse. Vertel asseblief meer daaroor.

BO

Ek het al die een en ander gesê oor “Vere bly van voëls” as collage- of stapelgedig. Ook “SMS-haikoes”, “Onse in my pond” en “besweringswerm” is meerdelige of collagewerke wat ek geskep het vir die doeleindes van kunstefeesuitstallings. Dit was uitstallings waartoe visuele en woordkunstenaars paarsgewys uitgenooi is om by te dra. In die aantekeninge oor hierdie werke in die “ARGIEF”-afdeling van my bundel, waarby in sommige gevalle ook fotomateriaal verskaf word, word meer hieroor vertel, asook oor die herkoms en aard van die tekste wat ek benut het.

“[B]esweringswerm” is byvoorbeeld gebaseer op sommige van die drie-en-dertig kort tekste of teksdele wat benut is vir ’n origami-installasie as onderdeel van die uitstalling “ALLOOI 2011: Klippe in die bangbos” (Vryfees 2011, Bloemfontein).  Visuele kunstenaar Ben Botma was my medewerker in die skep van die installasie.

 

 

Die tekste wat vir daardie installasie benut is, op enkeles na almal voorheen gepubliseer, kom uit die penne van ’n verskeidenheid Suid-Afrikaanse skrywers, waaronder my eie. In die gekose tekste staan ontsetting oor die verskeidenheid misdaadgruwele wat ons samelewing teister, uitgedruk.

Daardie teksdele van die origami-installasie het as inspirasie gedien vir die sinkwyns wat ek geskep het vir die “besweringswerm”-gedig wat in die bundel opgeneem is. Die sinkwyns moet telkens, soos ook die oor twee bladsye heen op- en uitswermende gediggeheel, van onder na bo gelees word om begryplik te wees.

“Rondeau vir die Botaniese tuin”, soos ook “Digles in ʼn Karootuin”, is geskryf vir ʼn digitale tuininstallasie, en waarby van ʼn kunsmediumverskeidenheid gebruik gemaak word om ʼn kunservaring bý die onderwerp van die gedig te bewerkstellig – ʼn sogenaamde plekspesifiekeliteratuur-belewenis.  Die rondeaugedig (ʼn ouer weergawe daarvan) is te lees, maar ook via ʼn toonsetting en ʼn digitale animasie andersins te beleef, in die Botaniese Tuin van die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom.

“Digles in ʼn Karootuin” is geskep vir ʼn soortgelyke multimediale, plekspesifieke woordkunsuitstalling wat in 2018 in die multisensoriese tuin van die Pionierskool op Worcester aangebring is. ʼn Gedigskryfwerkwinkel wat ek die jaar daarvóór by dié skool vir gesiggestremdes moes aanbied, het my intens bewus gemaak van die sintuiglike rykdom waaruit digters (kan) put in hulle natuurbelewing.

 

 Digles in ’n Karootuin

            Ficus natalensis; Pionierskool, Worcester, 2018

 

Dis soos hierdie boom. Per oogopslag is min te peil aan hom.

Sê hom sommerso en hy’s verspreek:

natalvy, kuswurgvy, kastige gewone wildevy.

 

Hom betrag, is goed: die blinkblaarsambreel

waaruit ’n donker laafnis giet – skaduwyn.

Maar rúík ook die somerbeskonkenheid;

staan nader. Laat jou voete

die aarde aan ’t hobbel oor die forse metrum van ’n klipbreekwortelstelsel

voel.

 

Ja, jou vóél moet jy ken,

hand en hart vertrou;

jou lukraak ráákvat laat word

aan die bonkige, grof-gladde warsamestelling van ʼn stutwortelstam

wat kort voor lank tot stompverbelentheid vertak.

Soos dié ineengevoude meervoudboom

(natalvy) (kuswurgvy) (gewone wildevy)

is die gedig.

 

En spits die ore vir die lied van wind en stilte

oor die groenleertonge van sy blare,

sy trossies soetvyklank in die kele van muisvoëls,

bonthoutkappers, vlermuise snags.

 

Vanself

is hy nie hier nie. Sy ruie

subtrope-hunkeringe bly. ’n Mens

moet hom bring om hiertoe te gebeur, hom

nat- en oplei, uitdun, terugsnoei – hom vlym

tot onverhoedse rym met groei. Dan, altemit, kom

natalvy/kuswurgvy/gewone wildevy hy hier. Monumentaal.

 

Die

bonsai

in jou boek.

 

MT

Die gedig “Valsbaai” (p. 104) is vir my een van die mooiste gedigte in die bundel – ʼn gedig wat aan NP van Wyk Louw opgedra is, maar wat ook handel oor die voortbestaan van Afrikaans en die hartseer oor ʼn tydvak wat verby is, oor kinders wat anderland toe uitwyk. Daar is ook verskeie ander gedigte waarin Afrikaans die tema is, soos “kleitrap met die verlede tyd”, “Die neukery met nie” en die pragtige elegiese gedig vir Christo van Rensburg, “By die dood van ʼn reisgenoot”. Die debat oor Afrikaans en Afrikanerskap het die afgelope dekades by herhaling opgevlam en eintlik nooit gaan lê nie. Hoe voel jy oor die taal, en spesifiek Afrikaans? Dink jy die taal sal ten gronde gaan, en indien wel, wat kan daartoe lei?

BO

Afrikaans is ʼn kerndeel van my identiteit – des te meer aangesien ek as onderwyser, literator en skrywer my leeftog daardeur verdien het. Die toenemende statusverlies wat Afrikaans se lot geword het in die huidige sosiopolitieke bedeling, is niks minder as pynlik en ontgogelend vir my en my allernaastes nie. Die kreatiewe ywer wat te bemerk is betreffende kultuuruitlewing daarin – by kunstefeeste, deur boekpublikasies, via handhawing (waar dit kan) en pogings tot uitbouing van onderwys- en opleidingsinstellings wat dit gebruik, ensovoorts – hou egter die kerse van hoop aan die brand. Tog, die bekommernis dat die taal eendag (weer) beperk sal wees tot gebruik in huislike en ander kleiner vergaderverbande, wil nie wyk nie.

 

MT

Deel asseblief met ons een van jou gunstelinggedigte in die bundel.

BO

 

respiratoriek

uit die lug gesnak, uit niks te sien of hoor:

asem: gees in vlees geword, deur fluite uitgevlegsel

en tot blydskap of verlange ontknoop – vlae, haarlokke –

of wat uitvaar, kordaat of klagend, bekkige kopergeskal die al in

en tot niet

 

uit die niet geslaak: die lied:

lýf gegee, longblasiediep

verinnig – wat, langs brongieë vereen

en strotwaarts opgewel, tril oor stembande,

plooi langs wange, tong en lippe, ’n verleigedaante

in versgewaad, in die arms van die melodie op die kadans

aan ’t asemuitblaas

 

MT

Bernard, baie dankie vir ʼn fassinerende inkyk in jou bundel “Nootvat. Kwashaal. Stapel.” en in die wyse waarop gedigte (by jou) ontstaan!

 

Marlies Taljard en Bernard Odendaal, Potchesftroom, 6/6/2022