Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
8 June 20094 September 2013

Andries Bezuidenhout. ‘n Vertaling van ‘n vertaling

Bernard Odendaal het op sy blog geskryf dat om ʼn vertaling van ʼn vertaling te lees is soos om iemand deur ʼn dubbele sluier te soen. My Pools is egter so swak dat ek nooit sal kan droom om hierdie een se oorspronklike weergawe te lees nie. Iets sê ook vir my dat Afrikaans se klankkwaliteit die grinterigheid van hierdie gedig beter kan raakvat as Engels. Ek wou egter nie die onsydige vorm in Engels na die manlike vorm in Afrikaans verander nie, wat grammatikaal beter sou werk. Ek weet nie wat die geval in Pools is nie. My vertaling is van ʼn vertaling deur Stanislaw Barańczak en Clare Cavanagh. Aanvaar tog maar my poging as ʼn stukkie onvolmaakte bewondering vir die wysheid van hierdie fenomenale digter. Ek hoop nie sy gee om nie.

HAAT

(ʼn Vertaling van ʼn vertaling van ʼn gedig deur Wislawa Szymborska)

Kyk hoe doeltreffend is dit steeds,
hoe dit sigself lenig hou –
die haat van onse eeu.
Hoe maklik wip dit nie oor die hoogste hindernisse nie.
Hoe vinnig bespring dit ons nie, snuffel ons uit.

Dis nie soos ander gevoelens nie.
Beide ouer en jonger tegelyk.
Dit gee self geboorte aan die redes
wat dit aan die lewe hou.
As dit slaap, rus dit nooit vir altyd nie.
En slapeloosheid maak dit nie moeg nie; dit soog dit.

Een godsdiens of ʼn ander –
wat dit ook al oorhaal, laat aanlê.
Een vaderland of ʼn ander –
wat dit ook al ʼn voorsprong gee.
Vir eers werk geregtigheid ook goed
tot haat ʼn eie momentum kry.
Haat. Haat.
Die verdraaide gesig met ʼn grynslag
vol erotiese ekstase.

O hierdie ander gevoelentjies,
lustelose swakkelinge.
Wanneer het broederskap al ooit
gehore versamel?
Het meegevoel
al eerste gekom?
Sal twyfel werklik die gepeupel opsweep?
Slegs haat het net wat dit vat.

Talentvol, pligsgetrou, hardwerkend.
Is dit eers nodig om al die komposisies op te noem?
Al die bladsye tot ons geskiedenis toegevoeg?
Al die menslike matte wat dit gegooi het
oor menige stadsplein en voetbalveld?

Wees nou eerlik:
dit weet hoe om prag te skep.
Die asemrowende vuurgloed in middernaglug.
Manjifieke bomme wat teen skemer bars.
Die inspirerende patos van ruïnes kan jy nie ontken nie
en ʼn bepaalde ontugtige humor te vinde
in die stewige pilaar wat uit hul midde punt.

Haat is die meester van kontraste –
tussen ontploffings en doodse stiltes,
rooi bloed en wit sneeu.
Bo alles word dit nooit moeg
van die leitmotif nie – laksman
wat bo ʼn bekakte slagoffer uittoring.

Dis altyd gereed vir nuwe uitdagings.
As dit ʼn bietjie moet wag, sal dit.
Hulle sê dis blind. Blind?
Dit het ʼn skerpskutter se honger visier
en staar stip die toekoms in
soos net dit kan.

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

Andries Bezuidenhout. Verdeelde huis – vertaling →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Elisma van Zyl. Tydloos
  • Paul Kloppers. hemelrog
  • ND Cronjé. navigasie
  • Digtersprofiel: Vincent Oliphant
  • ND Cronjé. wiskunde

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d