kyk links of regs, as jy die wolke oorsteek
die hemelse hoenders geslag cirrusvere vlieg
die lug wapper soos ’n vlag met wolke op geskilder
’n storm hys wit manel die flapperende eend
ploegskaar wit epauletstrepe van ’n straler blou tamaties val oor België
as jy die straat oorsteek, onthou jou gebed aan die wolke
die boeing ’n niersteen in die wolk ligtend en polsend
die dooies in lopende verf in die waterlyn van die wolke
die nomaad se wolkdoek waai koploos tot op die horison
as jy die wolke deurklief, onthou links en regs
in die simuleerkajuit van slaap droom wolke tot more
die nag is vol donderwolke alles is nie pluis nie
die wolkkolosse slaap windloos soos dinosourusherinnerings
’n vliegtuig in die wolke soos ’n toegemesselde venster
’n liewenheersbesie sterf blosend in die rooidag se wolke
die wolkbank is ’n karkas vol knetterende brandblussers
kyk links of regs, as jy die wolke aan die brand steek
die dag is ’n glaskas vol boeings van die wolkredery
die wind sing in die wolke soos ’n gekettingde diva genoem ms West
as jy ingebed is in die wolke, trek die toutjie van jou nooddrome
woordwolke woordwolke voorspel weer in die volgende reel
wolke is die windkousdrome van die ontpluisde lugdiva’s
wolke wolke wolke almal met dieselfde skuilnaam
as die wolke jou deurklief, onthou die blou nou
die skapies wei wolke in die elegiese blou velde
die wolke vries vinnig ’n dag vir kleiduif skiet
alles niks sê die wolke vergewe pêl steek jou hand in eie muur
’n blou handskoen binneste buite is die universum wat wolkkolle sweet
niks niks niks meer die groot blou van my wolkverlaat
dinosourusse soos airbusse in ’n wolkehemel van klip
die wolke is ’n GPS wat sê nie links of regs maar hier net hier
die lug is ’n blou hoed vol hase sommige dae verskyn hulle
die wit armada stoom bolseile deur die lughemel
’n lugliefde ontklee in stroke lê die waaiwolke dan trek dit oop
die koepels drup swart reën val waar o waar verf Michelangelo
twoseater skor ver weg het ’n wekker geval in die einderlose wit wasgoed
die onderstebo lughawens wit duikbote wat opstyg uit die spieëls
die reis sink van bo maar die trajek droom van onder
o, verstrooide vereplaas ek is ’n vlogende en fladdderende eendagsboer
metafisiese stoomenjins wit bruide van industrie
skommel, skommel ’n handvol patryspoorte val seskant uit die wolk
gestotterde Alpe wat wieg in die Hakelaar se weersugte
nes die plofpunt die teikens tref ag hoe salig wei die skapies
dinkwolkies, mmm, ja hou sy van my, hy weet nie van haar
die reis sink van bo maar die trajek droom van onder
[c charl-pierre naudé]