Posts Tagged ‘taalversorger’

Marlies Taljard. DIE SPOOKSKRYWER: “Getting the words right”?

Tuesday, August 25th, 2015

In 1998 verskyn Althéa Kotze se MA-verhandeling “Die teksversorger as spookskrywer”. Sy definieer die begrippe “teksversorging” en “teksversorger” soos volg:

In sy geheel gesien blyk dit dat teksversorging ‘n komplekse en uiteenlopende taak behels en dat die teksversorger nie net oor grondige teoretiese sowel as praktiese taal-en tipografiese kennis en kundigheid moet beskik nie, maar ook geslaagde menseverhoudinge moet kan inisieer en handhaaf. Die teksversorger is ‘n taalbeheerser van beroep, veelsydig en kreatief wat ook ‘n rol te speel het in die oorspronklike skryfproses van ‘n manuskrip.

Verder haal sy Cheney se beskrywing aan van die teksversorgingsproses:

… writing, rewriting, rereading, reviewing, rethinking, rearranging, repairing, restructuring, reevaluating, editing, tightening, sharpening, smoothing, pruning, polishing, punching up, amending, emending, altering, eliminating, transposing, expanding, condensing, connecting, cohering, unifying, perfecting …

(Cheney, T.A.R. 1983. Getting the words right, p.9)

Ten slotte kom Kotze tot die gevolgtrekking dat teksredakteurs (aldus Charles Fryer) “sorgsame skimme is wat op die agtergrond bly terwyl die skrywer vorentoe tree vir applous. Tog weet die skrywer, redakteur/teksversorger en uitgewer dat ‘n boek nie net met Iym gebind word nie, maar ook met die sout en sweet van die teksversorger/ redakteur.”

Ten spyte van die bostaande veronderstelling, moes ek die afgelope jare te dikwels in resensies, boekbesprekings en evalueringsverslae vir literêre pryse wys op tekortkominge in die redaksieproses – by sowel digbundels as ander literêre tekste. Ek vra myself die vraag af of uitgewers dan nie daarvan bewus is dat ʼn teks (die hele boek met alles wat deel daarvan uitmaak) staan of val by ʼn goeie teksversorger (teksredakteur) nie! Dit is tog onaanvaarbaar dat daar spelfoute, sinsboufoute, weglatings of growwe stylfoute in ʼn gepubliseerde teks voorkom. Dit is egter nie die ergste nie.

Wat my die meeste bekommer, is dat die professionele eienskappe wat Kotze aan teksversorgers toeskryf, blykbaar nie in alle gevalle die norm is nie. Te dikwels verskyn daar digbundels waarvan die helfte of meer van die gedigte nie behoorlik afgewerk is of glad nie gepubliseer behoort te word nie. Om ʼn digbundel te publiseer, is ʼn groot risiko vir sowel die digter as die uitgewer. Vir die uitgewer mag ʼn onsuksesvolle publikasie geldelike verliese inhou (hoewel baie digters ook self ʼn deel van die kostes dra), maar vir die digter kan dit ʼn verlies aan aansien beteken. Indien dit ʼn eerste bundel is, mag dit goed moontlik wees dat uitgewers nie weer ʼn manuskrip van die digter sal oorweeg nie en dat sy/haar digtersloopbaan dus ʼn vroeë dood sterf. Wat eenmaal gepubliseer is, word moeilik weer ongedaan gemaak. Daar verskyn resensies oor so ʼn werk, evaluasies verskyn in geskiedenisse van die letterkunde … Dit bly deel van ʼn digter (skrywer) se oeuvre!

Daarom kan ʼn teksredakteur nie ligtelik met enige manuskrip omgaan nie. Hy of sy moet beskik oor spesialiskennis op taalkundige en literêre gebied, maar moet eweneens wyd belese wees en “iets van alles” weet. Dit beteken byvoorbeeld dat feitefoute ondervang behoort te word. Navorsing is deel van die redaksieproses. Bel die kenners! Indien jy self nog nooit met ʼn valskerm uit ʼn vliegtuig gespring het nie, bel 6 mense wat dit gereeld doen! Indien jy self nie Duits kan lees en verstaan nie, vra 4 mense wat Duitssprekend is. Op hierdie stelling wil ek graag uitbrei. Duits (soos ook Latyn en baie ander tale) steun op verskillende naamvalle in die betekenisgewingsproses. In Duits is daar 4 naamvalle. ʼn Woord soos der Baum (boom) kan in ʼn sin, afhangend of dit die voorwerp, die indirekte voorwerp of die besitter is en na watter voorsetsel dit volg, ook die vorme des Baumes, dem Baum en den Baum aanneem. Wanneer ʼn Duitse frase binne ʼn Afrikaanse teks aangehaal word, moet dit in die grammatikale struktuur van die Afrikaanse sin inpas en sal die naamval van die Duitse woord dienooreenkomstig aangepas moet word. Wanneer ʼn Duitse frase onafhanklik (bv. as motto van ʼn gedig) gebruik word, word dit altyd in die Nominativ (eerste naamval, onderwerp) geskryf. Alle Duitse selfstandige naamwoorde word met hoofletters geskryf. Teksversorgers wat dergelike “tricks of the trade” nie ken nie, stel die skrywer in verleentheid en kan nie aanspraak maak op professionele status nie.

ʼn Teksversorger is nie net iemand wat kyk dat al die woorde reg gespel is en hier en daar ʼn sinskonstruksie verbeter nie. Hy of sy speel ʼn onontbeerlike rol in die totstandkoming van ʼn bemarkbare produk. Kotze merk met reg op dat dit die taak van ʼn professionele taalbeheerser is “om te verseker dat die teks voldoen aan die vereistes van tekstualiteit, en om ‘n lesersvriendelike, markgerigte teks op die rak te plaas.” Daarom wil ek aanbeveel dat teksversorgers/teksredakteurs/taalversorgers se name pertiment op die imprimatuurbladsy van die teks verskyn waaraan hy of sy gewerk het. In uitsonderlike gevalle gebeur dit wel reeds. Die versorger van die teks behoort, om verskeie redes, nie langer ʼn anonieme spookskrywer te wees nie. Uitgewers en skrywers behoort te weet wie by welke teks betrokke was sodat ingeligte besluite geneem kan word. En resensente behoort ook op die taak van die teksredakteur te fokus wanneer die kwaliteit van ʼn teks beoordeel word.

  •