Posts Tagged ‘Yvette Christiansë vertalings’

Yvette Christiansë – vertaling in Afrikaans

Saturday, April 30th, 2016

Yvette Christiansë – vertaal deur Daniel Hugo.

 

Gevang

 

Elke dag, die nuwe aankomelinge.

In hul krete herken ons ons liggame.

 

Ons liggaam, gehoorsaam, bied geen weerstand

selfs al bid ons wanneer die dag breek.

 

Dagbreek ontbrand, dié wat neus toeknyp

sê: wees erkentlik, versaak woede, betuig dank.

 

Ons sê swaar dankie. Bene wat verskilfer fluit

nie van vreugde nie, kadawers is nie papawers nie.

 

Dié wat aankom en sterf, sing nie van

blydskap nie, maar ons sterkste weiering.

 

Dié wat kortstondig leef, dan sterf,

weier, woed selfs teen die horison.

 

Die horison dring aan, ons liggaam gehoorsaam,

ons wat leef. Ons eet, slaap, ontwaak.

 

Ons ontwaak omdat die horison ons dwing.

Die horison begrens ons dae.

 

Tussen dagbreek en die horison is ons dae

’n begin en einde, genaamd oos en wes.

 

Ons verval in dié name, ons val

en leer hierdie wêreld se lesse.

 

In so ’n wêreld word die nuwelinge

gemeet aan hul krete.

 

***

Die dinge wat ons vergeet

Vir my suster

 

Daardie dag

het sy huis toe gekom

bewend

soos ’n meisie

en jy kon sien

hoe jonk sy was,

ons mamma.

 

“Ek moes laat los,”

vertel sy vir almal

wat saambondel

om die kombuistafel.

“Ek moes laat los.”

En sy het laat los

daardie week se loon,

die kraakvars klere,

droogskoongemaak.

 

Of was dit

die koek –

die Swartwoudkoek –

so baie het gebeur?

“Ek het dit só op my arm

gebalanseer gehad. En

al die skoon klere.”

 

Toe ek by die Stasie oorsteek –

“Ek het julle gesê

om nie daarlangs te loop nie,”

vat haar ma

die storie verder

soos ’n boom

wat uithou

teen ’n donderstorm,

die soort wat hael

aanbring van myle weg

met die geluid van ’n trein

wat op die huise afstorm –

 

het hy uit die skare losgeraak,

die vorm aangeneem

van ’n lang dun, getemperde lem.

Het losgeraak uit die skare,

venters: mielies

wat braai op konkavure,

grondboontjies, bakkende aartappels,

vuurwarm dennebolle.

 

Kannie onthou wat sy gesê  het nie,

sê hy. Het vir jare onthou.

Kannie nou onthou nie. Jy moet vra,

gaan vra haar. Was dit in Engels?

Het hy gevloek met daardie

eerste eis? Of was die eerste eis

net die skielike pluk? Of die tweede,

toe sy terugruk? En toe

die flits van staal,

sy ontblote, dowwe woede.

 

“Ek het dit gedoen sonder om te dink.”

En die senings

in al ons polse

span saam en pluk

aan wat ons s’n is.

 

 

(Vert. deur Daniel Hugo)

  •