Posts Tagged ‘Vertaling van Cantebury Tales in Afrikaans’

John Boje. : “Save oure tonges difference”: besinning oor die vertaling van Chaucer se Canterbury tales in Afrikaans

Sunday, November 22nd, 2020

 

Toe ek in 1953 in Matriek was, het ek op die eerste agtien reëls van Chaucer se Canterbury Tales in ’n bloemlesing afgekom. Vir iemand wat van kleins af sommer alles wou vertaal, het die vreemde taalvorm al klaar ’n onweerstaanbare uitdaging gebied. Toe ek dit aangepak het, het ek min kon droom dat dit die begin was van ’n taak wat my die volgende sestig jaar lank sou besig hou. My vertaling van dié reëls was onbeholpe, maar na baie geskaaf oor baie jare het dit soos volg daar uitgesien:

Wanneer Aprilmaand milde reënbuie bring

wat Maart se dorheid worteldiep deurdring

en sap laat opstoot in die plantegroei,

waardeur dit kragtig kom tot volle bloei;

wanneer Zephuros ook soet asemstote

laat walm oor die nuwe knoppe en lote

in bos en hei, en die fris jong son nou juis

die tweede helfte van die Ram deurkruis,

en voëltjies sing met opgewekte klank,

want hulle slaap oop-oë heelnag lank –

so prikkel die natuur hul handelswyse –

dan gaan mense graag op pelgrimsreise,

en swerwers hunker na die vreemde strande

van verre heiligdomme in vele lande.

Veral, uit elke graafskap, elke hoek

van Engeland, gaan hul Kantelberg besoek

en Thomas, die geseënde martelaar,

in siekte altyd aan hul sy geskaar.

*

Whan that Aprill with his shoures soote

The droghte of March hath perced to the roote,

And bathed every veyne in swich licour

Of which vertu engendred is the flour;

Whan Zephirus eek with his sweete breeth

Inspired hath in every holt and heeth

The tendre croppes, and he yonge sonne

Hath in the Ram his half cours yronne,

And smale foweles maken melodye

That slepen al the nyght with open ye

(So priketh hem nature in hir corages),

Than longen folk to goon on pilgrimages,

And palmeres for to seken straunge strondes

To ferne halwes, kowthe in sondre londes;

And specially from every shires ende

Of Engelond to Caunterbury they wende,

The hooly blisful marir for to seke,

That hem hath holpen, whan that they were seeke.

(I.1–18)

My vertaling van die Proloog was ’n sukkelgang, want ek het gedurig woordeboeke nageslaan op soek na Afrikaanse woorde vir die Middeleeuse begrippe wat daarin wemel. Toe ek eers by die pelgrims se vertellings kom, het dinge egter vlot verloop, want Chaucer is ’n storieverteller by uitnemendheid.

Groter vryheid het groter vreugde meegebring en ek meen dat vreugde ’n onontbeerlike deel van enige vertaler se toerusting is. Chaucer het dit vir my maklik gemaak, want die pelgrims se verhale is so uiteenlopend van aard en daar is ook ’n voortdurende wisseling van stemtoon en tempo. Vergelyk byvoorbeeld die toon van twee oumense wat oor hul ouderdom praat. Die Vrou van Bath jubel:

Ag, hemel toggie, as ek aan die tyd

weer terugdink van my jeug en joligheid,

dan kittel dit my hart van lekkerkry,

want tot vandag toe is ek dankiebly

die lewe’t soveel vreugde ingehou –

hoe jammer dat die ouderdom ons knou,

met skoonheid wegdoen en met energie;

maar dis verby nou en dit traak my nie!

*

But – Lord Crist! – Whan that it remembreth me

Upon my yowthe, and on my jolitee,

It tikleth me aboute myn herte roote.

Unto this day it dooth myn herte boote

That I have had my world as in my tyme.

But age, allas, that al wole envenyme,

Hath me biraft my beautee and my pith.

Lat go. Farewel! The devel go therwith!

(III. 469-476)

 Maar die ou suurknol Meier bekla sy lot in verstrengelde beeldspraak:

… maar ek’s te oud vir speel; my grastyd oor,

lê daar ’n droë hooityd vir my voor.

Dié witkop is getuienis van my jare;

my hart is ewe skimmel as my hare,

tensy ek soos ’n mispel is: hoe later –

wanneer dit reg is om te eet – hoe kwater,

vrot op die vullis of in strooi gedraai.

Ons ou mans is maar almal so, sou ek raai:

voordat ons rot is, is ons nog nie ryp;

so ons sal hop solank die wêreld pyp.

Een haakplek met die mens se wil is dit:

dat die stengel groen moet wees, hoe wit

die kop ook is – presies net soos ’n prei –

al is ons suf, streef ons na sotterny.

Al kan ons net op ons vermoëns borduur,

in ons geharkte as smeul daar nog vuur.

*

But ik am oold; me list not pley for age;

Gras tyme is doon; my fodder is now forage;

This white top writeth myne olde yeris;

Myn herte is also mowled as myne heris,

But if I fare as dooth an open-ers –

That ilke fruyt is ever lenger the wers,

Til it be roten in mullok or in stree.

We olde men, I drede, so fare we:

Til we be roten, kan we nat be rype;

We hoppen alwey whil that the world wol pype.

For in our wyl there stiketh evere a nayl,

To have an hoor heed and a grene tayl,

As hath a leek; for thogh oure myght be goon,

Oure wyl desireth folie evere in oon.

For whan we may nat doon, than wol we speke;

Yet in oure asshen olde is fyr yreke.

(I.3867-82)

Wat tempo betref, kan die stemmige bepeinsing van die predestinasieleer met die dolle vaart van’n gejaag agter ’n vos aan vergelyk word:

Maar weet God iets vooruit, móét dit geskied

volgens die mening van party studente,

wat inderdaad ook al die argumente

wat woed oor hierdie saak, kon uitgelê het,

als wat skolastici daaroor te sê het,

want honderdduisend het daaroor gestry,

maar ek kan nie die kaf van die koring skei

soos Augustinus, daardie vrome man,

Boethius, of Bradwardine dit kan:

of God se raadsbesluite ons beperk

tot die verwesenliking van sy werk,

en of ons vrye wil ons na gelang

van die gebeurlikhede onder dwang

van sy voorwete tog ’n keuse laat,

al is dit voorbekend in God se Raad,

en of sy alwetendheid ons noodsaak in

alleenlik ’n kondisionele sin.

Toe die weduwee en haar twee dogters al

die henne so hoor gier en weeklaag, val

hul by die deure uit en sien die vos

wat hardloop in die rigitng van die bos,

en op sy rug het hy die arme haan.

Toe skree hul hard, ‘Help, help! Keer voor!

Komaan!

’n Vos, ’n vos!’ en sit hom agterna

en ’n magdom mans wat almal stokke dra,

en Kol, ons hond, en Talbot en Gerland,

en Martjie met ’n spinrok in haar hand,

en koei en kalf, en die varke sit ook af,

doodbang vir die honde se geblaf

en die mans en vrouens se geskree daarby;

hul hardloop dat hul daarvan seer moes kry.

Hul het geskree soos duiwels in die hel.

Of hul vermoor word, krys die eende skel;

bevrees vlieg al die ganse in die lug;

die swerm bye’t uit die korf gevlug, …

*

But what that God forwoot moot needes bee,

After the opinioun of certeyn clerkis.

Witnesse on hym that any parfit clerk is,

That in scole is greet altercacioun

In this mateere, and greet disputisoun,

And hath been of an hundred thousand men.

But I ne kan nat bulte it to the bren

As kan the hooly doctour Augustyn,

Or Boece, or the Bisshop Bradwardyn,

Wheither that Goddes worthy forwityng

Streyneth me nedely for to doon a thyng –

“Nedely” clep I symple necessitee –

Or elles, if free choys be graunted me

To do that same thyng, or do it noght,

Though God forwoot it er that it was wroght;

Or if his wityng streyneth never a deel

But by necessitee condicioneel.   

(I.4424–40)’

 

This sely wydwe and eek hir doghtres two

Herden thise hennes crie and maken wo,

And out at dores stirten they anon,

And syen the fox toward the grove gon,

And bar upon his bak the cok away And cryden, “Out! Harrow! and weylaway!

Ha, ha! The fox!” and after hym they ran,

And eek with staves many another man.

Ran Colle our dogge, and Talbot and Gerland,

And Malkyn, with a dystaf in her hand;

Ran cow and calf, and eek the verray hogges,

So fered for the berkyng of the dogges

And shoutyng of the men and wommen eeke

They ronne so hem thoughte hir herte breeke.

They holleden as feendes doon in helle;

The dokes cryden as men wolde hem quelle;

The gees for feere flowen over the trees;

Out of the hyve cam the swarm of bees. ……

 (I. 3375–91)

  In1989 het die uitgewer Hans Kirsten kans gesien om die vertellings wat ek tot op daardie stadium vertaal het, te publiseer. My Keur uit die pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer het slegs 138 bladsye beslaan, in teenstelling met die 441 bladsye wat die voltooide werk sou behels. Die vreugde van die publikasie en die toekenning van die SA Akademie se Prys vir Vertaalde Werk die jaar daarna was ’n geweldige aansporing om te volhard en ek het die volledige Pelgrimsverhale uiteindelik in 2013 voltooi. Dit word later vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgegee.

Daarna het ek oor die vertaalproses begin besin en dit was interessant om te sien hoe my intuïtiewe besluite deur vertaalkundige teorie bevestig is. Ek het veral aandag gegee aan Gideon Toury se normteorie, wat postuleer dat ’n aanvaarbare vertaling van ’n literêre werk die herskepping daarvan in die kultuurkonteks van die doeltaal is. Dit vereis die ontginning van die idiomatiese rykdom wat in die doeltaal te vinde is. Ek haal vier voorbeelde uit ’n enkele verhaal aan om te wys hoe Chaucer hom tuismaak in sy nuwe omgewing deur die aanwending van tipies Afrikaanse segswyses:

… Wel, dikwels bars die pot,

en dan is dit koebaai die hele lot.

So ingewikkeld was sy redenasies,

versier met soveel slinkse fieterjasies;

met sy gladde tong was hy daartoe in staat

om enigeen ’n gat in die kop te praat.

So smeer die skurk hom aan die priester af.

… sonder die minste benul

dat die skobbejak hom van ’n kant af kul.

*

  

… Ful ofte it happeth so

The pot tobreketh, and farewel, al is go!

(VIII. 906-7).

 

For in his termes he wol hym so wynde,

And speke his wordes in so sly a kynde,

Whanne he commune shal with any wight,

That he wol make hym doten anonright …

(VIII. 980-3).

 

Loo, how this theef koude his service beede!

(VIII. 1065).

 

Al his werkyng nas but fraude and deceite.

(VIII. 1367)

Op die duur is die normteorie egter ontoereikend, want dit gaan by die betrokkenheid van die vertaler in die hantering van kultuur as magsuitoefening verby. ’n Middeleeuse werk met ’n internasionale, Katolieke agtergrond kon nie sonder meer by ’n nasionalistiese, oorwegend Protestantse ideologiese niveau aangepas word nie; dit moet noodwendig as vreemd opval. Ten einde die wese van die bronteks oor te dra, moet die vertaler die vreemde in so ’n mate ervaar dat dit vir die doelleser aanvaarbaar gemaak word – as vreemd maar nie onverklaarbaar nie. Ek haal ’n Invokasie van die Maagd Maria ter illustrasie aan:

O, Heer, ons Heer, hoe lieflik is u roem

in hierdie ganse aarde rond versprei,

want, nie net word u grote lof genoem

deur die man van hoë aansien nie, sê sy,

maar U’t dit ook uit kindermond berei,

dat selfs die baba wat die bors nog suig,

partymaal van u heerlikheid getuig.

Derhalwe sal ek my beywer om,

na my vermoë, iets te sê geskik

tot eer van U en die wit lelieblom

wat U gebaar het, ewig maagdelik;

nie dat ek na haar meerdere eer wil mik,

want sy ís eer en (naas haar Seun) altyd

die bron van guns en van ons saligheid.

O Moedermaagd, wat altyd maagd sal wees!

O bos wat brand voor Moses, onverteer!

wat deur u nederigheid die Heil’ge Gees

na ons gebring het, dalend van die Heer,

deur wie se krag u hart geïllumineer,

ontvange is die Wysheid van die Vader,

mag my verhaal u waardigheid benader.

O Liewe Vrou, geen tong kan dit vermag

om aan u mildheid reg te laat geskied,

u luister, diepe nederigheid en krag.

Want somtyds, voordat ons nog tot u bid,

is u reeds daar en bewerkstellig dit

dat ons deur u gebede lig verkry

om ons tot by u liewe Seun te lei.

Te swak is my vermoë, Koningin,

om u groot waardigheid te kan verklaar –

my kragte is vir so ’n taak te min;

dit gaan met my soos met ’n kind wat maar

twaalf maande oud is, nog ’n stotteraar,

en daarom bid ek dat u aan die lied

wat ek van u gaan sing, self leiding bied.

*

O Lord, oure Lord, thy name how merveillous

Is in this large world ysprad –quod she –

For noght oonly thy laude precious

Parfourned is by men of dignitee,

But by the mouth of children thy bountee

Parfourned is, for on the brest soukynge

Somtyme shewen they thyn heriynge.

 

Wherfore is laude, as I best kan or may,

Of thee and of the white lylye flour

Which that the bar, and is a mayde alway,

To telle a storie I wol do my labour;

Nat that I may encressen hir honour,

For she hirself is honour and the roote

Of bountee, next hir Sone, and soules boote.

 

O mooder Mayde, O mayde Mooder free!

O bussh unbrent, brennynge in Moyses sighte,

That ravishedest doun fro the Deitee,

Thurgh thyn humblesse, the Goost that in th’alighte,

Of whos vertu, whan he thyn herte lighte,

Conceyved was the Fadres sapience,

Help me to telle it in thy reverence!

 

Lady, thy bountee, thy magnificence,

Thy vertu and thy grete humylitee

Ther may no tonge expresse in no science;

For somtyme, Lady, er men praye to thee,

Thou goost biforn of thy benygnytee,

And getest us the lyght, of thy preyere,

To gyden us unto thy Sone so deere.

 

My konnyng is so wayk, O blisful Queene,

For to declare thy grete worthynesse

That I ne may the weighte nat susteene;

But as a child of twelf month oold, or lesse,

That kan unnethes any word expresse,

Right so fare I, and therfore I yow preye,

Gydeth my song that I shal of yow seye.

(VII. 453–87)

Lesers wat in die vertaalkundige beredenering belangstel, kan my proefskrif by https://repository.up.ac.za/handle/2263/74353   raadpleeg. Vir die algemene leser wil ek dit egter bondig stel dat soverre my vertaling geslaagd is, dit my huldeblyk aan die skatkamer van die Afrikaanse taal is en die eindelose ervaringsmoontlikhede wat dit ontsluit.

 

Die boek verskyn later vanjaar en word uitgegee deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

 

  •