In my voorlaaste blogaflewering het ek vertel dat ek drie “internasionale” digters sal vra om iets te skryf oor die belang van die “lokale/plaaslike”. Overgesetsynde het ek die digters gevra om te skryf oor die spanning tussen die “provinsie” en die “kosmopool”, indien so ‘n spanning vir hulle bestaan en indien dit vir hulle belangrik is. Hier volg die eerste aflewering, deur Breyten Breytenbach, getitel “Klinkdink”.
Beste Charl-Pierre:
Dankie vir die uitnodiging om saam te mag sing in die koor. Wonderlik wat alles met ‘stem’ vermag kan word – instem, saamstem, uitstem, ontstem… ‘n Tydjie gelede was ek by ‘n digtersfees in ‘n verre land. Daar het ek ‘n jong man uit Nieu-Zeeland ontmoet, self nie digter nie maar die nogal stemmige katelknaap van die vurige Duitse digter-kunstenaar, Rebecca Horn. Die kêrel is saksofonis van nering (dis nié ‘n skunnige toespeling nie). Hy illustreer toe hoe hy by o.a. die Koerde en die Tibetane die verstommende kuns van meerstemmigheid aangeleer het: teen die volgehoue dreunsang van ‘n grondtoon diep in die keel bring hy ‘n spelende, ritmiese tweede stem voort met tong en tande en lippe.
Ek hou van hoe jy jou gedagtes afstem op die skitterende en opwindende onderhoud wat met Marlene van Niekerk gevoer is. In die bloedskinderlike omgewing van hedentydse Afrikaans is dit verfrissend dat hierdie dieper gesprekke loskom sonder die dreigemente van ‘n vuurhalsdood.
‘Ons’ kan ‘n meerstemmige en daarom singende ‘ek’ wees. Hopelik nie te vals nie. ‘Ek’ (die ek) is in elk geval altyd, voorlopig ten minste, die kleinste gemene deler. En in tradisionele Afrika, soos jy weet, is saamstem ‘n gesprekvoering, is gesprekvoering ‘n saamstem en ‘n beaming waar aksentverskuiwing slegs kan gebeur met ‘n saam-saam se vloei binne die oënskynlik soomlose stroom. (Ek praat nou nie van die riool waar naamlose keffers op webwerwe kots nie.)
Van die os op die jas bring dit my by die vrugtelose teenstelling tussen ‘metropool’ en ‘plaaslik’.
Dis tog ‘n dialektiek waar die een ‘pool’ die ander in fokus en verandering bring. (Genoeg gesê van Szymborska en van Milosz.) Hier by die Gorée Instituut werk ons met die heen-en-weer-en-verder dinamiese interaksie tussen ‘ruimte’ en ‘beweging’.
In ‘n bundel opstelle wat binnekort in Amerika verskyn onder die titel van Notes from the Middle World, en ook in Suid-Afrika versprei gaan word (want ek is basies ‘n selfslaner) probeer raak ek aan die skeppende spanningsvelde tussen hierdie veronderstelde teenoorgesteldes. Die Middelwêreld is in sekere sin ‘n beweging tussen die ruimtes van die plaaslike en die metropool (om dit so te noem; dit kan ook die kosmopool wees) waartydens patriotiese aanhorigheid verval en onbevraagtekende identiteit skielik in die spervuur kom. Onder die ‘nie-burgers’ van die Middelwêreld plaas ek bv. Kavafis en Kafka en Pessoa – want wie was tegelyk so plaaslik en so universeel? – en Morandi, ‘n Italiaanse skilder wat byna nooit sy Toskaanse dorpie verlaat het nie en sy hele lewe lank dieselfde stillewe van bottlels en vase geskilder het… en tereg allerweë as ‘n grenslose modernis gesien word. ‘n Boeddhistiese oefening is om in kin hin te loop, naamloos en selfloos en betekenisloos maar met intense toespitsing op die allesomvattende gevoel en ervaring van die kontak tussen voet en grond.
My ma het altyd gepraat van ‘n soom as ‘n oewer. Die naat, sou mens kon sê, is ‘n saam-praat (‘n maat) wat help keer dat jy nie skielik kaalgat op straat staan nie.
In jou aantekeninge het jy die beiteltjie geslyp tot hy klink; dis dus nie nodig om kommentaar te lewer op sulke klinkklare gedagtes nie. Ek wil tog byvoeg dat ek hou van jou siening dat daar ‘n oneindige (oneindende) vermenigvuldiging van betekenisse is in die wêreld, in hoe mens die wêreld ervaar, in die tussengaande en tussengangende (be)skrywing van die eindelooshede wat ons poësie noem. Elke digmaking is ‘n nuwe manier om die ontplooing van oneindigheid te probeer plooi, te bedink en te beklink. Ek glo dat ‘betekenis’ ‘n oopgaande proses is wat juis so en daarom sin maak, in teenstelling met ‘definisie’ as grype na handvasvatsels.
As toevoeging tot jou verwysings na die be-oewerende loop, dikwels, van wat op die oog af ‘n uitgesponne vers skyn te wees, sou mens ook kon praat van die latere werk van Arthur Rimbaud.
Ek wil beweer dat enige woord, en meer nog sodra daar twee woorde is, ‘n ‘verhaal’ word. Die kennisname van die ‘werklikheid’ – ‘n woord is werklikheid, ‘n gedig is werklikheid – is ‘n verhalende aksie (die ontsetting van assossiasies). “As jy ‘n hand het / het jy verband” – wat nogal help wanneer mens jou met die beitel raaksteek in ‘n poging om die styl te versteek.
Filosofiel is die loof as siel met ‘n puntlose uitroepteken.
Jy sê (en ek stem) dat om tot verhaal te kom is om verteer te word. Wie of wat het jou (jou liriek, die lied) ingesluk? Watter nag? Ek onderskryf jou stelling dat dit die metafoor is – maar, vir my, nie die simbool nie. Metafoor is beweging, ontsluiting van verskuiwing, terwyl simbool redelik staties is al dra dit ook die resonansie van die simbaal, omdat dit gewoonlik na ‘n bekende gelykstelling verwys. Die verhaal is ‘n liriese verliederliking met die metafoor as mond.
Hier is vir jou nog een van Kafka se verskriklike samesmeltings van inhoud en van vorm:
Twee mense in die gehoor kom op die been aan die einde van die gevierde Digter se lesing. Die een roep luidkeels: “hoera! hoera!” Die ander een skree: “hoere! hoere!” Toe kyk hulle na mekaar met trane in die oë.
die weerspreking is daar:
hoe om die woorde te ry
asof hulle betekenisvlees is
en in die beweging ‘n ek te verwek
wat jy lief mag kry
klanke verlyf in ritme
en die koppeling verhaal
tot taal en vertaling
totdat die vliesie soos ooglede bewe
om sin en sinne singend te bevry
en aan die pen te laat ry
in die spreekspelspeeksel van ekstase…
in waarheid was lippe natuurlik klippe
wat hulle voor wou doen as wippe
opdat jy mog voël jy lewe met die handskoen
om die son te soen: nou sny
kykglasskerwe die vlieëversameling
van ‘n gedig tot daardie oergesig
wat jy hartklop vir hartklop
van stamel tot aanhoustilte verskryf
Hartlike groete,
Breyten Breytenbach