Geheime plesier
Wanneer ’n digter prosa moet skryf of vertaal, word hy waarskynlik gouer moeg en verveeld as sy kollegas met die gelooide agterstewes wat ure agter ’n rekenaar kan sit om ’n roman soos ’n koraalrif te laat aangroei. Ek moes al ’n paar keer in my lewe lywige prosatekste vertaal, terwyl my aandagspan eintlik net veertien reëls lank is. (Die sonnet word nie verniet die koningin van die literêre vorme genoem nie!)
In een geval is my lyding verlig deur ’n onverwagse meevaller. Benewens die prosa moes ek ook ’n gedig vertaal!
David van Reybrouck begin elkeen van die agt hoofstukke in sy boek oor Eugène Marais en die plagiaataffêre, De plaag – Het stille knagen van schrijvers, termieten en Zuid-Afrika (Meulenhof, Amsterdam, 2001), met opeenvolgende reëls uit ‘n berymde Nederlandse vertaling van Jean de la Fontaine se fabel “La cigale et la fourmi” (“Die kriek en die mier”). Dit is ’n besonder gepaste fabel as ’n mens in gedagte hou dat die plagiaataanklag teen die Belgiese skrywer Maurice Maeterlinck verband gehou het met Marais se reeks artikels in Die Huisgenoot oor “Die siel van die mier”. (Inderwaarheid gaan dit natuurlik oor termiete.) Die Nederlandse vertaling is deur Ad. Hoofs en het in 1854 verskyn. Hier is dit in negentiende-eeuse spelling en al:
De Krekel had in zomertyd
Schier niet gedaen dan bly gezongen,
Maar nauw was de aerd met ‘t sneeuw-tapyt
Bedekt of hy vond zich gedwongen,
In zyn gebuerte by de Mier
Zyn wreeden nooddruft te gaan klagen,
En haer wat graentjes terw te vragen.
Het wordt, zwoer hy op ‘t woord van dier,
Vóór de oogstmaend ruim u weêrgezonden.
Ten prooi aen armoê, wind en storm,
En in myn’ nest geen vlieg, geen worm! …
Help my in deze bittre stonden,
Of ‘k moet van honger hier vergaen.
De Mier, helaes, houdt niet van leenen:
En wyl de Krekel stond te weenen,
Sprak zy: Wat hebt gy dan gedaen
Op al die schoone zomerdagen?
Ik zong steeds tot vermaeck der jeugd,
Ei! Moge dit u niet mishaegen!
Ha, ha, gy zongt! ik ben verheugd.
He wel! dans nu tot eigen vreugd.
In my vertaling het ek skelm ’n verwysing na Eugène Marais se gedig “Winternag” ingewerk. Dit het my ’n geheime plesier verskaf. Dié vertaling staan in Die plaag – Die stil geknaag van skrywers, termiete en Suid-Afrika (Protea Boekhuis, Pretoria, 2003):
Kriek het die hele somertyd
Niks gedoen nie en net gesing.
Die land was met ’n sneeutapyt
Skaars bedek of hy is gedwing
Om in sy buurt by flukse Mier
Sy wrede noodlot te bekla
En vir ’n bietjie graan te vra.
Hoe koud is die windjie en skraal,
My nes is armoedig en kaal.
Help my in hierdie bitter stonde,
Ek is al klaar aan die krepeer.
Maar Mier, helaas, het iets teen leen:
En terwyl Kriek staan en ween,
Vra hy: Wat het jy dan gemaak
Met al daardie mooi somerdae?
Ek wou maar net die jeug plesier,
Is dit by julle hier ’n sonde?
Ha, ha! Jy kan jouself vermaak.
Sing maar as die honger jou pla.
Die vraag is hoeveel lesers wel die moeite gedoen het om van hoofstuk tot hoofstuk te blaai om die fabel in sy geheel te lees. Beskou hierdie rubriek dan maar as ’n diens aan die lui leser!
Naskrif: David van Reybrouck skryf self besonder insiggewend oor Marais se gedig “Waar Tebes in die stil woestyn” (pp. 199-201 in die Afrikaanse vertaling). Hy vergelyk dit besonder vernuftig met W.B. Yeats se bekende gedig “The Lake Isle of Innesfree”.