Posts Tagged ‘ouroboros’

Poëtiese Beseringskunde 101

Tuesday, March 16th, 2010

Na die naweek kom ek met ’n gekrokte rug terug. Omdat ek vir die eerste maal in twee, drie jaar weer agter ’n tennisbal aangehardloop het en my mishandelde liggaam (kruiwastoot, huisbou, kalwers uittrek) net besluit het dis tyd om halt te roep. Elke sport het sy beserings.

   In die fisiese sfeer is dit voorspelbaar maar tog ironies dat juis daardie “onderdeel” wat jy die nodigste het om te slaag, dié deel is wat eerste beseer word. Is jy ’n sokkerspeler, dan gee jou knieë in. Is jy ’n spiesgooier, dan kry jou skouer ’n knak. Is jy ’n perderuiter, dan skud jy ’n werwel skeef. Ook musici gaan blykbaar gebuk onder beserings – artritis, tendonitis, laringitis en wat ook al hul musikale virtuositeit kan dwarsboom. Doofheid. Stok in die wiel, waar dit die seerste maak.

   Nou sit ek en wonder of dieselfde geld op geestelike terrein, daar waar digters dwaal. Watter geestelike ledemate span kunstenaars in om hul kuns te pleeg en wat is die beroepsverwante beserings?

   ’n Digter het verskeie skuiwe en passies tot sy of haar beskikking en dienooreenkomstige “spiere” wat dit stuur – intellek, talent, emosie, intuïsie, mistiek, taalvaardigheid en wat nog. Nie almal verg ewe veel inspanning nie en nie alle kunsplegers is ewe geneig tot knakke nie.

   Ek is geen sielkundige nie, maar ek vermoed die grootste risiko vir psigiese beserings bestaan daar waar mens in grotte kruip en op rotslyste loop agter idees aan. Daar waar lawa prut en tektoniese plate onder mekaar inwig, daar wag waansin. Wanneer jy ’n gedagte soos ’n ouroboros aan die stert beet het, moet jy weet wanneer om te los. Jy sleep dit dalk uit, vermorsel die ding se kop en sit met ’n onskatbare vonds. Of dit sleep jou in na oerwoude waar jy nie wil wees nie.

   Of ’n verrekte “breinspier” (klink nogal soos die Duitse verrückt) jou kuns gaan knel, is ’n ander vraag. Dit lê dalk juis nuwe moontlikhede bloot.

   Lei waansin tot kreatiwiteit en kreatiwiteit tot waansin? Nee. Jy hoef nie ’n Van Gogh te wees om kunstenaar te wees nie en jy sal nie noodwendig jou sinne verloor as jy die muse begin hoor nie. Tog is daar iets in die op-die-randjie-loop van sekere kunswerke wat my omdop. Ek hóú van beheerde malligheid. Einstein wat sy tong uitsteek vir die wêreld – Imagination is more important than knowledge.

   Dis asof die danser met die skewe rug, die dowe musikant, die horrelpoot atleet iets het wat die volmaaktes kortkom. Asof hulle kontak gemaak het met ’n wyer wêreld waarvan ander nie bewus is nie, avonturiers terug uit die vreemde, hul gesigte blink met aanskoue van die numineuse.

  Moet die beseerde nie beny nie, maar misgun hom ook nie sy geskondenheid nie. Die Jakob met die skewe heup is die geseënde een.

  •