Daar moet ’n groot virtuele begraafplaas wees vir vermoorde woorde. Daardie arme slagoffers van die kill-your-darlings beleid wat sonder grafskrif tot stof terugkeer. Nie dat ek dit teenstaan nie, ek dink dis ’n baie goeie beleid. Wat jy as dierbare kwekelinge ag, sit dalk met ’n lekkende hart of ’n gesplete verhemelte wat jy verseg om raak te sien. Maar o dis so moeilik! Vra nou maar vir iemand wat swaarkry om die wortelsaailinge uit te dun of die bome om verskoning vra wanneer sy ’n takkie moet snoei. Iemand wat al inderdaad daardie lekhart of oop verhemelte hondehemel toe moes stuur. Elke mank reël of verminkte rym is vir my hartseer. As hulle maar eerder nie gebore was nie.
Daar is egter iets wat my meer tragies stem – dat die briljante reëls, die uitsonderlike frases, dikwels die digter se vangnet vryspring. Hulle is soos wilde perde wat in die nag aangekom het, onder ’n donkermaan of ’n spesiale saamval van planete, en vir hulle kry jy nie in ’n kraal nie. En al sou jy hulle kon omsingel en verdoof, wil geen regdenkende sin met hulle geassosieer word nie. ’n Ruimte val rondom hulle oop en as jy weer sien, staan daardie blink een op sy eie, uitdagend. Selfs met mekaar het hulle geen verwantskap nie.
Nie alles wat poësie is, wil gedigte word nie.
In hierdie tyd waar die literatuur skynbaar voortdurend om vernuwing vra, sal iemand dalk nog ’n bundel van een-reël gedigte bedink. So ’n woordelys van wilde frases. (Daar’s nou ’n aweregse frase opsigself). Maar tot tyd en wyl dit gebeur, moet mens hulle maar hul vryheid gun.
Nou sit ek soos ’n wafferse cowboy soms op die kraalheining en uittuur na die wilde woorde wat teen die horison draf en droom van ’n kudde wat die wêreld sal verstom. Is daar iewers ’n vreemdeling wat vir woorde soos vir perde kan fluister?