Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
15 July 200915 July 2009

Reaksie op Charl-Pierre & Danie

Marlene van Niekerk

Hallo Louis,

Ek het die repliek van Charl-Pierre gelees, en ondertussen ook ‘n stuk (Worshond) by Potch gelewer deur  Danie Marais, vol allerhande toespelinge op ons onderhoud op julle webblad. Ek het geen voorskrifte of definisies van poësie nie!  Asseblief! Dit was maar net off the cuff reaksies op hedendaagse fenomene van vernaamlik FLOUHEID in te veel nuwere Afrikaanse digters se werk wat my persoonlik irriteer, geen preek oor die algemeen nie, al neig my styl ook na stelligheid! Al wat saak maak is watter gedigte oor vyftig jaar nog gaan bly staan en deur wie hulle vertaal en gebloemlees gaan word vir watter lesers. Ek lees Pessoa en Szymborska en Neruda in vertaling, dit is my maatstaf vir Afrikaanse poësie, dis waarna almal volgens my moet strewe:  om eendag vertaal te word en deur internasionale poësielesers waardeer te word. Dis al.

Die wat belese is en na minder strewe, nou ja, met wie wil hulle vergelyk word? Verder: Natuurlik is dit cool en lekker en volledig okay as jy gelees wil word deur jou local digterbroers en wedersyds bewonderende kring van  medestanders en as dit vir jou genoeg is. Almal moet presies doen wat hulle moet doen, en daar moet plek wees vir alles en almal, hoe goed of sleg hulle wil wees, uiteindelik gaan dit ook maar net oor die hoeveelheid sports wat jy wil maak en die hoeveelheid plesier wat jy kan beleef. Ons is maar kort hier op deeske kloot en wat maak hoegenaamd enigiets saak behalwe wysheid en liefde en ‘n paar wildewolfritte. Natuurlik gaan dit, na my beskeie mening in GOEIE poësie oor niks anders as kicking arse, oorspronklikheid, magic moments en nuwe insigte en die oopbreek van die taal, hoe dan ook, nie. En nee, ek dink nie mens kan mense eintlik leer hoe om dit te doen nie, jy kan hulle net ‘n paar kritiese leestools in die hand gee, dis al. Ek dink ek word bietjie verkeerd gelees hier deur die jong manne. Naude sien my as ‘n soort Afrikaanse litererêre/poëtikale tradisionalis, maar my benadering re betekenis stoel grotendeels op die idees –  oor die materialiteit van taal! –  van Maurice Blanchot in sy essay “Literature and the Right to Death”!) 

Ek stuur hiermee nog twee gedigte vir my bladsy, politieke praatverse ‘n paar jaar gelede geskryf, ek dink nie hulle is so waffers nie, meer van die orde van outpourings, maar laat hulle vir hulleself spreek.Ek stel geen grense aan die poësie nie! (Wie sal nou stupid genoeg wees om dit te wil doen?!) Ek is alleen nie lus om so dikwels verveeld of embarrassed te wees, of in frustrasie te gryp na ‘n bundel van Hughes of Dickenson byvoorbeeld, as ek Afrikaanse gedigte lees en lus is vir goeie poësie nie, dis al. Ek is lus om die hele tyd uitnemende, skokkende, kragtige, bitterlik vervreemdende of bedroewende of “aangrypende” en in ieder geval moerse woordvaardige kommunikatiewe events mee te maak wat my in my glory in rattle of met ongekende emosies bewasem of met lewertergende gedagtes betas, as ek nuwe Afrikaanse poësie lees, dis al! En ek kry dit te veel kere NIE!  Dit gaan my net om een ding, en dit is dat die werklikheid so vreemd en wild as moontlik gemaak word en dat die taal in die proses oor sy eie mik heen in sy goue gort in gekasty en bemin en geloodglans word. (En dit hoef absoluut nie noodwendig met bollende neusdampe en klinkende simbale te geskied nie, dit kan natuurlik ook op die wyse geskied van doodstil op een been staan, so stil, so stil, dat die meeue in jou hande kom nesmaak. Hoe sê die Chinees: geen woorde gebruik om die onverwoordbare mee uit te druk, is beter as om tien woorde te gebruik om die onverwoordbare mee te uit te druk….)

Wie gaan byvoorbeeld die Afrikaanse ballade skryf oor die verkeersamptenaar met die naam Xenophone Wentzel?! In gister se koerant gesien! Hoe klink die geluid van Vreemdeklank Wentzel??? Hoekom maak jy dit nie ‘n kompetisie vir Versindaba nie? Die lied van Xenophone Wentzel. (Miskien toe hy klein was ‘n roerdomp in die riet gehoor….)

Sover as wat dit die “erotisering van die niet” betref in my ou poempie oor sononder by die dam met musiekies  (eish! – sien, dis nou wat ek bedoel met die probleem rondom betekenis!!!) – daaroor sê ek vir Charl-Pierre alleen: ahem, bru, stay cool, man!

Verder, ek vra die vraag: Dink jy nie Versindaba moet die deure oopgooi en internasionaal kommunikeer nie? Ook Nederlandse en Engelse en Duitse en Franse en Spaanse en ons ander inheemse tale se poësie, in vertaling waar dit kan, insluit nie? Dink jy nie die debat oor kwaliteit en die denke oor poësie sal daarby baat nie?

Marlene

(Lees ook die twee nuwe verse van Marlene van Niekerk! – Red.)

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Vertelling as tegniek in die liriese vers
Andries Bezuidenhout. Teen digterlike tangverlossings →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d