Vergange Sondag lewer ek my kort openingstoesprakie by ’n kunsuitstalling. Wonderlike skilderye deur Marcella de Boom, andersins bekend as my ma.
As ek nie ten tyde van die uitstalling heeltemal by my sinne was nie, is dit omdat die skilderye my so oorweldig het. Sowat van metafore en ander wêrelde dat mens vir ’n jaar nog kan besin daaroor. Met die intrapslag bevestig ’n ander digter my gevoel. “Hier kan mens ’n paar gedigte afskryf”, is sy mening. Inderdaad. En nie net uit die prentjies nie.
Ek is al lankal vies vir die Spaanse kunstenaar Miró dat hy, benewens sy heerlik surrealistiese skilderye, ook sulke fantastiese titels daaraan kon heg. ’n Druppel dou ontwaak vir Rosalie. Vrou en voël in die maanlig. Persoon met drie bene. ’n Hond blaf vir die maan. Hy betree mos nou op ’n digter se gebied! Dan mag mens hom mos besteel.
Oor “diefstal” van hierdie aard het ek ook al lankal nie meer skuldgevoelens nie. Is dit dan nie intertekstualiteit nie? Met ’n beeldende kunstenaar nie ’n halfmyl te voet van my af nie, gereeld beskikbaar vir ’n koppie tee of ’n glasie wyn, hoe kan dit ook anders dat mens mekaar kruis en dwars inspireer. By beelde (images) en idees bly dit ook nie. As sy sulke mooi titels uitdink vir haar skilderye, dan dief ek dit op die daad. Die dood is ’n mooi blou blom? Hou hierdie spasie dop …
NS: Vir nog prentjies, gaan loer by www.marcelladeboom.co.za