Posts Tagged ‘Parlement van uile’

Resensie: Parlement van uile (Johann van der Walt)

Wednesday, April 22nd, 2020

 

 

 

Parlement van uile deur Johann van der Walt. Naledi, 2020.

Resensie: Ihette Senekal

 

Die flapteks vertel dat Parlement van uile die 2020-debuutbundel is van die wenner van verlede jaar se Ingrid Jonker L’Art Poétique-kompetisie. Verder sien die leser dat dié wenner, oftewel Johann van der Walt, nie juis ʼn groentjie in die publikasiewêreld is nie. Sy skryfwerk sluit in twee internasionale kinderboeke, Bhubesi en Frankie learns to Fly, asook gepubliseerde gedigte in die plaaslike New Coin en New Contrast en internasionale tydskrifte soos Down in the Dirt, Pondersavant, The Rye Whiskey Review en Red River Review. Daar verskyn selfs in 2020 ʼn Engelse bundel uit sy pen, This road doesn’t lead home, by die Noord-Amerikaanse Red Mare Press. As Johannesburgse vryskutskrywer en video-redigeerder is dit duidelik dat Van der Walt hom besig hou met kreatiewe skepping. Nie elke debuutskrywer kan reeds só ʼn resumé agter sy naam skryf nie, en die ingeligte leser van Parlement van uile tel dié bundel met hoë verwagtinge op. Verwagtinge wat met die ontdekking van hierdie woordskepping beantwoord word.

Op Naledi (Parlement van uile se uitgewer) se tuisblad word die bundel knap opgesom: “Dié bundel delf diep in rou emosies, menswees en skyn ’n lig op eksistensiële vrae oor ons verhouding tot mekaar en teenoor die liefde. Met ’n uiters moderne benadering tot poësie in sy geheel, word gedigte in die bundel in ’n oorspronklike en teatrale wyse deurgegee en daag lesers uit om sélf die betrokke emosies in die verse tot persoonlike ervarings te verbind. Die digter daag die grense van Afrikaanse poësie uit met die bundel, ignoreer reëls en kloof sy eie unieke plek in die spektrum oop.”

Die tematiek, wat merendeels rondom relasionaliteit sentreer, word inderdaad in hierdie bundel op interessante wyse oopgeskryf. Drie van die elemente wat die digter implementeer om so bedrewe hierin te slaag is die motto’s, die openingsgedig en die bundelstruktuur. Verder is die manier waarop relasionaliteit in Parlement van uile dieper ontgin word as die verkenning van slegs die verhouding tot mekaar en teenoor die liefde van belang. Alhoewel hierdie aspekte wél belangrike onderdele van die bundel vorm, is dit ook die verhouding tussen digter, leser en gedig; tussen mens en natuur; tussen die mens se hede en verlede; en tussen die mens en die dood wat in hierdie bundel opval.

Heelwat van die gedigte kán buite die bundelkonteks sterk op eie bene staan, maar dit is die bundel as eenheidsbundel wat veral die aandag trek. Die motto’s, openingsgedig en bundelstruktuur verbind telkens die leser se gedagtes aan die titel en sorg vir progressie in die leeservaring. Uit die motto’s kan onder meer afgelei word dat selfliefde en selfontdekking in eensaamheid, afsondering en/of gevangenisskap (hetsy fisies of metafories) skuil indien jy bereid is om te peins en te delf, en soos in die geval van hierdie bundel, te omskep in woorde. Die uil as voorbode van die dood kom ook in die motto’s ter sprake en gee ʼn verdere aanduiding dat die bundel nie skroom om ook met donkerder temas om te gaan nie.

Die openingsgedig, “die versoek is gerig” (3), gaan die vier afdelings van die bundel vooraf en bied ʼn aantal sleutels tot die lees van Parlement van uile. Van der Walt se aanwending van ʼn programmatiese openingsgedig herinner aan die struktuur van twee bundels wat al die Hertzogprys gewen het, onderskeidelik Breyten Breytenbach se Die windvanger (2007) en H.J. Pieterse se Die burg van hertog Bloubaard (2000). ʼn Versoek word aan die spreker gerig – ʼn spreker wat homself gou as digterspreker in hierdie gedig openbaar wanneer hy byvoorbeeld verwys na die drang om te skryf as ʼn poging om te probeer ontlaai: “in my agterkop / lui ʼn pynlike wekker wat my uit die slaap gejaag het / myprodols help nie vir hierdie geraas nie”. Hierdie versoek is inderwaarheid ʼn uitdaging wat die digterspreker “verplig om voor die parlement van uile te verskyn”. Behalwe as versamelnaam vir uile dra “parlement” ook bykomende betekenisimplikasies. Dit is daardie groep mense wat die reëls maak, wat besluite magtig en wat regeer en beheer. Die uile se uitdaging word verder in die laaste reëls van die gedig uiteengesit en trek die leser tot binne in die bundel:

ek weet wat dit beteken – ek is uitgedaag

verplig om voor die parlement van uile te verskyn

my binneste moet ek oopkerf en geheime uitgrawe

goed of kwaad – hulle sal onderskei tussen leuens en waarheid

hulle sal my pleidooi opweeg

en besluit of die geraas binne my

neergelê mag word in stilte

 

Vir diegene wat die outobiografiese in Parlement van uile gaan soek, sal sekerlik in heelwat gedigte voel asof die digterspreker na vore tree. Die spreker in “ʼn digter se ware kind” (38) sê immers die gedig “[…] dra altyd ʼn brokkie van sy skrywer”. In bogenoemde bespreking word geïllustreer hoe die digterspreker in die openingsgedig na vore tree, maar dit is egter nie ʼn gegewe dat elke gedig ʼn digterspreker het of outobiografies gelees kan word nie.

Die vermoede wat reeds in “die versoek is gerig” (3) in die leser se agterkop kom nesskop het, word bevestig in die volgende gedig “ek bevind myself in die woud” (5). Laasgenoemde dien as programgedig vir die eerste afdeling en is die eerste gedig wat die magiese, misterieuse ruimte van die woud ontgin as plek van ontmoeting tussen die digterspreker en die uile. Die vermoede dat daar ʼn noue verband bestaan tussen die parlement van uile en die lesers kom hier tot eksplisiete uiting, wanneer die uile die digter direk in die volgende versreëls aanspreek:

ons sitting het amptelik begin

kondig een uil oordonderend aan

die uile gluur verbete na my –

laat ons hoor, digter, skree een van regs

vertel ons meer

help ons om te verstaan, hap nog ʼn uil

hoekom jy waardig is bo tallose ander

waarom moet ons die geraas uithaal

en jou verlos van die dinge

wat in jou binneste broei?

 

Elkeen van die vier afdelings word voorafgegaan deur so ʼn programgedig. ʼn Gedig waarin die digterspreker voor die uile verskyn om telkens uitgedaag en aangepor te word, soos byvoorbeeld in die geval van die programgedig “Ek skep asem en tel my woorde fyn” (31) van die tweede afdeling. Dié gedigtitel is op sigself ʼn poëtikale suggestie en die versreëls “die uile is nie tevrede nie – / probeer harder, skree een / krap oop krap oop, sê hulle saam” en “vertel meer van wat / agter jou oë wegkruip” illustreer hoe die uile die digterspreker aanhou uitdaag. Dit word duidelik dat hulle die hef in die hand het om die digterspreker te kan verlos van “die geraas” – inderwaarheid gaan dit hier oor die helende potensiaal van die skryfproses.

Die een wat egter verlos wil word “van die dinge wat in jou binneste broei”, moet eers bereid wees om oop te krap en oop te maak, te delf tot selfs in sy onderbewuste, totdat hy sonder enige weerstand voor die uile/lesers kan staan. Dít is nie ʼn maklike proses nie, en in die programgedig “my gedagtes rammel” (59) van die derde afdeling word die digterspreker se wroeging en uitputting duidelik. Die uile hou egter vol dat hy nóg verder moet oopmaak, want dáárin lê die moontlike verlossing waarop daar in die programgedig “ek buig my hoof” (99) van die laaste afdeling gesinspeel word. Hier sê die uile uiteindelik “jy het genoeg gegee” en “ons het besluit terwyl jy alles vertel / wees gerus van die geraas word jy genees”. Dié gedig sluit treffend af waar die digterspreker verklaar “ek staan op en volg die sonlig / die geraas bly agter / toegesluit êrens diep / in ʼn onbekende woud” en word gevolg deur ʼn slotafdeling van slegs vier gedigte wat so byna raak aan ʼn ligte toonaard.

Nie dat die voorafgaande afdelings slegs ʼn donker toonaard het nie. Daar word gewissel tussen swaarder en ligter temas, tussen humor en hartseer, tussen herinnering en bepeinsing oor die hede en die toekoms. Soos genoem is relasionaliteit die stramien wat deur Parlement van uile loop en in die uitpak van hierdie tema staan menseverhoudinge voorop. Dit sluit verhoudings binne die gesin en wyer familie (veral die ouma speel ʼn belangrike rol), asook vriendskaps- en liefdesverhoudings, in. Wanneer daar geskryf word oor die liefde, is dit altyd liefde toegewikkel in onbereikbaarheid. Alhoewel daar enkele oomblikke van erotiese vervulling geskets word, bly die liefde self ontwykend. Goeie voorbeelde hiervan sluit in “laventel” (88), asook die reeks “sy dra die somer waar sy ook al gaan” (14), “die lente volg haar waar sy ook al gaan” (33), “sy luister na die herfs” (71), “haar naam was winter” (82). Dié reeks is versprei oor die afdelings, maar vanweë die tematiese inhoud daarvan en die verwysing na die vier seisoene dra dit by tot bundelsamehang.

Struwelinge en armoede word gesuggereer in gesinsgedigte soos “sneeu” (45), en daar word sinies verwys na die idee van “white priviledge” in die wit gesin (“cheese puff buffet”, 81). Meer as een gedig is sprekend van die besondere verhouding tussen die digterspreker en ʼn ouma. Nog ʼn voorbeeld van hierdie noue band, waaruit die digterspreker menige lesse geleer het, is “om anders na dinge te kyk” (23), waar die spreker stel “as kind het ek geleer om soos my ouma te kyk / die wêreld met nuuskierige oë te fynkam” en “as kind het my ouma my geleer hoe om te kyk / om wat ek sien te neurie sodat ek die oomblik waarlik kan voel”.

Die relasionaliteitstema word soos genoem ook verder uitgebrei as slegs die fokus op menseverhoudinge. Die verhouding tussen mens en natuur kom aan bod in enkele gedigte wat die ekokritiek aanraak, onder andere “sy ken ons goed” (7) en “ek sal (probeer) onthou” (12). Die mens se verbintenis tot die verlede manifesteer weer grotendeels as die refleksie op kinderherinneringe, soos in “ficksburg” (11), “geen blaf net byt” (24), “die wêreld is klein net totdat hy nie meer is nie” (37) en “kindwees” (40). In hierdie (en ander) gedigte word die blik op die verlede vermeng met verskillende skakerings van nostalgie. Nostalgie word verken vanaf die bittere (“vergeet my nie”, 74) tot die soete (“die onsterflikes”, 76), altyd met ʼn klankie verlies en ʼn goeie skoot melancholie. Die gedigte “die onsterflikes” (76) en “as jy ʼn spook word” (77), wat naasmekaar in die bundel verskyn, illustreer hierdie skakerings wanneer die spreker in eersgenoemde die gedig open met “ek wil tyd terugwen soos ʼn speelding” en afsluit met “ons het gedink die somer sal vir ewig duur”. In “as jy ʼn spook word” (77) word die mens se verhouding met tyd en nostalgie geproblematiseer:

as ʼn mens in meer as een tyd leef

word jy opgedeel soos ʼn stuk koek

en tyd vreet jou gulsig op

[…]

mense sal naderhand sien dat jy net halfpad lewe

[…]

slegs dun vlees wat sukkel om die hede

met al sy vreugde deeglik op te suip

en stadig verander jy in ʼn spook

 

Tyd word verder geproblematiseer wanneer menige gedigte die verloop daarvan as ʼn bewuswording van die dood en gepaardgaande verlies van onskuld aanraak. Hier kan “om te staar na die son” (8), “geen blaf net byt” (24), “by dromedaris roer iets gevaarliks” (55), “agterplaasbelasting” (85) en die merkwaardige “die toeval van menswees” (86) as voorbeelde genoem word.

Die verhouding tussen digter, leser en gedig is reeds onder die loep geneem, omdat daar juis so ʼn sterk poëtikale ondertoon aan die bundel is. Nog voorbeelde van gedigte wat met poëtika te werk gaan, is “ʼn digter se ware kind” (38), “Wat ʼn gedig nie hardop sê nie (84), die eksperimentele “hoe om ʼn digter te vermoor” (96–7) en “vandag” (104). Laasgenoemde is die gedig waarmee die bundel afsluit en in die laaste versreëls word die spreker self tot die gedig omvorm. Die poëtikale besinning in “wat ʼn gedig nie hardop sê nie” (84) skop af met die openingsreël “ʼn gedig is amper mens”, wat die digter–leser–gedig-verhouding verder bevestig.

Alhoewel enkele punte van kritiek teen Parlement van uile uitgespreek kan word, weeg die hoogtepunte veel swaarder as die negatiewe. Hoogtepunte sluit in die vier programgedigte, “ficksburg” (11), “om anders na dinge te kyk” (23), “sweef” (43), “nagedagte” (58), “gedrog” (66), “ʼn koggelmander in trapsuutjieslaai” (80) en “die toeval van menswees” (86). Vanuit ʼn kritiese oogpunt is die gedigte egter soms van wisselende gehalte en ten spyte van die vele goeie gedigte is daar wel ʼn paar wat eerder uitgelaat kon word. Soms word daar te veel gesê, of te melodramaties gegrens aan woordoordaad (vergelyk “vergeet my nie”, 74; “dobberdryfgedagtes”, 25). Dit gebeur ook dat die stereotipiese en cliché deurskemer (vergelyk “indië in my bed”, 61; “laventel”, 88–9). Terloopse byvoeging van temas sonder diepgaande effek is in enkele gevalle steurend, soos die hantering van rassekwessies in “só stap hulle” (16) en emigrasie in “waar ek ook al gaan” (19), “voorland” (51) en “nog steeds gewond” (91). Oor die algemeen is Parlement van uile egter ʼn besonder omvangryke bundel en ʼn noemenswaardige debuut wat beslis die lees werd is.

 

  •