Andries Bezuidenhout. Walter Benjamin se graf en kreatiewe frustrasies (waarin ek dalk meer weggee as wat goed is vir my)

“Die wind waai vuurhoutjies dood, maar hoe sterker die wind waai, hoe helderder brand die lont.”
– Walter Benjamin, vrye vertaling

Laurie Anderson is een van daardie seldsame populêre musikante wat met reg die titel “kunstenaar” om haar nek kan hang. (Helaas, as hierdie titel eers om jou nek hang, hang dit nogal; hetsy soos ʼn albatros, ʼn halter, of ʼn strop.) Sy het jare gelede ʼn pragtige lied geskryf met die titel “The Dream Before”. Sy dra die lied aan Water Benjamin op, uit wie se Über den Begriff der Geschichte (die Engelse vertaal dit heel promiskueus as “Theses on the Philosophy of History”) ʼn gedeelte van die gesprek tussen Hansie en Grietjie in die liriek kom. Dit gaan só:

Hansel and Gretel are alive and well
And they’re living in Berlin
She is a cocktail waitress
He had a part in a Fassbinder film
And they sit around at night now
Drinking schnapps and gin
And she says: Hansel you’re really bringing me down
And he says: Gretel, you can really be a bitch
He says: I’ve wasted my life on our stupid legend
When my one and only love
was the wicked witch.

She said: What is history?
And he said: History is an angel
being blown backwards into the future
He said: History is a pile of debris
And the angel wants to go back and fix things
To repair the things that have been broken
But there is a storm blowing from Paradise
And the storm keeps blowing the angel
backwards into the future.
And this storm, this storm
is called
Progress

Dis nie ʼn tipiese liriek nie. Dit rym net hier en daar (“bitch” en “witch”, “history” en “debris”), soms met halfrym (“Berlin” en “gin” met “film”). As ʼn mens nie die wysie ken nie, sou die metrum ook nogal obskuur voorkom – baie naby aan spreektaal. Maar as Laurie Anderson dit sing, amper sonder enige begeleiding, maak dit sin – dan síng dit. En dan roep die inhoud soveel op deur terloopse verwysings.

Gisteraand lees ek ʼn opstel deur die antropoloog Michael Taussig oor sy besoek aan Walter Benjamin se graf by Port Bou, op die grens tussen Frankryk en Spanje. Benjamin, van Joodse afkoms, was in September 1940 besig om van die Nazi’s te vlug. Toe dit duidelik word dat hulle nie oor die grens sou kon ontsnap nie, het hy selfmoord gepleeg. Niemand het ooit die tas met geskrifte gevind wat een van sy oorlewende reisgenote gesê het hy gedra het nie. Volgens oorlewering het Benjamin gesê die manuskrip daarin is belangriker as sy lewe.

Hy is onder die naam Benjamin Walter in die Katolieke deel van die begraafplaas begrawe. Hannah Arendt kon nie die graf opspoor toe sy Port Bou besoek nie. Ten spyte daarvan het sy geskryf: “Dit is by verre een van die mooiste en mees fantastiese plekke wat ek nog in my lewe gesien het.” Taussig skryf dat die inwoners van Port Bou ʼn naam vir die wind daar het: transmontaña. “Dit maak jou mal, sê hulle.” In 1994 is ʼn monument ter ere van Benjamin hier opgerig.

Ek haal nou slegs ʼn paar feite aan, uit ʼn opstel vol nuanse oor kwessies soos vlugtelinge, taal en hoe ons enkele gestorwe helde en miljoene naamlose dooies onthou. Dis nie die tipe opstel wat ʼn mens in ʼn paar sinne kan opsom nie, so ek laat dit maar daar.

Dit het my nietemin aan ʼn gedig van Breyten Breytenbach herinner. Dit het ʼn rukkie geneem om dit weer op te spoor. Ek vind dit op bladsye 20 en 21 in Papierblom, wat Breytenbach as Jan Afrika publiseer het. Die gedig se naam is “grens” met ʼn onderskrif wat lees: “(by gedagte aan W. Benjamin)”. Aan die einde van die gedig staan: “Port Bou, 25 Februarie 1994”.

Ek wonder of Breytenbach Port Bou besoek het voor die monument opgerig is. Dis ʼn pragtige gedig. Dit beskryf die dorpie, die bergpieke, die wind, selfs ʼn stuk plastiek wat waai. Dit eindig só:

gerugte sal kom van verre lande
en reise van die donker hart

hart: ook hier: hemels
om by tye skielik
tussen hemel en aarde
op te hou lewe

Daar is slegs ʼn suggestie van die dramatiese omstandighede waarin Walter Benjamin sy eie lewe geneem het in die gedig. Breytenbach onderspeel dit soos slegs iemand wat aan die verkeerde kant van die geskiedenis beland het dit kan doen; iemand wat persoonlik die prys moes betaal vir die winde wat in die naam van Vooruitgang waai.

Ek wens ek kon soos Breyten Breytenbach skryf. Ek wens veral ek kon so liries soos hy skryf, dat my woorde ook so lig kon dra aan die bondels (of boggels?) wat die geskiedenis op ʼn mens se rug kom laai.

Maar ek is die ou aan die ander kant van die geskiedenis – die een wat in die 1980s met die geweer deur die township gery het, die een wat Namibië in ʼn uniform leer ken het. Ek wens ek kon soos Loftus Marais skerts en sê dat betrokke literatuur veral nuttig is as dit opgevou word en onder ʼn tafel se poot ingedruk word om die ding te stabiliseer. Ek wens ek kon met oorgawe soos Francois van Coke sing:

ek herinner myself aan my pa
hulle moes grens toe gaan
dis nie my skuld nie

As ʼn mens oor kwessies soos skuld skryf, soos ek in Retoer probeer doen het, moet die vorm van die gedigte tog sekerlik iets van die inhoud kan dra. Ek het gedink dat ek hierdie las met Retoer uitgeskryf het, dat ek bely het en boete gedoen het. Maar nou is ek nie meer so seker nie.

Hoekom dra my nuwe digpogings so swaar, Calvinisties en Germaans swaar? Hulle wil maar net nie sing nie. En ek weet nie of die antwoord in versvorms lê nie. My ander minnaar en minnares, die verfkwas en die kitaar, trek in verskillende rigtings.

_____________________________

Jan Afrika. Papierblom (1998, Human & Rousseau).
Laurie Anderson. Strange Angels (1989, Warner Bros).
Fokofpolisiekar. Monoloog in Stereo (2005, Rhythm Records).
Loftus Marais. Staan in die algemeen nader aan vensters (2008, Tafelberg).
Michael Taussig. Walter Benjamin’s Grave (2006, University of Chicago Press).

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •