Met ‘n dowe oor

Ek het ’n vraag aan die bedrywers van linguistiek en die plegers van musiek: Sou mens ’n taal aan sy toon en ritme kon herken, al “hoor” jy geen woorde nie?

   Want sien, staan nou net ’n effe buite hoorafstand van ’n gesprek tussen mense van wie jy g’n niks weet nie. Ek bedoel nou só dat jy die gesprek kan hoor, maar nie die woorde kan onderskei nie. Ook sommer buite sig, sodat kleur of geur of gelaatstrekke nie die eksperiment beduiwel nie. Raai nou watter taal hulle praat.

   Tensy dit Indonesies of Kroaties of Litaus is, gaan jou raaiskoot waarskynlik nie te ver verkeerd wees nie. Ek is seker dat mens byvoorbeeld kan onderskei of daar Engels of Afrikaans of Sepedi gepraat word, al hoor jy geen dooie woord nie.

   Hoekom? Dit laat ek aan die taalkundiges om te verduidelik. Wat ek voor wens, is dat mens soms ’n taal kan ont-weet om beter daarna te luister. Is poësie in vreemde tale so mooi omdat dit ’n snaaksigheid is, of dalk omdat ons net die musiek daarvan kan verstaan?

   Ek sou so graag soms na Afrikaanse poësie wou luister met ’n dowe oor. Sonder begrip of interpretasie, net die suiwer metrum en musiek. Soos wat ’n baba dit moet hoor. Ag, lees tog vir die kleingoed poësie, al lees jy Breytenbach of Yeats of Rilke! Iewers moet daardie herinnering vassteek. En as jy Mandaryns of Chichewa of Moldowies magtig is en jy klop aan my deur met ’n vers of twee, dan nooi ek jou binne sonder ’n woord.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •