Ronel Nel. Met kinders soos met kerse…

[Met apologie aan Antjie Krog vir die opskrif]

 

My geliefde se kids is by ons vir die vakansie. Wat ‘n belewenis. Skielik het jy dae om jou waar jy nie net kos-episodes moet onderhandel nie. Niks meer vinnige Pro Vitas met kaas vir middagete of ’n glas wyn vir aandete (soos dit gepas werk as jy in die week alleen by die huis sit en skryf) nie. Al die voedselgroepe kom skielik ter sprake. En: Wat Drink Ons? En: Wat Eet Ons Vanaand? En belangrikste: Wat DOEN Ons More???

 

Dus sit jy nou ook – benewens jou werk wat jy tussen 2 en 5 in die nag moet klaarkry – met die plig van tydgrepe ontwerp wat dinge insluit soos Paint Ball speel, tweede-handse hippiewinkels besoek en Sims leer bemeester.

 

Hei. Ek gee nie om nie. Hulle leer my opnuut en vernuwend dink.  Wat hét ek al die jare met my tyd gedoen? Behalwe nou oorleef en begroot, natuurlik.

 

Ek het die afgelope twee dae Green Day se twee nuwe songs leer ken, die Transformers-kultuur her-ontdek en diep navorsing saam met Kai gedoen oor Kung Fu-flieks. More gaan ons ten pin bowling speel en Vrydag gaan ons vegetaries eet by die Buddhiste-tempel naby Bronkhorstspruit. Saterdag gaan ons na Piet Botha en Jack Hammer se 25e verjaardag by Cafe Barcelona en Sondag gaan ons piekniek hou in die Botaniese Tuine. Na ’n lang ompad deur die inheemse vetplant-afdeling, natuurlik.

 

Maandag, as hulle huistoegaan, gaan ek wonder: Wat Om Te Doen Sodat Ek Voel Ek Leef?

 

Hulle is 12 en 16. Hulle is by daardie bloeiende oorgangsjare wanneer jou eerste liefdesteleurstelling gelykstaan aan die uitwissing van die dinosaurusse, of waar die feit dat jy nie vir die eerste krieketspan gekies is nie, gelykstaan aan 9/11. Vir hulle is die lewe nog ’n ope boek, ’n ongeborselde hond, ’n jong vulletjie.

 

Hulle lees hom met nuwe oë, hulle kam hom uit, hulle ry hom bloots. Elke nuwe belewenis is ’n hoofstuk. Hulle steek jou lewe weer aan die brand. Kry eers die lont, trek hom op sy langste, dompel hom in die was van wese – en flitsig dans jou kers weer.

 

Ek leer daagliks. Dit maak mens lus om te skryf. Om nuwe woorde te ontdek, of selfs te skep.

 

Dus, vandag se tien woorde is:

 

Vars Vrolik Nuuskierig Laf Lag Lewe Snik Rou Mia Kai

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •