Posts Tagged ‘Pieter Uys’

Johann Lodewyk Marais. Pieter Uys (1956–2022)

Tuesday, January 25th, 2022

 

Pieter Uys in die vroeë 1980’s

 

Die digter, taalkenner, taalpraktisyn en konseptualiseerder in die reklamebedryf Pieter Uys is op 16 Januarie 2022 in Johannesburg oorlede. Johann Lodewyk Marais bring hulde aan hom.

 

Frederik Petrus (Pieter) Uys is op 17 April 1956 in Empangeni in KwaZulu-Natal gebore en het in 1974 aan die Hoërskool Piet Retief gematrikuleer. Sy vader was verbonde aan die Departement van Bosbou as ’n inspekteur vir wattelbas vir uitvoer na Japan en sy moeder ’n verpleegsuster. Ná skool gaan hy na die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg), waar hy onder meer Italiaans studeer en ’n honneursgraad in Arabies by die Sentrum vir Arabiese Studies verwerf.

Ek het Pieter aan die begin van die 1980’s leer ken toe hy as dienspligtige by Militêre Inligting in die Poynton-gebou in Pretoria gewerk en in Tuine gebly het. In dié tyd was hy ’n lang, lenige offisier in die lugmag en sy kennis van tale soos Arabies, Duits, Frans en Italiaans is goed benut. (Soms was Ailsa Stuart saam met hom of het hy foto’s van hulle gewys. Sy is later in ’n motorongeluk oorlede, wat een van die groot verliese in sy lewe was.)

Die tydskrif Ensovoort het in Junie 1981 die eerste keer verskyn. Pieter was ’n getroue medewerker en ’n aantal van sy gedigte is daarin gepubliseer. Gereeld was daar ’n koevert met gedigte en vertalings van gedigte (uit onder meer Arabies en Hebreeus) in die pos. Hierdie dokumente – veel meer as wat vir publikasie aanvaar kon word – maak deel uit van my Argief by Unisa en verdien ’n herbesoek. Daarin en in ander “little magazines” is die stem duidelik van nog ’n Tagtiger wat ingespeel het op populêre kultuur en vol ironie en patos was.

In die versameling by Unisa is voorts kassette en CD’s waarop Pieter van sy gedigte en vertalings voorlees. Hy het ook opnames van ander se gedigte en musiek deur onder andere Marianne Faithfull en Nina Hagen aangestuur. Nuut vir my was die Arabiese musiek waaraan hy my bekendgestel het.

Pieter het ná sy diensplig onder meer as bibliotekaris by Unisa gewerk en daarna sy brood as konseptualiseerder in die reklamebedryf en taalpraktisyn verdien (ook vir kliënte in die buiteland). By Unisa het hy gesorg dat kopieë van sy selfgepubliseerde bundels in die biblioteek kom. Dit was ’n geluk, want sodoende kon die Nederlandse digter Gerrit Komrij sy gedigte te lese kry toe hy aan sy omvangryke bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte (Amsterdam, 1999) gewerk het.

 

Saam met sy vriendin oorlede Ailsa Stuart

 

Een van die verrassings van Komrij se bloemlesing was die ses gedigte wat Komrij van Pieter Uys gekies het. Komrij het hoogstens tien gedigte van ’n digter opgeneem en ses gedigte was ongetwyfeld ’n pluimpie. Een van Pieter se gedigte in die bundel lui soos volg:

 

Woorde       

 

ek dryf handel met woorde

soos ander met muntstukke

tjeks of byekorwe, woorde dreun

dreigend soos bye in korwe

pasop dat jou woorde

jou nie steek nie, benewens

die pyn is sommige giftig

woorde is uiters gevaarlik

soms soek hulle mekaar uit

gaan lê langs mekaar en paar

en dan het jy gesê

wat jy nie bedoel het nie

 

Van Pieter se gedigte is ook opgeneem in Fanie Olivier (samest.) se Goudaar: Gedigte oor Johannesburg (1986) en Johan van Wyk, Pieter Conradie en Nik Constandaras (samests.) se SA in poësie / SA in poetry (1988).

Pieter het oor die jare onder verskillende skuilname geskryf, waaronder Piet Pompies op LitNet se brieweblad SêNet. Sy skryfwerk het allerlei vorme aangeneem en beskoulike artikels, resensies (onder meer van New Age-publikasies en die mistiek), verhale en vertalings ingesluit. Hy het omvattende resensies geskryf vir die sanger en musikant Jarboe La Salle Devereaux (van die rockgroep Swans), wat gereeld met hom gekorrespondeer het. Op Facebook was hy tot twee weke voor sy dood nog baie aktief en het hy oor onder meer inenting teen COVID-19, die Amerikaanse presidentspolitiek en die klimaatsaktivis Greta Thunberg geskryf. ’n Indringende soektog in die media behoort ’n ryk skat van geskrifte op te lewer.

 

Die mees onlangse foto van Pieter Uys

 

Pieter Uys is op 16 Januarie 2022 in die Edenvale-streekshospitaal in Johannesburg oorlede. Volgens ’n plasing op sy Facebook is hy vir ’n aantal ligte beroertes behandel. Daar is ook genoem dat Pieter sedert Oktober 2021 ernstige gesondheidsprobleme gehad het, sy niere ingegee en hy uiteindelik longontsteking gekry het.

’n Verslaggewer wat oorweeg het om oor Pieter te skryf, het laat weet “dit blyk niemand weet van hom nie” en die artikel gelos. Pieter leef egter in sy gedigte en sowat twintig (self)publikasies van sy uitgewery Obscure Artifax voort, asook in die herinneringe van vriende en kennisse wat hom as hoogs intelligente, skerpsinnige en gevatte persoon onthou. ’n Vriend en kollega, Juan Janse van Vuuren, met wie Pieter ’n huis in Orchards gedeel het, som hom soos volg op: “Kluisenaar. Antinomies. Heterodoks. Outyds. Skugter. Hy’t homself as ’n Tagtiger beskou.” Pieter se broer, Kobus Uys, onthou Pieter se liefde vir spitshonde en geloof in selfmedikasie (veral groot hoeveelhede vitamiene C).

Die digter Annesu de Vos skryf by sy dood op Facebook: “My most talented of all #MyTalentedFriends in the literary world of the old country suddenly passed away. No one could compare to the scintillating wit and scimitar sharp mind of my beloved friend Pieter Uys and I made no secret of the utmost regard I had and will always have for his intellect, but also for his pure heart and soul.” Fanie de Villiers (Kleinboer) onthou Pieter het “belang gestel in die ontwikkeling van tale en die oorsprong van woorde, maar sy studie daarvan was veel dieper as myne”.*

Ek het sporadies Messenger-boodskappe van Pieter ontvang wat van sy passie vir die studie van die ontwikkeling en verwantskap van tale getuig. Daar was ook mededelings oor baie ander onderwerpe, wat sy wye belangstelling en belesenheid bevestig het. Ek is hom dankbaar dat hy my attent gemaak het op die eertydse Geel Nyl, wat die Ouaddaï-hooglande in Oos-Tsjaad met die Nylvallei verbind het. Ek het hom belowe om ’n gedig oor dié rivier te skryf.

Kobus Uys en Juan Janse van Vuuren het bio- en bibliografiese inligting oor Pieter Uys tot my beskikking gestel.

*Kyk byvoorbeeld:

https://www.slideshare.net/PieterUys7?utm_campaign=profiletracking&utm_medium=sssite&utm_source=ssslideview

 

Hierdie artikel het vantevore op LitNet verskyn en word hier gepubliseer met toestemming van die skrywer.

https://www.litnet.co.za/pieter-uys-1956-2022/