Posts Tagged ‘Norton-disseksie Joan Hambidge’

Joan Hambidge. Norton-disseksie

Thursday, March 11th, 2021

 

Norton-disseksie 

 

My Norton-anti-virus,

gedugte weerligafleier

van virusse en insypelaars,

verdwyn nes newels oor die berge

met nog ‘n genadelose dag

van bedelaars en boewe en bedrieërs.

 

In die kletskamer van die internet

betree ‘n Indiese persoon, ene Sakshi

my rekenaar en klim in my programmatuur in

 

asof dit ‘n opehart-operasie is

en besoek al die heilige kamers

van dokumente en bergings en foto’s,

 

terwyl ek sit en toekyk hoe

hierdie Onsigbare Ħ

my rekenaar herstel

die anti-virus terugsit

 

met virale naaldwerk

soos hy wat die blindes kon laat sien

die verlamdes laat loop

en ek ‘n twyfelende Thomas

 

beskamend oor ek durf weifel

oor genade en uitsig en hoop in hierdie dae.

 

Sakshi, die toeskouer, soos die naam

in Sanskrit bedui,

‘n onbekende mannin uit Indië,

 

breek op in die kuberruim

met my hart vol botsende beelde.

 

© Joan Hambidge, 2021