Philip de Vos. van mooi dinge in die lewe
Al wat ek vandag nog kan onthou is dat ek maar bra vieserig gevoel het om tien sjielings te moes betaal net om te hoor dat my eerste kennismaking met die wêreld die kraamsaal se vloer was.
Ewenwel, hier sit ek nou en ek moet almal wysmaak dat ek álles van allerhande wyse dinge weet terwyl my grootste nalatenskap waarskynlik die volgende diep stuk poësie gaan wees:
Hallo walvis,
hoesie water?
Nat, ou pellie,
sien jou later!
Ek kan ook sommer dadelik my kop op ‘n blog sit om almal te verseker dat daar net die mooi en edele dinge van die lewe hier gaan verskyn, anders as wat onse Steve op sy blog kwytraak, want die enigste lelike woord wat ek ken is die woord ghwano en nou dat ek dit gesê het, voel ek amper ek moet my mond met seepsoda gaan uitwas.
Nee, in plaas daarvan om aan die lelike dinge van die lewe te dink, dink ek liewers die heeldag deur aan mooi woorde soos amandel en uroloog en watter ander woorde daarmee rym. En op die ou end kan ek dalk ‘n juweeltjie op ‘n skoon vel papier neerplak.
‘n Paar jaar gelede toe ek nog opera gesing het, het ek een oggend by die operahuis aangekom met my kop vol allerhande rymwoorde en het ek met die ander sangers in die kafeteria gaan gesels. My kopvel het skielik begin jeuk, en toe ek my kop krap, val ‘n verkleurmannetjie uit my hare en op die tafel neer. Een van die sangers het opgemerk: “Sy kop is vol goggas!” En partykeer wonder ek of dit miskien dít was wat daardie frenoloog destyds met haar vingers gevoel het en te skaam was om vir my te sê.
En om tien sjielings te betaal om te hoor jy het op jou kop geval, is mos darem ‘n bietjie dik vir ‘n daalder.