Posts Tagged ‘Welkom’

Andries Bezuidenhout. Krake in die ekonomie se hartkamermuur

Wednesday, March 2nd, 2011

Die hele naweek draai ʼn lied van Johnny Clegg in my kop:

The warrior’s now a worker and his war is underground
With cordite in the darkness he milks the bleeding veins of gold
When the smoking rockface murmurs, he always thinks of you
African sky blue, will you see him through?

Ek was verlede naweek in Welkom. Die dorp is in 1948 uitgelê en die planne is deur Sir Ernest Oppenheimer self goedgekeur. Dis as ʼn “garden suburb” beplan. ʼn Garden suburb op die Vrystaat se vlaktes. Suid-Afrika het nogal altyd sy eie idiosinkratiese eienskappe. Swart mynwerkers het nie in die Vrystaatse garden suburbs gewoon nie. Vir hulle is hostelle – of kampongs – gebou. Hier het hulle twintig mans in ʼn kamer moes woon.

Om mynwerkers se lone so laag as moontlik te hou, het die bedryf mense verder en verder uit ander Afrikalande gaan soek. Die ekonoom Francis Wilson het bereken dat die werklike lone van mynwerkers tussen die 1900s en 1970 nooit gestyg het nie. In die sewentigs het dinge egter verander. Ná ʼn vliegtuig met Malawiese mynwerkers neergestort het, het President (“for life”) Banda sowat ʼn vyfde van die industrie se werkers eensklaps onttrek. Mosambiek se onafhanklikheid in 1975 het ook die verskaffing van werkers onder druk geplaas, omdat die nuwe regering aanvanklik gesukkel het om permitte te prosesseer.

Die gevolg is dat ʼn nuwe tipe werker in diens geneem moes word – meestal Suid-Afrikaners, wat ander verwagtinge van die industrie gehad het as landelike kleinboere. Geweld het in die hostelle begin uitbreek – sogenaamde “faksiegevegte”.

Mynmaatskappye het bekommerd begin raak oor die geweld. In 1975 het Anglo-American professor Dunbar Moodie, toe by die Departement Sosiologie aand die Universiteit van die Witwatersrand, gevra om ʼn studie te doen van die omstandighede waaronder mynwerkers in die hostelle woon. Die eerste hostel wat hy besoek het, was Nommer 1 Hostel, by Welkommyn.

Hy was geskok oor die toestande waaronder mynwerkers moes woon. Die maatskappy was besig om ʼn tweede hostel te bou – Welkom Nommer 2 Hostel – en het dit ook vir Dunbar gewys. Minder werkers is in kamers ingeprop en beter geriewe is voorsien. Ses veldwerkers het vir ses maande in die hostelle gewoon om die navorsing vir die projek te doen. Dit het later bygedra tot een van die klassieke studies van Suid-Afrikaanse werkers – Going for Gold: Men, Mine sand Migration, wat Dunbar in 1994 saam met Vivienne Ndatshe gepubliseer het.

Voor sy navorsing oor die mynbedryf, was Dunbar Moodie meer bekend vir sy studie van die opkoms van Afrikanernasionalisme – The Rise of Afrikanerdom: Power, Apartheid, and the Afrikaner – wat in 1975 gepubliseer is. Dan O’Meara se ewe klassieke Volkskapitalisme was ʼn direkte reaksie op hierdie studie van Afrikanernasionalisme as “civil religion”.

Verlede naweek, 35 jaar na Dunbar se eerste besoek aan Nommer 1 Hostel, het ek en my kollega Sakhela Buhlungu die plek weer saam met hom gaan besoek. Hier is Dunbar en Sakhela in een van die kamers van Nommer 1 Hostel:

Die stapelbeddens van sement, wat teen die muur was, is nou weg. Daar woon steeds mense in dele van die hostel, deesdae vier per kamer. Hulle werk egter by ander myne. Die meerderheid van die geboue is vervalle. Hier is wat oor is van een van die badkamers.

 

En opwasgeriewe:

Na ons besoek aan Nommer 1 Hostel, het ons na die hostel gaan soek wat in aanbouing was. Ons het ʼn stuk veld gevind.

En ʼn vervalle mynskag.

Dunbar woon nou in Geneva, New York. Hy besoek Suid-Afrika nog gereeld. Op die oomblik werk hy aan ʼn nuwe uitgawe van The Rise of Afrikanerdom. Hy het ook onlangs ʼn artikel oor N.P. van Wyk Louw gepubliseer.

Dis vreemd om te dink hierdie bouvalle was eens – eens? – die hartkamer van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Vreemd hoeveel dinge in slegs 35 jaar kan verander.

  •